Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Beesvleisbredie met kool & appel

Jun 15, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Mains, Meat

Kosblik 101

Spyskaart
Beesvleisbredie met kool & appel

Die geurigheid van ’n winterbredie bring vir elkeen sy eie herinneringe en almal het hul gunsteling. Dalk is dit tamatiebredie, waterblommetjiebredie, of ’n bredie met kluitjies bo-op. Soveel groente is lekker in ’n bredie en verskillende snitte stowevleis kan gebruik word, solank dit net lank en stadig gaar word, tot dit sag en geurig is.

Vir hierdie bredie word ’n paar basiese bestanddele in ’n smullekker winter-gesinsete omskep. Dis sommer ook ’n eenpotgereg, want daar is genoeg groente om dit vullend te maak. Die aartappels en wortels maak dit ook amper onnodig om die bredie op nog ’n stysel te eet en aangesien daar nog kool en appel ook bygeroer word, is dit sommer ’n maklike manier om juis ‘wit stysel’ te vermy.

Daar is ’n paar maniere om seker te maak dat ’n bredie heerlik geurig is. Die eerste stap is om die vleis vooraf vir ekstra geur te verbruin. Onthou om die vleis in sarsies te verbruin en nie alles gelyktydig in die warm kastrol te gooi nie. As die kastrol te vinnig afkoel, stoot die vleis vog uit en kook dit eintlik, in plaas daarvan dat dit soteer. Deur die vleis apart te soteer, kan enige oortollige vet ook maklik afgeskink word.

Daarna kan groente soos uie en knoffel of seldery ook eers bietjie gesoteer word en selfs speserye is ekstra geurig as dit eers bietjie gebraai word. Doen dit sommer saam met die uie en ander groentes aan die begin van die gaarmaakproses. Sodra al die bestanddele in die kastrol is, is die groot geheim dat die vleis lank en stadig in vloeistof moet gaar word. Moenie dit te vinnig laat prut nie, dan is die vleis maklik droog.

Die vloeistof in ’n bredie kan wissel van water en geurmiddels tot aftreksel of selfs sterk Rooibostee. ’n Gekoopte aftreksel kan maklik baie sout wees en dis nie moeilik om self te maak nie, selfs al prut jy net water met ’n paar speserye en groentes vir ’n tyd lank. (Sien ook die skakel vir ’n aftreksel in die resep hier onder.) Die lekkerte van ’n bredie is ook dat dit die volgende dag selfs nog lekkerder is, so as jy vroegtydig beplan, is dit eintlik min moeite. Sodra die bredie aan die gang is, is die meeste werk mos gedoen en dan is môre se aandete gereed.

Hierdie bredie kom oorspronklik uit Cooking from the heart se eerste resepteboek. Dit het nie ’n tamatiebasis, soos baie ander bredies nie en die natuurlike soet smake van die wortel, kool en natuurlik die appel, gee dit ’n besonderse geur. In Cooking from the heart val die klem, soos met hierdie resep, op alledaagse bestanddele waarmee gesonde en maklike gesinsetes voorberei word. Onthou om enige oortollige vet van die vleis af te sny, sodat dit nie op die bredie dryf en onaptytlik lyk nie. As die bredie die vorige dag berei is, kan nog vet maklik afgeskep word soos die bredie afkoel. Nog ’n maklike manier om die vetinhoud van die ete te beheer. Die tuisgemaakte aftreksel waarna ek verwys het, kom ook uit die boek. Hier is ’n skakel na die resep: http://cookingfromtheheart.co.za/cfth-recipes/book-1/soups/homemade-chicken-stock-01/ .Selfs hoenderaftreksel kan vir die vleisbredie gebruik word, veral omdat dit nie ’n tamatiebasis het nie en ’n meer delikate smaak het.

