Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Hawermout met lekkertes bo-op

Jan 19, 2018 | Breakfast, Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals

Kosblik 101

Spyskaart
Slim idees met hawermout
Vars seisoensvrugte, neute, sade, tuisgemaakte muesli, kaneel of geroosterde klapper om mee voor te sit

Wat is vir jou die lekkerste manier om hawermout vir ontbyt te eet? Dalk ken jy dit met melk en suiker, maar het jy al kaneel, piesang en ’n drupsel heuning probeer? Of selfs ’n handjievol gekapte amandels daarby. Daar is ’n lang lys vrugte en bessies om van te kies wat alles heerlik is op hawermout, van druiwe of perskes tot mango en papaja. Kombineer dit met neute of sade vir ekstra tekstuur of selfs tuisgemaakte muesli – die opsies is eindeloos. Dis soms juis die tekstuur van gaar hawermout wat baie mense afsit, so as jy dit met growwer bestanddele meng, is dit ’n geurige manier om hierdie gesonde bestanddeel as ontbyt te geniet.

Kyk na die resep en wenke hier onder vir nog bestanddele wat lekker is om te kombineer en op hawermout te geniet. En eksperimenteer gerus ook met droëvrugte soos rosyne, rooibosbessies (cranberries), gesnipperde mango, appel of pynappel. Die warm pap laat die vrugte effens rehidreer en is sommer ook bietjie sagter soos dit warm word.

Enige neute en sade kan gebruik word en’ n bietjie gemaalde kaneel is heerlik met vrugte en boonop baie gesond. Kyk waarvan jou gesin sal hou en probeer sommer elke keer ‘n ander kombinasie van bestanddele. Gekapte amandels, pekanneute, geroosterde sonneblomsade of selfs klapper is lekker. Die bolaag hoef nie ’n groot hoeveelheid te wees nie, net genoeg om ’n lekker balans met die hawermout te wees.

Hawermout is hoog in vesel en bekend daarvoor dat dit jou cholesterolvlakke kan help verlaag. Dit is beslis ’n gesonder opsie as baie ander bokspap-soorte wat dikwels erg verfyn is en ongelooflik baie bygevoegde suiker en sout bevat. So, ten spyte van al die bemarking wat vir party papsoorte gedoen word en beloftes wat jy hoor, moet jy jouself liefs vergewis van wat regtig in daardie boks is. Lees die etiket en maak seker dat jy en jou gesin met ’n voedsame ontbyt elke dag uit die huis gaan. Iets soos hawermout hou jou lank versadig, veral as dit gekombineer word met vrugte en neute. Ontbyt bly ’n belangrike ete van die dag, want dit gee jou metabolisme ’n hupstoot en sal jou energie- en bloedsuikervlakke stabiel hou tot jy weer iets kan eet.

As jou kinders nie elke dag wil hawermout eet nie, is dit lekker om dit af te wissel met eier of tuisgemaakte muesli (wat terloops ook hoofsaaklik uit hawermout bestaan). Maar maak seker dat die hawermout-oggende vir hulle interessant en geurig bly. Hawermout kook vinnig, so koop liewer gewone rou hawermout, nie die kits- of gegeurde opsies nie, want dis heelwat meer verfyn en bevat dikwels reeds suiker. En as ’n gesinslid nie kans het vir ontbyt by die huis nie, kan jy selfs die hawermout met minder water kook, sodat dit later met ’n bietjie ekstra kookwater verdun en warm gemaak kan word.

Die borge wat hierdie maand die Kosblik-insetsels moontlik maak, is Pharma Dynamics, met die baie suksesvolle Cooking from the heart projek en resepteboekreeks. Die basiese beginsels vir ’n gesonde leefstyl wat daarin verduidelik word, kan met die maklike en bekostigbare gesinsresepte sonder moeite jul manier van eet en leef word. Besoek gerus http://cookingfromtheheart.co.za om meer daaroor te lees.

Hawermout, en nie oats of ‘oats-pap’ nie, is vandag se Kosblik-woord van die week. Dit word soos gewoonlik deur die ATKV geborg word. Hulle is ook deel van die Afrikaans.com-projek wat almal aanmoedig om ambassadeurs vir Afrikaans te wees. Al is jy nie een van hul geregistreerde ambassadeurs nie, kan jy jou bydrae maak, deur suiwer Afrikaans te praat. Leer gerus jou kinders dat ons in Afrikaans van hawermoutpap praat en nie ‘oats’ nie, al gebruik so baie mense die woord sommer in Engels.

Onthou ook om altyd genoeg water te drink, veral in die warm somermaande. Selfs kort na ontbyt, kan jy solank begin om water te drink, sodat jy dit deur die loop van die dag deel maak van jou eetpatroon. Dis baie meer voordelig as om op een slag ’n klomp water te drink. Halo se kleurvolle hervulbare bottels maak dit gelukkig maklik. Die bottel word reeds gevul verkoop en is maklik om met jou saam te dra, hetsy in ’n tas, werksak of in jou motor. Die plastiek waarvan die bottels gemaak word is ook herwinbaar, so as jy die bottel op ’n stadium moet weggooi (en ’n nuwe een koop), kan jy dit met ’n geruste hart vir die omgewing doen.

Resep

Hawermout met lekkertes bo-op

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
Lewer 4 porsies

Bestanddele

250 ml (1 k) rou hawermout

750 ml (3 k) water

1,2 ml (¼ t) sout

5 ml (1 t) gemaalde kaneel

vars seisoensvrugte, neute, tuisgemaakte muesli, kaneel of geroosterde klapper om mee voor te sit

Metode

1. Plaas die hawermout, water en sout saam in ’n klein kastrol (gebruik ’n AMC 20 cm Low) en verhit oor matige hitte. Sodra die mengsel begin prut, roer aanhoudend om klonte te vermy en te keer dat dit aanbrand. Prut 5–10 minute of tot gaar.

2. Bedien porsies hawermout met elkeen se keuse van vars seisoensvrugte soos piesang, perske, mango, druiwe of bloubessies, gekapte neute, sade, tuisgemaakte muesli, gemaalde kaneel of geroosterde klapper. Of sien die wenke vir meer idees.

Wenke

1. Hawermout vir een: 60 ml (¼ k) rou hawermout met 180 ml (¾ k) water en ’n knippie sout. Kook soos hierbo, of meng in ’n groot glasbak en plaas in ’n mikrogolfoond vir 3-5 minute. Die gaarmaaktyd sal afhang van die mikrogolfoond se krag. Roer gereeld en hou dop dat dit nie oorkook nie.

2. Pampoen- of sonneblomsaad is heerlik met hawermout en vrugte of bessies. Gekapte rou, ongesoute amandels is ook lekker – gebruik 30 ml (2 e) per porsie.

3. Eksperimenteer met verskillende geurkombinasies soos gedroogte vrugte met geroosterde klapper; gemaalde kaneel en piesang met ’n bietjie heuning of druiwe, kruisement, amandels en papawersaad. Neut-en-sademengsels soos dukkah sal ook lekker wees.

4. Indien jy gewoont is aan suiker op jou hawermout, probeer vrugte as alternatief. Dit gee ’n natuurlike soet smaak en heerlike tekstuur. As jy sukkel in die begin, verminder geleidelik die hoeveelheid suiker tot jy dit afgeleer het.

5. Berei die hawermout die vorige aand, sodat jy dit maklik die volgende oggend kan inpak werk toe. Of skink solank die water die vorige aand oor, sodat dit solank week, dan kook dit heelwat vinniger gaar.

Pin It on Pinterest

Share This