Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Appel-happies met grondboontjiebotter

Nov 6, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart
Hardgekookte Nulaid eiers
Rooi nierbone-slaai met komkommer, tamaties en ’n tuisgemaakte slaaisous
JOYA® appel-happies met grondboontjiebotter, muesli, neute en sade

Sodra die somer aanbreek, begin baie mense ’n hernude poging aanwend om gesond te leef en eet. Somersklere wys mos so bietjie meer as die winterlae waaronder ’n mens makliker jou lyf kan verbloem. Gesonde eetgewoontes is iets wat regtig nie so moeilik is om te volg nie en as die hele gesin dit hul manier van doen maak, is dit soveel makliker om dit heeljaar vol te hou.

Hou matigheid voor oë, eet ’n goeie variasie kossoorte en wel so vars en onverfyn as moontlik – dan het jy reeds ’n goeie beginpunt.

Dis ook nou eksamentyd en as jy jou kinders deur die jaar kan help en leer om gesonde eetgewoontes te volg, baat hulle beslis in hierdie meer spanningsvolle tyd daarby. November is ook bekend as diabetes-maand en in hierdie paar weke val die klem daarop dat mense wat hul bloedsuikervlakke moet bestuur, moet kyk na die tipe en hoeveelheid stysel wat hul in hul etes insluit, juis omdat hul lywe dit nie so maklik kan metaboliseer en benut nie. As dit nie bestuur word nie, kan dit groot probleme en skade tot gevolg hê. Al hoe meer kinders word deesdae met Tipe 2 diabetes gediagnoseer en dit is grootliks te wyte aan hul leefstyl en die groot hoeveelheid verfynde en geprosesseerde kosse wat geëet word. Die rol van vroue en natuurlik veral ma’s of ander versorgers se rol om vir hul kinders voedsame kos voor te berei en beskikbaar te maak, kry veral hierdie jaar klem. Dink ‘n bietjie, wat gee jy vir jou kinders om te eet?

Cooking from the heart 3, Pharma Dynamics se laaste resepteboek fokus veral op diabetes en daar is heelwat resepte in om mense te wys en leer dat ‘n ete ewe geurig, lekker en vullend kan wees, sonder onnodig baie ‘wit’ of verfynde stysel. 

Die manier waarop diabete moet eet, is eintlik hoe ons almal verkieslik moet eet, met nie te veel stysel nie en wanneer ons stysel eet, moet dit so onverfynd en veselryk as moontlik wees.

Nog ‘n inisiatief van Pharma Dynamics is die Cooking from the heart ambassadeur, Ginger. Met hierdie ‘chat bot’ op hul Facebook-blad, probeer hulle swanger en borsvoedende ma’s aanmoedig om seker te maak dat hulle en hul kinders gesond eet en leef. As ’n ma in die eerste 1000 dae van ’n baba se lewe (van bevrugting tot sy/haar 2de verjaarsdag) kan sorg dat hul gesond eet en leef, is die kanse op leefstylsiekte net soveel kleiner. Die kinders het ook ’n voorsprong as dit by liggaamlike en brein-ontwikkeling kom.

Dit bly altyd belangrik om die regte koskeuses te maak, sodat jou bloedsuiker nie te veel styg en val deur die dag nie, maar stabiel bly. As jy dit kan regkry, is jy minder geneig om aanmekaar te wil peusel en sodoende ooreet. Voedsame kos wat jou langer versadig hou, is dus die mikpunt.

So sal ’n sny witbrood met konfyt jou byvoorbeeld nie lank versadig hou nie en dis ‘n onnodige klomp kilojoules, teenoor byvoorbeeld ’n halwe avokado met tuna. Hawermout met neute en bessies vir ontbyt of ’n eiergereg, is beslis meer voedsaam as ’n bakkie versoete bokspap met min voedingswaarde. Laat jou kinders in die kombuis help om hul opgewonde te maak oor dit wat op hul borde gaan wees. As daar voedsame bestanddele in die huis is, kan ouer kinders later selfs hul eie peuselhappies voorberei – soos hierdie maklike appelhappies. My kinders is dol daaroor en dis ’n ideale eksamen-peuselhappie. Beslis beter as ’n stafie sjokolade of ’n pakkie lekkergoed.

Vir dié happies, is JOYA® appels ideaal. Dis nou in seisoen en die sappige, soet appel is regtig lekker en baie veelsydig. Natuurlik kan die kraakvars appels net so geëet word, maar dis net so perfek om hierdie appelhappies mee te maak. Die helderrooi blos op die appel se wang is baie kenmerkend en laat enige gereg waarin dit gebruik word, sommer nog meer aptytlik lyk. JOYA® appels is beslis ’n gesonde peuselhappie vir aktiewe kinders en grootmense. Appels en grondboontjiebotter is ‘n bekende kombinasie en dit word juis gebruik vir dié happie-idee. As jy nie van grondboontjiebotter hou nie, is maaskaas ook lekker om te gebruik. Al wat jy dan nog nodig het, is ’n iets om op die happies te sprinkel, bv. tuisgemaakte muesli (hier is die skakel vir ’n paar weke gelede se resep) of jou gunsteling neute of sade, verkieslik rou en ongesout.

