Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Gourmet oop-broodjies met twee vulsels

May 18, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light vegetarian

Kosblik 101

Spyskaart
Gourmet oop-broodjies met twee vulsels
Ricotta, JAZZ™ appels, heuning en tiemie
Vars sampioene, tiemie en hummus

Interessante brood met vars bolaag- of vulselbestanddele, wat mekaar se geure aanvul, is genoeg om ’n gewone toebroodjie in ’n gourmet-broodjie te omskep. Brood hoef lankal nie meer net kaas en tamatie of kaas en konfyt as smeersel te kry nie. Deesdae kan jy regtig kreatief raak met dit wat ’n toebroodjie-ete gaan word. Oop-broodjies is ewe gewild en lyk pragtig.

Met die wye keuse van brood wat deesdae beskikbaar is, kan jy elke keer ’n ander kombinasie probeer. Dit bly wel belangrik om as deel van ’n gesonde leefstyl seker te maak dat die brood ook so natuurlik en gesond as moontlik is. Hoe meer onverfynd die meel is, hoe beter, want dan is daar dikwels ook heelwat meer vesel in die brood. Tuisgemaakte brood is natuurlik die lekkerste, maar dit verg so bietjie meer beplanning. Dit word wel al hoe makliker om brode van goeie gehalte en sogenaamde ‘artisanal’ brood te koop.

Saadbrood, volkoring-, rogbrood of ’n ordentlike suurdeegbrood is goeie keuses. Moet asseblief nie net witbrood vir jou gesin gebruik nie – dis baie verfynd en soms nader aan koek as brood. Lees gerus die etiket op brood om te weet wat daarin is, want witbrood kan selfs suiker bevat. Brood is ook een van die produkte wat tipies baie sout bevat, so wees bewus daarvan, veral as jy die bolaag en vulsels begin kies.

 

Maak oop-broodjies vir ’n ligte middagete of maak ’n bordvol interessante broodjies vir ’n lekker kuier om ’n tafel of selfs teetyd-happies. Die kombinasie van bestanddele hoef nie ingewikkeld te wees om lekker en geurig te wees nie. Kies net elemente wat mekaar se geure aanvul, soos die opsies hier onder. Die appel se natuurlike soet smaak (en veral dié van ’n JAZZ™ appel) is perfek met die vars tiemie en meer neutrale ricottakaas. Vir die sampioenbroodjie word hummus (hoemoes) as basis gebruik, want die neuterige smaak van die kekerertjie-smeer/doopsous is heerlik met vars sampioene. Geen botter is vir enige van die broodjies nodig nie, want dit gaan beslis nie droog wees nie. Hier is ’n maklike resep vir hummus wat uit Cooking from the heart  se tweede resepteboek in die reeks kom – want tuisgemaak is mos altyd lekker.

Nog ’n paar idees vir bolae:
– maaskaas, komkommer en biltong
– hummus, gerasperde wortel, tamatie en mikro-kruie
– ’n mengsel van grondboontjiebotter en maaskaas, met dun wiggies JAZZ™ appel
– ricotta gegeur met ’n drupsel heuning en kaneel, met piesang of dun wiggies JAZZ™ appel
– roket, repies gemarineerde songedroogde tamatie en skyfies vars sampioene

Die opsies is eindeloos, so wees kreatief en gebruik soveel as moontlik vars produkte en ook seisonale produkte, soos die JAZZ™ appels wat nou beskikbaar is. Kyk gerus in jou plaaslike Checkers daarvoor. Dié sappige appels het ’n helderrooi skil wat enige gereg of broodjie sommer nog meer aptytlik laat lyk.

So dikwels maak mens sampioene gaar om in ’n gereg te gebruik en vergeet amper dat dit rou ewe lekker en voedsaam is. En dit beteken nie dit moet net in slaaie gebruik word nie. Dis heerlik om net so vir ’n piekniek of in ’n kosblik te pak om saam met ander bestanddele te geniet. Enige soort sampioen kan só gebruik word – knopiesampioene, portabellini of selfs die groot portabella’s. Sny selfs rou sampioene in skyfies en laat dit vir ’n paar minute in ’n tuisgemaakte slaaisous of mengsel van olyfolie en balsamiese asyn marineer om dan in ’n slaai te gebruik. Vir nog idees met sampioene, besoek gerus: http://mushroominfo.co.za/

Hummus is ’n bekende en al hoe meer gewilde Mediterreense doopsous wat van kekerertjies gemaak word. Die oorspronklike Griekse uitspraak is eintlik met ’n g-klank (‘goemoes’). Ons taal bly mos op die voorpunt van veranderinge en nuwe dinge, so dit word nou ook in Afrikaans gespel (hoemoes) en as ’n h-klank uitgespreek. Beide is aanvaarbaar, so gebruik gerus die uitspraak en spelling waarmee jy gemaklik is. Die ATKV borg hierdie week hummus en hoemoes en dis ’n riem onder die hart om te weet dat daar altyd organisasies en mense is wat die moeite doen en help om Afrikaans modern en lewendig te hou.

Resep

Gourmet oop-broodjies met twee vulsels

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

Ricotta, JAZZ™ appels, heuning en tiemie

8 snye saad- of volkoringbrood

200-300 g ricottakaas of maaskaas

1-2 JAZZ™ appels, met die skil in dun wiggies gesny

’n paar takkies vars tiemie

’n drupsel loperige heuning

 

Vars sampioene, tiemie & hummus

8 snye rogbrood

250 ml (1 k) voorafbereide of tuisgemaakte hummus

4-6 knopiesampioene, in dun skyfies gesny

’n paar takkies vars tiemie

Metode

1. Kies een van die twee vulsuls of berei beide die appel- en die sampioenbroodjies.

2. Smeer brood met die ricotta of hummus – botter is nie eers nodig nie. Plaas appelwiggies of sampioene bo-op en strooi van die tiemieblaartjies oor.

3. Indien jy die appelbroodjies maak, drup ’n bietjie heuning oor. Geniet dit as ’n ligte maaltyd of middagete. Die broodjies kan selfs in kleiner stukkies gesny word vir ’n peuselbord met vriende en familie.

Wenke

1. Die appelwiggies kan vinnig in water afgespoel word om te verhoed dat dit verbruin. Druk dit liggies droog met kombuispapier voor dit op die broodjies gebruik word.

2. Die bestanddele kan apart in ’n kosblik gepak word. Smeer of ‘bou’ die broodjies dan net voor dit dit geëet word. Of maak toebroodjies met ’n ekstra sny brood.

Pin It on Pinterest

Share This