Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Gekookte eiers

Apr 6, 2018 | Breakfast, Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals

Kosblik 101

Spyskaart
Hard-, sag- en loperig-gekookte eiers
met roosterbrood of vars groente

’n Gekookte eier is ’n basiese en eenvoudige bestanddeel, baie voedsaam en nogal veelsydig. En tog, as jy nie mooi weet hoe om dit suksesvol te kook nie, kan dit nogal ’n katastrofe afgee. Almal weet hoe lyk ’n hardgekookte eier wat heeltemal ‘blou’ geword het in die dop. Of het jy al eiers gekook en dan is dit na ’n paar minute ’n redelike stryd om die pot vol gekraakte eiers (of sal mens dit oopgebars noem) klaargekook te kry, sonder dat al die eierwit in die water uitkook?

Met ’n paar praktiese wenke, kan dit ’n baie maklike manier wees om ’n voedsame proteïen deel te maak van ’n ete. Die eerste wenk is om eiers teen kamertemperatuur te gebruik, sodat die doppe nie kraak sodra die water begin kook nie. Sit ook die eiers in die koue water, sodat die twee saam warm word. Meet die kooktyd vandat die water begin prut, sodat jy dit so akkuraat as moontlik kan bepaal. Kyk na die kooktye hier onder in die resep, om seker te maak dat jy nie met ’n hardgekookte eier eindig, as jy dit loperig wou gehad het nie. Onthou dat die grootte van die eier die kooktyd kan beïnvloed. ’n Groot eier gaan vinniger hardgekook wees as ’n jumbo eier, so hou dit ingedagte.

Die water moet net liggies prut – daar word soms daarna verwys as ’n rollende prut. Die water borrel dus net liggies, maar dit laat nie die eiers so rondbons dat die doppe teen die bodem kraak nie. Sodra die kooktyd verby is, kan die eiers in ’n bakkie met koue water gesit word om die kookproses te stop. As die eiers afgedop moet word, kan die dop selfs liggies gekraak word. Dit maak die afdopproses makliker en verhoed dat die eiers verkleur as dit lank staan.

Nie almal hou van ’n hardgekookte eier nie – hetsy afgedop of om vir ’n ete met ’n teelepel uit die dop te eet nie. Maar dalk is ’n loperige eier vir jou lekkerder en die gaarmaakproses bly dieselfde.

Hardgekookte eiers kan ook op ander maniere gebruik word. Die afgedopte eiers kan in wiggies of skyfies gesny of fyngedruk word om in ’n slaai of op ’n toebroodjie te gebruik. ’n Kerriesous word ook soms oor die eierwiggies, as maaltyd voorgesit. Of pak ’n hardgekookte eier in ’n kosblik met vars slaaibestanddele en iets soos neute of avokado as ’n voedsame en gebalanseerde maaltyd.

’n Saggekookte of selfs loperige eier word meestal warm uit die dop geëet, maar kan ook afgedop en as deel van ’n ete gebruik word. Die sagte eier kan selfs so in die dop ingepak word en later met ’n lepeltjie uitgeëet word. ’n Loperige eier is heerlik as ‘sous’ vir ’n slaai of as deel van ’n ander ete.

Hoe jy ook al verkies om ’n eier te geniet, bly dit ’n bron van proteïen wat vinnig en maklik is om gaar te maak. Eiers bevat ook heelwat ander voedingswaarde, soos antioksidante, vitamiene, minerale en gesonde vette. Deel van ’n gesonde leefstyl en eetgewoontes is om seker te maak dat ’n verskeidenheid kossoorte in etes ingesluit word. Om byvoorbeeld jou proteïenbronne af te wissel, is ’n goeie beginsel. Sluit dus gereeld eiers ook op dié lysie in en lees meer oor die voedingswaarde op Nulaid se webwerf.

Dit is ook die riglyne uit Cooking from the heart se resepteboeke. Met dié reeks resepte word ons almal aangemoedig en gewys hoe om met basiese en alledaagse bestanddele lekker en gesond te eet. Dit hoef beslis nie duur of vreemde bestanddele of gaarmaakmetodes te wees nie. Daar is heelwat resepte en idees met eiers ook ingesluit, van ontbyt tot nageregte en heelwat respete waar daar met eiers gebak word. Die resepteboeke is al drie gratis op hul webwerf beskikbaar, so gaan blaai gerus bietjie daar rond.

As ambassadeur vir Afrikaans, is dit vir my altyd lekker om die korrekte koswoorde en ander terminologie te gebruik en met almal te deel. Die ATKV ondersteun dit ook, deur gereeld ’n woord of kosterm vir die week op my In&Uit Kosblik insetsel op kykNET se #GROOTOntbyt te borg. Dankie vir jul bydra om ons mooi taal op almal se lippe te hou. In Afrikaans kan ons duidelik onderskei tussen bv. ’n gebakte en gekookte eier. En dan ook verder tussen ’n hardgekookte eier, saggekookte een of ’n eier wat nog ’n loperige binnekant het – ’n loperig-gekookte eier. Mooi beskrywend en ideaal om tussen die stadiums te onderskei.

Resep

Gekookte eiers

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
Lewer 4 porsies

Bestanddele

4-8 ekstra-groot Nulaid eiers

Om meer voor te sit

2 tamaties, in skywe gesny of klein tamaties

slaaibestanddele soos komkommer, wortel, soetrissie, plat-ertjies of groenboontjies

kaas in dik repies gesny

1 avokado, in skyfies gesny (wanneer beskikbaar)

4 snytjies volkoring- of rogbrood

Metode

1. Plaas eiers met genoeg water in ’n kastrol (bv. die AMC 20 cm Gourmet Low). Verhit oor ’n matige temperatuur tot die water liggies prut en begin dan die kooktyd meet.

2. Verlaag die temperatuur as dit nodig is en prut met ’n deksel vir die aangeduide hoeveelheid minute, na gelang van hoe hard- of saggekook jy die eiergeel verkies. Die water moenie te vinnig kook, dat die eiers op die bodem van die kastrol bons nie.

3. Kook vir 2-3 minute vir loperige gele, 6-7 minute vir sagte eiergele en 8-10 minute vir ferm eiergele. Onthou dat die grootte van die eiers die kooktyd effens kan beïnvloed.

4. Skep die eiers dadelik uit en plaas vir ’n paar minute in ’n bakkie met koue water om die kookproses te stop of sit dadelik voor. Kraak selfs die dop liggies as die eiers heeltemal hardgekook is en afgedop gaan word. Dit sal help dat die eiers nie verkleur as dit heeltemal moet afkoel nie.

5. Sit die eiers voor met enige bestanddele van jou keuse of pak dit in ’n kosblik. Sien die voorstelle om die verskillende stadiums van gekookte eiers voor te sit, in die blog hierbo.

Pin It on Pinterest

Share This