Pink Lady® Appel compote

Appels, korrelmosterd, ‘n bietjie asyn en siedaar – ‘n baie lekker appel-compote wat op verskillende maniere gebruik kan word. Maak ‘n flessie of twee vol en hou dit in jou yskas om ‘n hamburger, varkworsie of stukkie steak in ‘n japtrap op te kikker.

Resep
Pink Lady® Appel compote
Lewer 200-250 ml
Bestanddele
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
1 ui, fyngekap
125 g Cecilia’s Farm Pink Lady® Apple Wedges (gedroogde appelwiggies), gekap
30 ml (2 e) korrelmosterd
10 ml (2 t) bruinsuiker
10 ml (2 t) balsamiese asyn
250 ml (1 k) wit wyn asyn of Rooibostee
Metode
1. Verhit olie in ’n braaipan (gebruik ’n AMC 24 cm Gourmet Chef’s Pan) en soteer die ui tot gaar. Voeg die gedroogde appel by en soteer vir ’n paar minute.
2. Roer die res van die bestanddele by. Verlaag die hitte.
3. Prut 30-45 minute of tot die mengsel amper taai is. Voeg nog vloeistof by indien nodig.
4. Sit warm of teen kamertemperatuur voor met varkworsies, hoenderfilette of sien wenke vir meer idees. Skep warm compote in ’n gesteriliseerde fles, laat heeltemal afkoel en bêre in die yskas tot benodig
Wenke
1. Die compote is heerlik met boerewors of enige ander braaivleis.
2. Sit die compote as deel van ’n kaasbord voor. Dit is lekker met enige beleë cheddar of camembert.
3. Roer die compote by koeskoes of gaar bruin basmatirys vir ’n interessante bygereg.