JAZZ™ appels is een van die opwindende nuwe variëteit appels wat nou in seisoen is. Die appel is bekend as die ‘perfekte peuselhappie’, maar jy kan dit beslis op nog maniere in die kombuis gebruik. Die bredie is ’n goeie voorbeeld, want kool en appel is ’n bekende kombinasie en kool word dikwels in ’n bredie gebruik, so die sinergie van geure maak juis sin. Beide die vars bestanddele kook redelik vinnig gaar, so dit word eers teen die einde van die gaarmaaktyd bygevoeg. Dit verhoed dat die kool en appel oorgaar word en hul smaak, tekstuur en voedingswaarde in die proses verloor. Om vars bestanddele gereeld in jul etes in te sluit, is alles deel van ’n gesonde leefstyl en met geurige seisonale produkte is dit soveel makliker.

Die natuurlike soet geur van die appels dra verder by tot die geur van die bredie en as mens met vars bestanddele ’n lekker geur aan ’n gereg kan gee, is dit aansienlik gesonder as met ’n voorafbereide of versoete opsie. Moenie die appels skil nie, want so behou dit meer voedingswaarde en gee die bredie ’n baie mooi aptytlike kleur. Lees meer op https://jazzapple.com/za/ of volg hulle op sosiale media vir nog idees met JAZZ ™ Apples (@JazzappleZA)

Kool is een van daardie bekende bestanddele wat anders as net in die kombuis, ook in ons taal opduik. Daar is ’n paar bekende idiome soos, ‘so by my kool’ – op my ere woord/op my woord van eer. As die ‘kool die sous nie werd is nie’, dan weet mens nie of iets die moeite werd is nie. In dié resep se geval, is die kool wel die bredie werd.

’n Bredie is mos regte koesterkos, maar nie sommer iets wat jy by ’n restaurant gaan bestel, tensy hulle weet wat hulle doen nie. By die ATKV se Koswerf-restaurante, is daar dikwels baie lekker koesterkos op die spyskaart. Dalk nie elke dag ’n bredie nie, maar heelwat ander lekkertes op hul spyskaart, so as julle dalk die vakansie ’n draai daar gaan maak, bespreek sommer betyds ’n tafel.

Koswerf bied ook heelwat konferensies en spesiale etes aan – dalk kry jy volgende keer jou gunstelingbredie as die ete van die dag of selfs by ’n konferensie by ’n ATKV-oord. Hoe dit ook al sy, maak gesonde koesterkos vir jou gesin hierdie winter en maak gesonde eetgewoontes ’n leefstyl.

Resep

Beesvleisbredie met kool & appel

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 6 porsies

Bestanddele

15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie

750 g stowevleis, in blokkies, sonder been, oortollige vet verwyder

1 ui, gekap

2 groot aartappels, in blokkies gesny

2 groot wortels, in dik diagonale skywe gesny

15 ml (1 e) gemaalde koljander

1 lourierblaar

125 ml (½ k) water of sterk Rooibostee

125 ml (½ k) tuisgemaakte hoenderaftreksel of water met 30 ml (2 e) gedroogde gemengde kruie

1-2 klein wit kole, in wiggies gesny

2 JAZZ™ appels met die skil, in wiggies gesny

2,5 ml (½ t) sout

45 ml (3 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie

suurlemoensap en swartpeper na smaak

Metode

1. Verhit helfte van die olie in ’n groot kastrol (bv. ’n AMC 24 cm Gourmet High) en braai die vleis in sarsies tot goudbruin. Skep uit en hou eenkant.

2. Verhit die res van die olie in dieselfde kastrol en soteer die ui, aartappels en wortels. Voeg die koljander en lourierblaar by en soteer vir ’n paar minute.

3. Voeg die water of tee, vleis en aftreksel of nog water en kruie by. Prut met die deksel vir 1½ uur of tot die vleis amper sag is.

4. Roer die kool en appels by en prut vir nog 15-20 minute. Meng die sout en die helfte van die pietersielie by.

5. Geur met die suurlemoensap en peper na smaak. Strooi die res van die pietersielie oor en sit voor.

Pin It on Pinterest

Share This