Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Italiaanse geroosterde sampioene

May 25, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals

Kosblik 101

Spyskaart
Italiaanse geroosterde sampioene met prosciutto
Heel JAZZ™ Appels

Groot bruinsampioene, of portabella’s, is nie net ideaal as ’n bygereg of groente nie, maar word dikwels as basis vir ’n vegetariese ete gebruik. Hierdie groot sampioene het ’n stewige tekstuur en herinner amper aan ’n steak – juis die rede waarom dit so gewild is.

Die kombinasie van tamatie en kruie is absoluut heerlik en verfrissend en as dit met olyfolie en suurlemoen in ’n Italiaanse marinade omskep word, is dit baie veelsydig. Die geure word tweeledig in die resep gebruik. Aan die een kant is dit die geurmiddel vir die groot sampioene en dan word dit met wiggies vars kersietamaties gemeng om ’n geurige bolaag vir groot bruinsampioene te wees. Hierdie is ’n goeie voorbeeld van ’n resep wat regtig besonders is, as die regte kombinasie van bestanddele gebruik word, wat mekaar alles so goed aanvul. Dis ook ’n glutenvrye idee – iets waarvoor baie mense dikwels vra.

Die gevulde en geroosterde sampioene mag dalk soos klein pizzas lyk, maar dis inderdaad baie meer as dit. Gebruik die idee as ’n voorgereg of bygereg vir ’n volgende braaivleis-ete. Die beginsel om met vars bestanddele wat mekaar goed aanvul, tuisgemaakte kos voor te berei, is die fokus van soveel van die resepte wat al op In&UitKosblik gebruik is. Een groot bron van sulke resepte, is Cooking from the heart om dit vir die hele gesin maklik en lekker te maak om gesond te eet.

Iets wat ek nou al oor die jare geleer is, is dat ek liewer minder van ’n goeie gehalte produk eet en dit regtig geniet en waardeer. In vergelyking met iets wat mens dalk eet wat nie eintlik lekker is nie, maar jy eet gedagteloos ’n klomp daarvan, net om later spyt te wees en dalk nie eers lekker te voel nie. Een produk wat beslis in die kategorie van goeie gehalte val, is Richard Bosman se reeks spesialiteit kouevleis-produkte. Vir dié sampioene is sy prosciutto absoluut heerlik. Die papierdun skyfies vleis is die regte afronding vir hierdie sampioene en net die manier om dit in ’n spesiale ete te omskep. Prosciutto word van varkskouer gemaak en Richard Bosman se produkte is alles gluten- en laktose-vry. Hy gebruik ook geen meganiese prosesse om die koue vleise voor te berei nie, maar verkies om die werk alles met die hand te doen, net nog ’n rede waarom sy produk in ’n ander liga is.

As jy wel aan die idee as ’n pizza wil dink, is die groot sampioene ’n ideale vervanging vir deeg. Die bruinsampioen het ’n heerlike geur en pas so goed by ’n verskeidenheid bestanddele. Wanneer dit gerooster word, kry dit selfs ’n nog meer prominente smaak. Onthou dat vars en gaar sampioene almal ’n goeie bron van vesel en baie ander voedingswaarde, antioksidante en selfs proteïene is. Moenie sampioene was nie, veral nie wanneer dit so gerooster gaan word nie – vee enige ‘grond’ (groeimedium) net saggies met kombuispapier af om nie die sampioene te kneus nie. Lees gerus meer oor sampioene hier: http://mushroominfo.co.za/

JAZZ™ Appels is nou in seisoen en oral by Checkers beskikbaar. Die appels word as sappig, pikant en verfrissend beskryf. Inderdaad genoeg om jou mond te laat water. Die appel is ideaal om as deel van ’n kosblik in te pak of as peuselhappie te geniet, maar dit kan ewe maklik deel word van ’n ete. Die appel is propvol vesel en ander voedingswaarde, so beslis ’n gesonder en beter keuse as nog ’n pakkie lekkergoed of tjips. Vars produkte bly ’n belangrike deel van ’n gesonde leefstyl en gebalanseerde etes. Volg JAZZ™ Appels se splinternuwe Facbook-blad of besoek hul webwerf as jy meer oor die lekker appel wil weet.

Die manier waarop dié appels beskryf word, is so mooi en gee mens sommer dadelik ’n idee van hoe die appels smaak. Daar is pragtige woorde om kosgeure in Afrikaans te beskryf. Dink maar net aan die bestanddele vir vandag se resep, beleë kaas, sappige appels met ’n pikante geur, sampioene met ’n neuterige smaak.

Die ATKV is ook weer hierdie week by In&UitKosblik betrokke en borg met trots die Afrikaanse woord-vir-week. Hul vakansieoorde is ook iets om van kennis te neem, want by hul Koswerf-restaurante op elke oord kan jy ook baie lekker en geurige kos gaan eet. Alhoewel vandag se resep nie ’n pizza is nie, is daar by Koswerf ’n hele handvol lekker pizza-kombinasies om van te kies. My gunsteling is beslis die tikka-hoender met jogurt. Gaan probeer dit gerus.

Resep

Italiaanse geroosterde sampioene met prosciutto

Lewer 4 porsies

Bestanddele

4-6 groot bruinsampioene (portabella’s)

80 ml (⅓ k) olyf- of avokado-olie

45 ml (3 e) gekapte Italiaanse pietersielie

fyngerasperde skil van ½ suurlemoen

swartpeper na smaak

200 g kersietamaties, in wiggies gesny

125 ml (½ k) grofgerasperde mozzarellakaas

125 ml (½ k) grofgerasperde beleë wit cheddarkaas

6-8 repe Richard Bosman Prosciutto

45-60 ml (3-4 e) basiliekruidpesto

’n handvol roketblare

Metode

1. Voorverhit die oond tot 200 °C en plaas sampioene op ’n bakplaat of in ’n vlak oondbak.

2. Meng die olie, pietersielie, suurlemoenskil en peper saam. Verf sampioene met helfte van die olie-mengsel.

3. Meng die tamaties met die orige olie-mengsel en skep op sampioene. Meng die twee kase saam en sprinkel bo-oor.

4. Rooster vir 10-12 minute of tot die kaas gesmelt is en effens begin verkleur.

5. Rond sampioene met repies Prosciutto, lepelsvol basiliekruidpesto en roketblare af. Sit dit met vars JAZZ™ Appels voor om die ete gebalanseerd te hou.

Wenk

1. Die sampioene sal ook heerlik wees met skyfies vars avokado, wanneer dit beskikbaar is.

Pin It on Pinterest

Share This