Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Botterskorsie-&-kekerertjieslaai

Dec 13, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Light vegetarian, Sides & salads, Starchy side

Kosblik 101

Spyskaart
Botterskorsie-en-kekerertjieslaai

In die feestyd is dit altyd lekker om ’n resep of twee te hê wat moeiteloos is om voor te berei en op verskillende maniere voorgesit kan word. Almal wil lekker eet, maar nie noodwendig ure in die kombuis moet spandeer nie. Dié geurige geroosterde botterskorsie met kekerertjies en bone is ’n ideale resep vir die vakansie.

’n Mengsel van speserye word met ’n lekker olie gemeng en is die marinade waarin die botterskorsie gerooster word. Daarna word die botterskorsie met bone en kekerertjies gemeng en op ’n bed van klein spinasieblare met ’n sagte kaas gepak en is ewe lekker as slaai of ligte middagete. Dis selfs ideaal om as piekniek in te pak of as jy dalk wel nog ’n kosblik nodig het, is dit net so lekker.

Na die feesdae se etes is daar dikwels oorskiet-vleis wat dalk net te min is om weer ’n volledige ete te wees, maar genoeg om ’n bord vol van hierdie slaai weer in ’n ‘nuwe’ ete te omskep. Beplan sommer om van die begin af ekstra botterskorsie te rooster, want dan is die volgende ete ook al halfpad klaar. Repies geroosterde lamsboud, varkvleis, ham of hoender sal alles heerlik wees saam met die botterskorsie. Groot etes is in die feesdae dikwels aan die orde van die dag, maar ek wil almal aanmoedig om kreatief te wees met dit wat oorbly en beslis nie kos weg te gooi nie.

 

Die slaai is ’n heerlike alternatief vir ’n bygereg wat nie net uit stysel bestaan nie en ’n maklike manier om ’n gebalanseerde ete voor te sit – iets wat in die feestyd steeds belangrik is. Die bone en kekerertjies in die slaai is beide ’n bron van stysel en proteïene, so na ’n dag van groot maaltye kan die slaai selfs as vegetariese (en heelwat ligter) middagete geniet word. Of dalk het jy vegetariërs aan jou feestafel, dan is hierdie ’n heerlike gereg wat vir almal geskik is. Geen vegetariër gaan afgeskeep voel met die gereg nie – want so dikwels moet hulle maar met die slaai op tafel tevrede wees. Die slaairesep is oorspronklik deel van die resepte uit die Cooking from the heart resepteboekreeks en is in die derde boek gepubliseer. Daar is nog ’n hele paar lekker bygeregte in die boeke, kyk gerus na die boeke op hul webwerf: http://cookingfromtheheart.co.za/

Enige bone kan gebruik word, selfs klein wit bone is lekker saam met die kekerertjies, so kies iets waarvan julle hou. Die feit dat dit geblikte produkte is, maak dit ook sommer nog vinniger om die slaai af te rond en voor te sit. Beide bone en kekerertjies pas perfek by die speserymengsel waarin die botterskorsie gerooster word en by die kaas.

Die avokado-olie wat in die resep gebruik word, dra baie by tot die geur van die gereg. Westfalia Fruit se reeks avokado-olies sluit ook ’n suurlemoen-gegeurde olie in en dis beslis op my inkopielys vir die vakansietyd. Dis perfek om mee te rooster of net as slaaisous te gebruik en is boonop ’n gesonde olie, ryk aan die gesonde omega-olies. Met die olie se hoë brandpunt, is dit ook ideaal vir enige gaarmaakmetode, selfs om mee te bak ’n suurlemoengeur aan die gebak te gee. Die olies word in baie mooi 250 ml-bottels verpak. Terloops, die donker kleur van die bottel verhoed dat die olie aan te veel lig blootgestel word en dan oksideer.

Mag die volgende paar weke vir jou en jou gesin ’n spesiale feestyd wees, met vele heerlike, gesonde etes aan jul tafel.

Resep

Botterskorsie-en-kekerertjieslaai

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3
Lewer 6 porsies

Bestanddele

5 ml (1 t) gemaalde koljander

5 ml (1 t) paprika

10 ml (2 t) gedroogde origanum

5 ml (1 t) gemaalde komyn

2,5 ml (½ t) kerriepoeier

45 ml (3 e) Westfalia suurlemoen-gegeurde avokado-olie

1,2 ml (¼ tsp) sout

30 ml (2 e) suurlemoensap

45 ml (3 e) water

500 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny

swartpeper na smaak

1 x 410 g-blik kekerertjies, gedreineer

1 x 410g-blik borlotti- of enige ander bone, gedreineer

handvol dwerg spinasieblare of 2 handevol klein slaaiblare

100 g bokmelk- of fetakaas, grof gekrummel

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Plaas speserye en helfte van die olie met sout, suurlemoensap, water en botterskorsie in ’n groot mengbak en meng goed.

2. Geur met swartpeper en skep uit op ’n groot bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is, of in ’n groot oondbak. Rooster vir 30 minute of tot botterskorsie net gaar is, maar nie pap nie.

3. Roer kekerertjies en bone by en laat afkoel. (Of as jy die botterskorsie die vorige dag al berei, laat dit eers afkoel en roer dan die res by.)

4. Pak die spinasie- of slaaiblare op ’n groot slaaibord en skep die botterskorsiemengsel bo-op. Krummel die kaas oor, giet die orige olie oor en sit met nog ‘n lekker draai swartpeper voor.

 

Wenke

1. Die kekerertjies en bone kan by die warm botterskorsie gemeng en nog ’n paar minute gerooster word, om as warm bygereg voor te sit. Los dan die spinasie- of slaaiblare uit en sit die kaas by net voor dit voorgesit word.

2. Sprinkel sonneblom- of pampoensade oor die slaai vir nog tekstuur.

3. Maak die slaai ’n ligte middagete en sit enige oorskiet-vleis daarby. Repies skaapvleis, gerookte vark of selfs geroosterde hoender sal heerlik wees.

Pin It on Pinterest

Share This