Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Eier-in-’n-koppie

Dec 1, 2017 | Breakfast, Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals

Kosblik 101

Spyskaart
Eier-in-’n-koppie
Slaaibestanddele soos klein tamaties, soetrissie

Die feestyd lê voor en daarmee saam, ’n tyd wanneer ons dikwels meer as gewoonlik eet. Sorg dat hierdie lekker eier-in-’n-koppie op jou ‘kos-agenda’ is vir die volgende paar vakansieweke. Dit is ’n heerlike vullende en gesonde ete, maar glad nie swaar nie, so jy kan wel nog later in die dag ’n feesete geniet. Die eier, murgpampoentjies, bone, spinasie, ’n bietjie pesto en kaas pas goed bymekaar en dis baie maklik om te maak. Van die bestanddele word eers bietjie gesoteer om dit nog geuriger te maak. Geniet die eier-in-’n-koppie as ’n ontbyt of ligte middagete. As jy dit in die regte houertjies stoom, bv. silikoonbakkies, kan dit selfs maklik in gepak word.

Amper enige bestanddele kan as ‘vulsel’ vir die bakkies gebruik word. Die idee is dat daar ’n voedsame en vullende kombinasie van bestanddele onder in die bakkie is en dan kraak jy ’n eier bo-op. Dit word in ’n waterbad op die stoof gestoom tot die eiergeel gaar is na jou smaak – ek hou veral daarvan as dit nog loperig is, sodat dit amper soos ’n ‘sousie’ oor die ander bestanddele loop wanneer jy dit begin eet. Heerlik!

Die eierbakkies is sommer ook ’n maklike manier om iets uit elke voedselgroep in die ete in te sluit, want die bone dien as bron van proteïen en is ’n vorm van stysel en absorbeer die ander geure baie goed. Die eier is ook ’n baie voedsame vorm van proteïen en iets wat so maklik is om gaar te maak. Alhoewel die eier ook ’n bron van noodsaaklike omega-olies is, soteer ek die groente in avokado-olie, wat bekend is vir die gesonde olies wat dit bevat. Verder het dit ’n baie hoë brandpunt wat die uitstekend maak om mee te soteer of braai. Eiers is ook baie veelsydig en pas by ’n wye verskeidenheid van geure en bestanddele, so skep jou eie kreatiewe kombinasies. Sit die eierbakkies met enige vars seisonale produkte voor, hetsy slaaibestanddele of vrugte.

Hier is die produkte wat ek vir hierdie resep gebruik het en ook trotse borge van die maand se Kosblik-insetsels op kykNet se Die Groot Ontbyt is.

Die resep kom oorspronklik uit Cooking from the heart se reeks resepteboeke en is ’n uitstekende voorbeeld van die basiese beginsels van ’n gesonde leefstyl.

Die Droëbone Produsente Organisasie produseer en versprei ’n wye verskeidenheid van gedroogde bone en ander peule, soos lensies. Vir hierdie resep het ek geblikte klein witboontjies gebruik en alhoewel ek graag self bone en lensies kook, is die gerief van ’n geblikte produk soms net wat ’n mens nodig het.

Westfalia se reeks veelsydige en heerlike avokado-olies is al geruime tyd in supermarkte beskikbaar, maar kyk gerus uit vir hul oogvang-mooi nuwe verpakking. Daar is vier geure in die reeks wat elk op ’n verskeidenheid van maniere en vir verskillende gaarmaakmetodes gebruik kan word. Volg hul Pinterest-blad of loer na nog lekker resepte op hul webwerf. http://www.westfaliafruit.com/

Resep

Eier-in-’n-koppie

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
Lewer 3 groter of 6 kleiner porsies

Bestanddele

10 ml (2 t) Westfalia gewone avokado-olie

1 ui, gekap

2 murgpampoentjies, in dun skyfies gesny

’n handvol dwergspinasieblare, fyngesny

1 x 410 g-blik klein witboontjies, gedreineer

15 ml (1 e) gedroogde origanum of 30 ml (2 e) gekapte vars origanum

1 skyf fetakaas, gekrummel

suurlemoensap en swartpeper na smaak

6 eiers

Metode

1. Verhit die olie oor ’n matige hitte in ’n braaipan (gebruik ’n AMC 24cm Chef’s pan sodat die bodem groot genoeg is) en braai die ui en murgpampoentjies tot net sag.

2. Meng die spinasie, bone en kruie by en braai vir ‘n paar minute tot die spinasie net sag word. Verwyder van die hitte en roer die helfte van die feta by en geur met suurlemoensap en swartpeper na smaak.

3. Verdeel die mengsel tussen 6 gesmeerde, groot ramekins of hittebestaande bakkies. Kies koppies of bakkies wat sal inpas in ’n kastrol of braaipan, sodat die deksel sal kan toemaak.

4. Verhit 2-3 cm water in ’n kastrol tot ’n matige hitte sodat dit begin prut. Die bakkies moet so half-lyf in die water staan. Toets die bakkies eers vooraf in die water, dat die pan nie te vol is nie.

5. Breek ‘n eier bo-oor in elke bakkie. Krummel die orige feta bo-oor.

6. Plaas die koppies versigtig in die kastrol en voeg nog kokende water by as dit nodig is.

7. Bedek met ’n deksel en verminder die hitte. Prut stadig vir 8-10 minute of tot die eiergele gaar is, na jou keuse.

8. Sit voor met ’n lepeltjie basiliekruidpesto, slaaibestanddele of vars vrugte.

Wenke

1. Berei die bakkies in die oond voor: Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer die bakkies soos hierbo en pak dit op ’n bakplaat. Verdeel die groente en bone tussen die bakkies. Bedek elke bakkie liggies met aluminiumfoelie en bak vir 10-15 minute of tot gestol tot jou smaak.

2. Enige oorblywende groente, vleis of hoender kan as vulsel gebruik word.

3. Vervang die murgpampoentjies met broccoli of 125 g sampioene, in skyfies gesny. Soteer soos hierbo.

Pin It on Pinterest

Share This