Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Kosblik 101

Spyskaart
Een-eier omelette met maaskaas en kruie
Broccoli, sampioene, wortels en bloubessies
Sonneblomsaad

Leef gesond: vir party mense is dit net eenvoudig ’n makliker ding om reg te kry as vir ander. Dalk is dit te danke aan die manier waarop jy groot geword het en hoe julle by die huis geëet het. Soms is mense net so gedissiplineerd, dat hulle kan hou by die besluit om gesonder te leef. Vir ander was daar dalk ’n spesifieke rede wat hul net laat besluit: ‘dis tyd om gesonder te leef en eet’ of dalk het jou dokter jou aangespreek en nou is dit jou nuwe manier van doen.

Hoe dit ook al sy, die beginsels vir ’n gesonde leefstyl is nie baie ingewikkeld of moeilik om te volg nie. As jy kan onthou om matigheid voor oë te hou, ’n groot verskeidenheid kossoorte in te sluit en so vars en onverfynd of ongeprosesserd as moontlik te probeer eet en gereeld oefening te kry, is jy reeds op die regte spoor. Met matige porsies, kan jy amper eet net waarvan jy wil, maar dan moet die balans mooi gehou word met kos wat regtig voedsaam is.

Al wat jy dan nog nodig het, is ’n stel maklike en geurige resepte om jou aan te spoor om self te kook, in plaas daarvan om op voorafbereide etes of wegneemkos staat te maak. Die reeks resepteboeke van Pharma Dynamics, Cooking from the heart is gratis op hul webwerf beskikbaar en propvol wenke, idees en praktiese raad om ’n gesonde leefstyl makliker te maak. En dan is daar natuurlik ’n wonderlike verskeidenheid resepte wat met alledaagse bestanddele gemaak word.

Om ’n gesonde leefstyl te volg, hoef nie duur te wees nie. Met alledaagse bestanddele kan jy interessante etes voorberei en elke dag heerlik eet. Dit verg dalk so bietjie beplanning om seker te maak die regte bestanddele is op jou inkopielys en as jou week se spyskaarte so bietjie vooruit beplan is, maak dit dinge net soveel makliker – nie net vir aandetes nie, maar beslis ook vir daardie kosblikke wat gepak moet word.

Ek is dol oor eiers – vir verskeie redes. Dis ’n baie bekostigbare bestanddeel, veral in ag genome hoeveel voedingswaarde daar in een eierdop opgesluit is. Dis ook nie net die proteïen in eier wat belangrik is nie, dis ook ’n goeie bron van ander noodsaaklike vitamiene, minerale en gesonde olies. Eiers is ongelooflik veelsydig, meer as baie ander bestanddele waaraan ek kan dink. En die veelsydigheid is nie net die feit dat dit vir van soetgebak tot ’n maaltyd gebruik kan word nie, maar het jy al gedink by hoeveel ander bestanddele eiers pas? Dit is juis wat hierdie een-eier omelette so perfek maak, want ’n wye verskeidenheid bestanddele kan as vulsel gebruik word. Kyk na die wenke onderaan die resep vir nog idees. Dalk hou jou kinders nie van kruie in die omelet nie, maar dan kan jy vir hulle dalk kaas gebruik?

Nulaid se ekstra-groot eiers is ideaal vir dié resep, want in ’n 20-24 cm pannetjie is die omelet steeds dun genoeg, maar ook dik en stewig genoeg om gevul te kan word. Dis letterlik een eier en een eetlepel water wat saam geklits word om, soos ’n pannekoek, as omelet te bak. Bak een of twee omelette vir elke kind en dalk selfs drie vir ’n grootmens. As die omelet gevul is en in skyfies gesny word, noem ek dit sommer ‘eier-sushi’.

Saam met die omelette kan jy enige vars bestanddele inpak om seker te maak die kosblik is gebalanseerd. Hierdie tyd van die jaar word die verskeidenheid vars vrugte en groente ook meer, so daar is baie om uit te kies. Probeer om die kosblik (of ete) so kleurvol as moontlik te maak, dan weet jy reeds dat jy ’n verskeidenheid voedingstowwe ingesluit het. Probeer beslis ook om nie alles gaar te maak nie, maar pak bv. sommer rou wortels, sampioene en klein tamaties in. Elke ete moet ook gesonde olies insluit, so saam met dit wat in die eiers is, is iets soos ’n bakkie neute of sade perfek. Dit kan selfs as peuselhappie later in die dag geëet word.

Bessies is nou in seisoen, so benut dit ten volle. Hierdie mooi kleurvolle vruggies is nie net vir garnering of nagereg bedoel nie en hulle is regtig gesond, aangesien dit ryk is aan antioksidante, vitamiene en minerale. Daar is ’n variasie om uit te kies, van aarbeie tot bloubessies of frambose.

Soos met baie ander bestanddele, is die meeste etikette en verpakking deesdae in Engels. Dit het tot gevolg het dat ons soms net in Engels daarna verwys en amper vergeet wat die mooi Afrikaanse woorde is. Bessies in ’n goeie voorbeeld: bloubessies is vir my so ’n mooi woord en dit beskryf die bessie, so dis maklik om af te lei van ’n blueberry. Maar het jy geweet dat ’n raspberry ’n framboos is of ’n gooseberry eintlik ’n appelliefie? Bessiename in Afrikaans is van my gunsteling-koswoorde. Wat is jou gunstelingwoord?

Die ATKV sal beslis een van hul doelwitte bereik, as ons kinders ook hierdie mooi Afrikaanse woorde en beskrywings leer, sodat hulle dit weer eendag vir hul kinders kan leer. Dalk kuier jul as gesin binnekort op een van die ATKV se vakansieoorde, gaan eet dan by die Koswerf-restaurant en geniet sommer die mooi Afrikaanse name vir geregte wat op hul spyskaart gebruik word.

Resep

Een-eier omelet

Lewer 1 omelet

Bestanddele

Jy het die volgende bestanddele vir elke omelette nodig:

1 Nulaid ekstra-groot eier, geklits

15 ml (1 e) water

sout en pepper

10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie

gladde maaskaas

handvol vars kruie, bv. dille, pietersielie of tiemie, gekap

Metode

1. Klits die eier en water saam en geur met sout en peper.

2. Verhit olie oor matige hitte in ’n 20 cm pan (gebruik ’n AMC 20 cm Skillet of 24 cm Chef’s Pan) ‘n bak ’n dun omelet tot net gestol. Draai om en bak vir ’n minuut aan die ander kant – amper soos wat jy ’n pannekoek sal bak. Skep uit en laat afkoel. (Berei een tot drie omelette vir elke gesinslid.)

3. Smeer gladde maaskaas oor die omelet en strooi kruie van jul keuse oor. Rol op en sny in die helfte of in dik skyfies. Geniet as deel van ’n ligte maaltyd met groente en slaai of pak in kosblikke met vars bestanddele.

Wenk

1. Amper enige iets kan as vulsel in die omelette gebruik word. Geblikte tuna, gerasperde wortel, basiliekruidpesto wat met maaskaas gemeng is of bietjie gerasperde kaas sal heerlik wees.

Pin It on Pinterest

Share This