Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Somer-tortillas met steak & slaai

Jan 8, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Light meat, Mains, Meat

Kosblik 101

Spyskaart
Somer-tortillas met steak en slaai

Welkom in 2018! Mag dit ’n baie spesiale jaar met vele wonderlike etes aan jul tafel wees. Hier is ’n lekker somer-resep om die jaar mee af te skop. Dalk is julle nog met vakansie of het nog kans vir ’n rustige piekniek of kuier met familie en vriende voor die jaar begin spoed optel.

Vir die nuwe jaar, kry Kosblik so ’n effense ander aanslag. Dit word nou In & Uit Kosblik genoem, so ons gaan oor nog meer resepte en idees gesels om jou en jou gesin aan te moedig en te help om ’n gesonde leefstyl maklik en opwindend te maak.

Die bestanddele wat jy koop om etes mee voor te berei én die gaarmaakmetode speel ’n rol by die geurigheid en genot van ’n ete. Die regte kombinasie van bestanddele is dikwels so geurig dat min ander elemente nodig is en as iets perfek gaargemaak is, is dit net eenvoudig smaakliker. Die somtotaal hiervan, is dikwels dat dit ook ’n gesonder ete is.

Die steak vir vandag se tortillas is ’n uitstekende voorbeeld. ’n Eenvoudige kombinasie van gedroogde kruie en speserye is ’n subtiele, maar geurige marinade sodat die vleis se eie smaak nie oorheers word nie. ’n Tuisgemaakte marinade soos hierdie is beslis gesonder, want daar is nie preserveermiddels of onnodige sout of suiker daarin nie.

Moenie in die versoeking kom om steak oorgaar te maak nie, want dan is dit maklik droog en smakeloos. Jy kan dit steeds gaarder as ‘medium’ maak as dit jou voorkeur is, maar selfs al is dit nog net effens pienk binne-in, behou dit meer geur. Volg die instruksie hier onder in die resep vir goeie resultate. En onthou om die tamaties daarna in die warm pan te soteer – ’n maklike manier om ekstra geur aan die tortillas te gee.

Die steak word dan in repies gesny en met slaaibestanddele in volkoring-tortilla of pitas gesit. Of maak ’n gluten-vrye opsie deur ’n een-eier omelet as voupakkie te gebruik – die skakel daarvoor is onderaan by die wenke. Kies ’n sous waarvan julle sal hou, bv. ongegeurde jogurt, guacamole, hummus of selfs net skyfies ryp avo is heerlik. Laat elkeen sy eie pakkie vul en vou en maak dit ’n maklike, gesellige manier om saam te kuier of piekniek mee te hou.

Die speserymengsel vir die steak is met van my gunsteling kruie en speserye gemaak en is so veelsydig, dat jy sommer van die begin af ’n groot hoeveelheid kan maak. Dis ewe lekker op groente, hoender of ander vleis. Die mengsel het onder andere komyn in – een van my groot gunstelinge. Komyn is ook ons woord vir die week, wat deur die ATKV geborg word. Komyn staan ook as jeera bekend, maar op die verpakking gaan jy vir cumin moet soek. Komyn is so ’n mooi Afrikaanse woord en roep by my herinneringe van ’n verskeidenheid wonderlike geregte op. In die Koswerf-restaurante op die ATKV se vakansieoorde, word komyn ook gereeld in geregte gebruik.

Die basiese beginsels vir voedsame en gebalanseerde etes, met ander woorde gesonde opsies uit elke voedselgroep, in matige porsies is soortgelyk aan die riglyne uit Pharma Dynamics se reeks resepteboeke, Cooking from the heart, met baie praktiese resepte en ander toepassings. Die boekies is gratis op hul webwerf beskikbaar by http://cookingfromtheheart.co.za/

 

Onthou om in die somer genoeg water te drink om gehidreer te bly – nog ’n belangrike beginsel van ’n gesonde leefstyl. Halo se gevulde waterbottels is in ’n wye verskeidenheid kleure by groot supermarkte beskikbaar. Kies een vir elkeen in die gesin en maak seker dat almal genoeg water deur die dag drink. Die bottels is hervulbaar, herwinbaar en van ’n veilige plastiek gemaak.

Ek hoop ek gaan jou in 2018 kan help om geïnspireerd te bly om elke dag gesond en lekker te eet. Onthou, ’n gesonde leefstyl is nie ’n dieet nie, maar ’n manier van leef.

Resep

Somer-tortillas met steak & slaai

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele

30 ml (2 e) vleis-speserymengsel (sien wenk) of gedroogde kruie van jou keuse

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie

30 ml (2 e) suurlemoensap

500 g steak, oortollige vet verwyder

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

200 g kersietamaties, in kwarte gesny

6-8 groot volkoring-tortillas of -pitabroodjies (of sien wenke)

175 ml ongegeurde jogurt

’n handvol roket- of basiliekruidblare

½ komkommer, met ’n aartappelskiller in dun repe gesny

Metode

1. Meng speserymengsel of kruie, olie en suurlemoensap saam. Bedek vleis daarmee en marineer 10-15 minute.

2. Verhit ’n braaipan oor matige hitte (gebruik ’n AMC 24 cm Chef’s pan). Braai steaks 4-5 minute aan elke kant, tot net goudbruin en gaar na jou smaak – verkieslik nog pienk in die middel. Die dikte van die steaks sal die gaarmaaktyd bepaal, maar moenie die vleis oorgaar maak nie, dan is dit droog. Geur die vleis na smaak terwyl dit braai. Die marinade se olie behoort voldoende te wees vir die braaiproses, maar verhit ’n bietjie ekstra olie, indien nodig.

3. Skep steaks uit, laat effens afkoel en sny dan die vleis in dun repies.

4. Plaas intussen die tamaties met enige oorblywende marinade in die warm pan en soteer 1-2 minute. Skep uit en hou eenkant.

5. Verhit tortillas vinnig oor matige hitte in ’n skoon, warm pan, sonder enige olie. Moenie meer as ’n minuut per kant verhit nie – anders word dit te hard om te rol. Of maak pitas ook so in ’n pan warm.

6. Skep van die jogurt op elke tortilla en plaas roket- of basiliekruidblare, vleisrepies, komkommer en tamaties in die middel van elke tortilla.

7. Vou die tortilla toe oor die vulsel om ’n pakkie of rolletjie te vorm en steek met ’n tandestokkie vas as dit nodig is. Die tortilla kan ook in ’n keël gevou en so gevul word. Moenie te veel vulsel inskep nie, anders peul dit net uit of kan die tortilla skeur.

Wenke

1. Maak jou eie veelsydige speserymengsel deur 15 ml (1 e) gemaalde komyn, 15 ml (1 e) gemaalde koljander, 15 ml (1 e) paprika, 30 ml (2 e) gedroogde gemengde kruie en 15 ml (1 e) gedroogde tiemie saam te meng. Hou dit in ’n lugdigte houer en gebruik vir ander vleis-, hoender- of groentegeregte.

2. Oorskiet-braaivleis of skaapboud sal net so lekker wees in hierdie tortilla-pakkies.

3. Gebruik guacamole of hummus as deel van die vulsel vir ’n lekker afwisseling.

4. Indien jy nie van tortillas of pitabroodjies hou nie, kan jy ’n een-eier omelet maak as alternatief.

5. Vegetariese variasie: Vervang die gaar vleis met enige kaas en selfs nog slaaibestanddele van jou keuse. Of gebruik lensies of bone in plaas van vleis.

Pin It on Pinterest

Share This