Onthou om die grondboontjiebotter se etiket te lees, sodat dit nie onnodige bygevoegde sout of suiker bevat nie. Kinders se palette raak die smaak hiervan gou gewoond en binnekort gaan hulle dalk vra dat jy nie meer die versoete weergawes koop nie.

Die res van vandag se ete moet wel nog steeds gebalanseerd wees. Om dit te verseker, is daar hardgekookte eiers en ‘n heerlike bone-slaai op die spyskaart. Die eiers is van Nulaid s’n en jy kan kies watter grootte die regte porsiegrootte vir jou gesin gaan wees. Jumbo-eiers is die grootste en natuurlik ‘n redelike stewige porsie proteïene. Die ander groottes is groot en ekstra-groot en enige van hierdie is geskik vir ‘n kosblik. Onthou net dat jy die tyd mooi moet dophou wanneer jy eiers kook, sodat jy weet of die geel nog sag en loperig of hard gaan wees – dit gebeur redelik vinnig, so hou dit mooi dop. Neem die tyd vandag die water liggies begin prut, maar die eiers moenie rond bons in die kastrol nie. Jumbo eiers sal so 7 minute kook om hard te wees. Onthou om die gekookte eiers se dop so gou as moontlik te kraak na dit gekook is en die eiers dan in koue water te laat afkoel. Dit help dat die geel nie so maklik verkleur nie en die eier skil aansienlik makliker af, anders kan die dop nogal klou. Eiers is egter nie net ’n bron van voedsame proteïne nie, maar ook vele ander voedingselemente en gesonde olies. Dit maak vinnig gaar en is ’n baie bekostigbare proteïen, so maak dit gerus gereeld deel van jul etes – van ontbyt tot ligte etes, aandete en natuurlik selfs kosblikke.  Vandag se boneslaai word met rooi nierbone gemaak, maar jy kan enige bone van jou keuse gebruik. Rooi nierbone is ’n hele proses om self te kook, so daarom is dit meestal in geblikte vorm beskikbaar soos wat die Droëbone Produsente Organisasie in winkels vir ons beskikbaar maak. Dit maak die bone baie gerieflik om te gebruik en dis ook ’n voedsame bestanddeel wat beide ’n bron van proteïene en goeie koolhidrate (stysel) is. Die hoë veselinhoud van bone maak dat dit jou langer laat vol voel en dus ideaal vir diabete. As jou kinders nie van die slaai-idee hou nie, gee vir hulle die bone net so en skink ‘n tuisgemaakte slaaisous of lekker olie oor om dit interessant te maak. Selfs net een slaaibestanddeel soos komkommer of tamatie kan lekker wees daarmee saam. Of pak dan die bone en slaaibestanddele apart in as hulle dit so verkies. Sommige kinders hou meer van lensies, so dit kan ook gebruik word. Die slaaisous hier onder is baie eenvoudig, maar heerlik en perfek met bone.

Resepte

JOYA® appel-happies met grondboontjiebotter

Lewer 10-12 porsies

Bestanddele

1-2 JOYA® appels

75 ml (5 e) grondboontjiebotter

60 ml (¼ k) tuisgemaakte muesli

60 ml (¼ k) gekapte neute, bv. amandels

30 ml (2 e) sonneblomsaad

Metode

1. Verwyder die kern van elke appel met ’n appelboor. Sny die heel appels elk in 5-6 skyfies om sirkels te vorm.

2. Smeer elke appelskyf met grondboontjiebotter. Strooi muesli, neute en sade na smaak oor en geniet as ’n peuselhappie.

3. Pak die elemente in aparte bakkies om dit deel te maak van ‘n kosblik. Onthou om ’n teelepel of messie vir die smeerwerk in te pak. Die appel kan vooraf opgesny word – onthou net om die skywe in ’n bietjie water af te spoel om te verhoed dat dit verkleur en doen die snywerk met ’n skerp groentemessie. Die appelhappies kan dan gebou word net voor dit geëet gaan word.

Slaai met rooi nierbone

Lewer 3-4 porsies

Metode

‘n Slaaisous kan ’n paar basiese slaaibestanddele in ’n feesmaal omskep – en veral ’n tuisgemaakte slaaisous. Hierdie slaaisous met speserye is perfek met bone. Meng 15 ml (1 e) suurlemoensap, 30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie, 2,5 ml (½ t) gemaalde komyn, 5 ml (1 t) heuning (opsioneel) en ’n knippie gerookte paprika. Geur met swartpeper. Berei ’n slaai met 1 x 410 g-blik rooi nierbone, gedreineer; komkommer, in blokkies gesny; klein tamaties, gehalveer en ’n handvol vars koljanderblare.

Pin It on Pinterest

Share This