Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Groente-&-fetaplaatkoekies

Feb 16, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart
Groente-&-fetaplaatkoekies (resep aangepas uit Cooking from the heart 2)
met ’n maaskaas-doopsous

Ek is dol oor die kombinasie van groen groente en ’n lekker kaas. En hierdie groente-&-fetaplaatkoekies is sommer ook ’n opwindende manier om kinders of kieskeurige eters dalk so ver te kry om spinasie en murgpampoentjies in hul etes in te sluit. Dis verspot maklik om te maak en jy kan selfs met ander kombinasies van groente en kaas eksperimenteer. Ertjies en mielies met cheddarkaas sal goed werk of gerasperde wortel en fetakaas.

Die hele gesin gaan dit geniet, selfs kinders wat glad nie groente wil eet nie, gaan dalk verras wees met die happies en heerlik smul. Dalk is dit nét die manier om hulle geleidelik gewoont te maak aan die smaak en tekstuur van sommige groentes, met die bonus dat die groente se voedingswaarde ook ingesluit word in die ete. Om kinders van kleins af lief te maak vir groente en dit gereeld in hul etes in te sluit, is een van die belangrike beginsels van ’n gesonde leefstyl. Groente is een van die belangrike bronne van vitamiene, minerale, vesel en antioksidante. Die plaatkoekies is ideaal as bygereg vir ’n ete en natuurlik perfek vir ’n kosblik, so hou dit gebalanseerd en pak dit met ’n proteïen van jou keuse, nog vars groente of vrugte en ’n bietjie neute in, om die ete gebalanseerd en voedsaam te hou. Kinders geniet dit veral om die plaatkoekies sommer met hul hande te eet.

Braai die plaatkoekies oor ’n matige hitte in ’n dun lagie olie, sodat dit geleidelik verbruin, maar nie brand voor dit gaar is nie. ’n Olie soos olyf- of avokado-olie dra beslis ook by tot die geur en voedingswaarde van die ete. Die feit dat die plaatkoekies nie net uit meel bestaan nie, beteken dat dis ’n lekker alternatief vir ’n stysel is en nie net ’n ‘wit’ stysel is nie. Die volkoringmeel maak dit selfs nog meer vullend en as jy steengemaalde meel kan gebruik, is die natuurlike neuterige smaak daarvan baie lekker met die groente.

Die eiers en karringmelk is altyd ’n suksevolle kombinasie vir ’n sagte tekstuur. Die eiers bind natuurlik die mengsel saam en dra baie belangrike voedingswaarde tot die ete by. Soos gewoonlik, het ek van Nulaid se eiers gebruik. Vir die plaatkoekies werk groot eiers goed. Ek het die afgelope paar weke ’n groot verskeidenheid geregte gemaak en almal bevat eier, maar die eier speel elke keer ’n ander rol in die gereg – net nog ’n manier om te wys hoe veelsydig eiers inderdaad is.

Die resep is ’n variasie van ’n idee uit Pharma Dynamics se Cooking from the heart-projek. Die resepte in die resepteboekies gebruik alledaagse bestanddele, soos in die plaatkoekies, om voedsame kos vir die hele gesin voor te berei. Kyk gerus na hul webwerf of Facebook, en soek gerus vir die nuwe kletsbot, Ginger, op die blad. Daar kan jy elke week ’n lekker resep vir aandete kry en boonop is die inkopielysies vir die week reeds opgestel.

Die ATKV se woord van die week vir In & Uit Kosblik, is braai. Dis ’n woord wat in ons mooi taal verskillende betekenisse kan hê. As jy iemand nooi vir ’n braai, weet almal presies wat dit beteken. Selfs Engelssprekende mense verwys na ’n braai, so mettertyd het dit ’n universele woord in Afrikaans geword. Jy kan natuurlik ook die werkwoord braai gebruik om te verduidelik hoe kos oor kole of in ’n pan gaargemaak word. Die plaatkoekies word in vlakvet in ’n pan gebraai en tjips word dikwels in diep-olie gebraai. Maar soos met soveel mooi Afrikaanse koswoorde word baie idiome ook daarmee geskep. As jou kierangtjies braai, kom die oneerlikheid waarmee jy besig is, na vore.

Gaan kyk gerus op die ATKV se webwerf wat hulle alles doen om ons taal te bevorder en vestig of bespreek jul volgende wegbreek-naweek of vakansie by https://www.atkvoorde.co.za/.

Resep

Groente-&-fetaplaatkoekies

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
Lewer ongeveer 25 plaatkoekies

Bestanddele

375 ml (1½ k) volkoringmeel (verkieslik steengemaal)

5 ml (1 t) bakpoeier

250 ml (1 k) karringmelk

2 groot Nulaid eiers, geklits

4 murgpampoentjies, grofgerasper

1-2 handevol baba-spinasieblare, grofgeskeur

1 skyf fetakaas, gekrummel

suurlemoensap en swartpeper na smaaK

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie vir braai

Metode

1. Plaas meel en bakpoeier in ’n groot mengbak. Klits die karringmelk en eiers saam in ’n aparte mengbak. Roer die karringmelkmengsel by droë bestanddele en roer tot goed gemeng.

2. Roer die groente en kaas by en geur na smaak met suurlemoensap en peper.

3. Verhit die helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan (bv. AMC 28 cm Chef’s Pan). Braai lepelsvol van die mengsel tot goudbruin. Draai om en braai vir nog ’n paar minute tot goudbruin en gaar. Dreineer op kombuispapier.

4. Herhaal met die res van die mengsel en nog olie, indien nodig. Sit voor as bygereg of as deel van ’n kosblik. Sit voor met growwe maaskaas as ’n doopsous.

Wenke

1. Geur die plaatkoekies met paprika, neutmuskaat of vars kruie, as julle daarvan sal hou. Gekapte pikantrissies sal ook lekker wees.

2. Geniet die plaatkoekies en maaskaas as ’n peuselhappie by ’n braai.

Pin It on Pinterest

Share This