Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Patatbroodjie met speserye & amandels

Feb 9, 2018 | Baking, Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart
Patatbroodjie met amandels & speserye
Frikkadelle
Groenboontjies en seisoensvrugte

Kyk bietjie met nuwe oë na ’n piesangbroodresep en fyngedrukte patats om ’n heerlike patatbroodjie in ’n japtrap te bak. Die natuurlike soet smaak van patats is amper lekkerder as die van piesang en dit kombineer uitstekend met neute en speserye.

Naas baie liefde en aandag is gesonde eetgewoontes die volgende grootste geskenk wat ons ons kinders moet gee. Dit kan hul gesondheid ’n reuse voorsprong gee en beslis leefstylsiektes later in hul lewe beperk of heeltemal verhoed. As hulle van kleins af leer om goeie keuses te maak en aangemoedig word om die natuurlike geur van vars bestanddele te geniet, eerder as nog ’n winkelgekoopte eetding, is dit beslis tot hul voordeel.

Bak self ’n soetbederf, want dan weet jy wat alles daarin is. Hierdie resep is ook regtig maklik en terwyl jy die patat vir die broodjie kook, kan jy net so wel ekstra maak om weer op ander maniere te gebruik. Dalk het jy nog ’n baba in die huis wat nou begin vaste kos eet, dan is die fyngedrukte patat ideaal as basis vir ander kos, soos nog groente of vleis. Patats het heelwat vesel in en die natuurlike soet smaak is iets wat kinders baie geniet. Dit verpulp ook tot ’n fluweelsagte tekstuur, selfs met die skil aan en dan is daar selfs nog meer vesel in die pulp. Prut die patat in min water, sodat soveel as moontlik voedingswaarde behoue bly. Jy kan selfs van die water in die kastrol by die patats voeg as jy ’n sagter tekstuur patat vir ’n baba nodig het.

As daar orige patat-pulp is, kan jy dit in ysbakkies vries en in kerries, sop of bredies gebruik om dit op ’n natuurlike manier te versoet en te verdik. Dis heerlik in ’n bobotie- of kerriemengsel en die res van die gesin sal nie eers weet dat dit patats is wat die lekker soet smaak gee nie.

Cooking from the heart het ’n hele reeks resepte en baie praktiese wenke en riglyne vir die hele gesin om ’n gesonde leefstyl te vestig. Die resepteboekies is gratis van hul webwerf beskikbaar, of volg hul Facebook-blad vir daaglikse raad en wenke. Jy kan selfs gaan soek na die ‘kletsbot’ Ginger, Cooking from the heart se ambassadeur, op die blad. Hierdie resep is ’n aanpassing van die piesangbrood uit die reeks.

Die broodjie kan selfs in ’n kosblik gepak word en dis so lekker klam, dat dit nie eers nodig is om botter daarop te smeer nie. Hou net altyd porsies in gedagte, so een snytjie is beslis genoeg vir ’n kind. Onthou altyd dat enige ete, hetsy by die huis of uit ’n kosblik, altyd ’n gebalanseerde ete moet wees, voedsaam en vullend. En as jy ietsie soets daarby gaan insluit, is dit eens so belangrik dat die res gesonde kos is, met iets uit elke voedselgroep.

Sonder eiers gaan die broodjie natuurlik nie dieselfde wees nie. Nie net omdat eiers die bestanddele help saambind nie, maar ook omdat eiers dit ’n sagte tekstuur en meer volume gee en so voedsaam is. Veral wanneer jy eetgoed vir kinders maak, is dit belangrik om bestanddele te gebruik wat die voedsaamheid van die kos verhoog. Die eiers sal ook help om die broodjie meer vullend te maak. Nulaid se ekstra-groot eiers is ideaal vir die resep en onthou om sommer genoeg eiers te koop, om dit vir ’n gesonde ontbyt te kan voorberei. Eiers is ook ’n wonderlike bestanddeel om vir ’n vinnige aandete vir die hele gesin byderhand te hou. Eiers is vinnig en maklik om gaar te maak en pas by ’n wye verskeidenheid van ander bestanddele – dis beslis nie net geskik om mee te bak of ontbyt mee te maak nie. Nulaid se webwerf het heelwat inligting oor die gaarmaak en voedingswaarde van eiers en selfs oulike inkleurprentjies vir die jonger lede van die gesin.

Soos gewoonlik borg die ATKV ’n organisasie wat passievol is oor Afrikaans, ’n woord vir In & Uit Kosblik. Vandag se woord is ‘bak’. Jy bak ’n brood wanneer dit in die oond gaargemaak word, maar dit kan ook verwys na die houer waarin iets in die oond gaargemaak word. Jy bak ook ’n pannekoek of eier, alhoewel dit nou weer in ’n pan gedoen word. In Afrikaans is daar ook ’n paar gesegdes wat met ‘bak’ verband hou. As jy vleitaal gebruik, is jy besig om mooi broodjies te bak. Dalk knoei jy met iets en is eintlik besig om te bak en brou. Of as twee mense nie uit een bak eet nie, het hulle nie veel vir mekaar te sê nie. Jy kan natuurlik ook vir iemand ’n poets bak en dan het dit waarskynlik niks met ’n brood, koek of houer te doen nie.

Hoe dit ook al sy, maak ’n ‘bak’ plan en bespreek ’n naweek vir jou en jou gesin by een van die pragtige ATKV oorde vir ’n ontspanne naweek in die natuur. Jy kan in ’n huisie, jou karavaan of tent bly en heerlik kuier.

Resep

Patatbroodjie met speserye & amandels

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 1 broodjie

Bestanddele

1 medium patat met skil aan, in blokkies gesny

75 ml (5 e) olyf- of avokado-olie

180 ml (¾ k) melk

125 ml (½ k) suiker

3 ekstra-groot Nulaid eiers, geklits

5 ml (1 t) vanieljegeursel

2,5 ml (½ t) koeksoda

2,5 ml (½ t) bakpoeier

375 ml (1½ k) koekmeel

125 ml (½ k) volkoringmeel

knippie neutmuskaat

5 ml (1 t) fyngemaalde kaneel

5 ml (1 t) gemengde speserye

handvol gekapte amandels

Metode

1. Plaas patat in ’n kastrol (soos ’n AMC 20 cm High) met 125 ml (½ k) water en bring oor matige hitte tot kookpunt. Verlaag hitte en prut tot sag.

2. Dreineer patats en verpulp of druk met ’n vurk fyn.

3. Verhit oond tot 180 °C. Smeer en voer die bodem van ’n 1,5-liter broodpan.

4. Meng die olie, melk, suiker, eiers, vanielje en 250 ml (1 k) fyngedrukte patats saam (sien wenk).

5. Meng al die droë bestanddele, behalwe die amandels, in ’n groot mengbak en roer die patatmengsel by tot dit net deurgemeng is. Daar moet geen droë meel meer sigbaar wees nie.

6. Skep beslag in broodpan en sprinkel amandels oor.

7. Bak vir 1 uur of tot ’n toetspen skoon uitkom. Keer uit op ’n afkoelrakkie en laat afkoel.

8. Pak 1-2 snytjies in ’n kosblik met frikkadelle (sien wenke), groenboontjies en vars seisoensvrugte.

 

Wenke

1. Vries enige oorblywende fyngedrukte patats in ysbakkies om later te gebruik. Berei ekstra patats en gebruik as ’n eerste kos vir jou baba. Ontdooi gevriesde blokkies soos nodig.

2. Berei tuisgemaakte frikadelle met hierdie lekker resep.

 

Pin It on Pinterest

Share This