Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Kosblik 101

Spyskaart
Tunakoekies
Mielies aan die stronk
Slaaibestanddele en neute as peuselhappie

’n Viskoekie is beslis nie ’n nuwe idee nie, maar het jy dit al met tuna gemaak? Dis ’n heerlike alternatief en ’n maklike manier om iets anders vir jou kosblik-agenda te hê. In plaas van sardyne in tamatiesous, word die tuna met ’n bietjie mayonnaise, blatjang, suurlemoensap en vars kruie gegeur. Die viskoekies word in ’n klein bietjie olie oor matige hitte in ’n pan gebraai, so wees versigtig dat dit nie te olierig word nie. Dis ’n heerlike sagte tunakoekie en word warm of teen kamertemperatuur ewe veel geniet deur almal – dus ideaal vir ’n aandete of kosblik.

Dalk pak jy al vir jare kosblikke of dalk het jy nou vir die eerste keer dié taak as deel van jou oggend-roetine. Hoe dit ook al sy, hier is ’n paar basiese riglyne wat dit makliker maak. En onthou, kosblikke is nie net vir skoolkinders bedoel nie, maar iets waarby die hele gesin kan baat, veral as dit vir julle belangrik is om gesond te eet. ’n Kosblik wat by die huis ingepak word, is beslis goedkoper as wegneemetes of kitskos en dikwels aansienlik gesonder ook. Kinders baat beslis ook by ’n vullende ete, want dit help hulle om te konsentreer, gee hulle energie vir die res van die dag en onthou dat hulle nog groei ook.

Om seker te maak dat ’n kosblik interessant en voedsaam is, help dit om dit kleurvol en geurig te hou. ’n Broodjie elke dag word maklik vervelig en is beslis nie altyd die beste keuse nie. Dink aan ’n kosblik as ’n ete weg van die huis – dit moet dus net so gebalanseerd en vullend wees as een wat jy by die huis sou eet. Die maklikste manier om dit prakties en eenvoudig te hou, is om so bietjie te beplan. Beplan jou aandetes só, dat daar iets vir kosblikke oorbly. Dalk is dit die vleis van aandete, soos hierdie tunakoekies of dalk net slaaibestanddele of iets wat julle as groente geëet het, wat in ’n kosblik gepak kan word.

Hier is nog ’n paar wenke:
– pak die kos in ’n koelsakkie, veral in die somer, dit bly net langer vars en meer aptytlik
– sit een van daardie gevriesde blou ysbakkies in die kosblik of vries ’n waterbottel om koue water in te pak en sommer die kosblik koel te hou
– hou die kosblik kleurvol deur seisonale vrugte en groente te gebruik
– sny die elemente kleiner vir jonger kinders, sodat dit maklik is om te hanteer – iets soos die tunakoekies is maklik om met die hand te eet
– hou kos wat nie teen mekaar moet druk nie, in aparte bakkies as dit nodig is, of pak bv. gesnyde groente in ’n sakkie, sodat dit klam en vars bly
– beplan om ’n proteïen, onverfynde stysel en genoeg vars produkte in elke kosblik te pak en onthou dat ’n gesonde olie altyd belangrik is – pak neute, sade of avokado daarvoor in of gebruik ’n gesonde olie as slaaisous. Olierige vis, soos sardyne is ook ‘n uitstekende bron van gesonde omega-olies.

In Cooking from the heart 2 is daar nog sulke praktiese wenke om kosblikke vir die hele gesin te pak.

Een element wat altyd deel moet wees van ’n kosblik, is ’n bottel water om jou veral in die somer gehidreer te hou. Water is ’n baie meer effektiewe manier om jou dors te les, want sap of koeldrank bevat dikwels baie suiker, wat jou net weer van voor af dors maak. As die water koud is, is die kans ook groter dat dit gedrink gaan word, so sit ys in of maak die bottel twee derdes vol en vries die vorige aand.

Om jou ‘dors te les’, is so ’n mooi Afrikaanse uitdrukking en ’n uitstekende beskrywing van iets wat baie lekker is om te drink. Water kan ook as ’dorslesser’ beskryf word – dus ’n ander manier om die uitdrukking te gebruik. Dit is hierdie week se Kosblik woord van die week wat die ATKV borg. Die organisasie is nie net bekend vir die heerlike vakansieoorde waar jy en jou gesin kan gaan ontspan nie, maar doen ook baie vir Afrikaans. Hulle het verskeie projekte elke jaar om almal aan te moedig om suiwer Afrikaans te praat en veral kinders entoesiasties te hou oor ons pragtige taal

Onthou dat ’n bottel water ’n tas baie swaar kan maak. Gebruik veral vir jonger kinders liewer ’n kleiner bottel wat hulle by die skool kan hervul as dit nodig is. Halo se kleurvolle waterbottels is ’n goeie keuse, want daar is 350 ml of 750 ml bottels beskikbaar en die bottels kan gevries word. Die bottels is reeds gevul as dit in ’n winkel gekoop word, maar is maklik om te hervul en is ook herwinbaar, sou dit later nodig word. Kies ’n kleur vir elkeen in die gesin om vir elkeen hul eie bottel te hê.

Resep

Tunakoekies

Resep uit Kos is op die tafel!
Lewer ongeveer 30 – 40 koekies

Makliker kan dit amper nie en enige viskoekies wat oorbly kan vir ’n volgende ete gevries word.

Bestanddele

2 x 170 g-blikke tuna in water, deeglik gedreineer

1 klein ui, fyn gekap

1 knoffelhuisie, fyn gedruk

125 ml (½ k) koekmeel

2,5 ml (½ t) bakpoeier

2 eiers

100 ml melk

100 ml mayonnaise

45 ml (3 e) grofgekapte kappertjiesade of agurkies

30-45 ml (2-3 e) gekapte vars pietersielie of grasuie of 10-15 ml (2-3 t) gedroogde pietersielie

15 ml (1 e) suurlemoensap of meer na smaak

30 ml (2 e) vrugteblatjang

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

45-60 ml (3-4 e) avokado- of olyfolie om te braai

Metode

1. Plaas die tuna in ’n mengbak en vlok effens fyner as dit nodig is. Roer die orige bestanddele, behalwe die olie, goed deur tot die meel en vloeistof ingemeng is.

2. Verhit 15-20 ml van die olie oor matige hitte in ’n braaipan (gebruik ’n AMC 28 cm Chef’s Pan) en braai lepelsvol van die mengsel 3-5 minute of tot goudbruin en net gestol bo-op. Draai versigtig om en braai nog ’n paar minute tot goudbruin en gaar.

3. Dreineer op kombuispapier en hou warm. Die viskoekies is heerlik vir ’n aandete met groente en slaai. Of maak sommer dubbel en laat ’n gedeelte afkoel om met mielies aan die stronk of klein aartappeltjies en vars bestanddele, soos soetrissie, tamaties of druiwe, in ’n kosblik te pak.

Wenke

1. Vervang die tuna met 1 x 425 g-blik sardyne in tamatiesous, en druk dit met ‘n vurk fyn voor die res van die bestanddele bygeroer word.

2. As jy hou van ’n doopsous saam met viskoekies, is ongegeurde jogurt heerlik met die tuna-weergawe.

Pin It on Pinterest

Share This