Subscribe to Posts

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Pan-omelet met mielies & ertjies

Oct 6, 2017 | Breakfast, Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals

Kosblik 101

Spyskaart
Pan-omelet met mielies, ertjies en kaas (resep aangepas uit Cooking from the heart 2)
Tamaties, komkommer en papaja
Makadamia-neute

Eiers is beslis nie net vir ontbyt bedoel nie. Ja, mens gebruik dit ook gereeld in gebakte produkte of in iets waar bestanddele saamgebind moet word, maar moenie buite rekening laat hoe lekker iets soos ’n omelet vir middagete of ’n ligte aandete kan wees nie. Wat vir my so lekker daarvan is, is die wye verskeidenheid van bestanddele wat by eiers pas. Van kruie en verskillende soorte kaas, tot groente soos sampioene, ertjies, murgpampoentjies, uie, sprietuie en selfs spinasie, om maar net ’n paar te noem.

Eiers is mos ook baie voedsaam en’n baie bekostigbare bestanddeel wat ek altyd in my kombuis het. ’n Omelet is eintlik ook ’n eenvoudige gereg om te maak. En as jy sukkel om ’n tradisioneel toegevoude omelet te maak, is hierdie pan-omelet net vir jou bedoel. Gebruik soveel eiers soos wat jy wil en besluit hoe groot die pan moet wees – dit sal bepaal hoe dik die omelet is. Twee ekstra-groot eiers per persoon, met groente of kaas as vulsel, sal ’n heerlike ligte maaltyd wees. Kleiner kinders sal dalk net een eier se omelet wil eet, maar dis gelukkig maklik genoeg om die hoeveelheid eiers aan te pas.

Onthou dat eiers teen ’n redelike lae temperatuur begin stol en vinnig gaar word, so moenie die pan te warm maak nie. Eier wat te warm geword het, raak maklik rubberig en stoot ook makliker vog uit, wat die eindresultaat nogal onaptytlik kan maak. Vir roereier word daar dikwels water of melk by die geklitste eier gevoeg om ’n sagter mengsel te vorm, maar vir hierdie pan-omelet is dit beter om nie vloeistof by te voeg nie. Dit help om te verseker dat die omelet stewig genoeg is om die ander bestanddele te ‘dra’ en sodat dit maklik in wiggies gesny kan word. Die groente wat bygevoeg word, het ook vog in, so dit help dat die omelet nie droog is nie.

Nulaid het verskillende groottes eiers, so as jy so ’n pan-omelet vir ’n nog meer vullende maaltyd wil maak, kan selfs van die jumbo-eiers gebruik word. Jy kan dan selfs ’n bietjie meer groente byvoeg. Vir hierdie resep het ekstra-groot eiers uitstekend gewerk, maar gebruik wat vir jou gesin die beste werk. Dieselfde geld vir die vulsel-opsies – gebruik iets waarvan jou gesin sal hou. As jy ’n kleiner pannetjie gebruik kan jy selfs twee of drie omelette met verskillende groentes maak, sodat daar iets vir almal se smaak is.

Met die resepte in Cooking from the heart, is een van die belangrike punte dat dit resepte moet wees wat die hele gesin kan geniet. Om gesond te eet, moet vir almal ’n leefstyl wees, sonder dat dit onnodige moeite beteken. Om lekker en gesond te eet, is ook nie moeilik nie. Hierdie resepteboekies is ’n uitstekende voorbeeld van ’n wye verskeidenheid bekostigbare gesinsresepte met bekende bestanddele. Besoek gerus hul webwerf as jy meer sulke resepte nodig het: http://cookingfromtheheart.co.za/

Die groente in die resep is bevrore ertjies en mielies, maar dit kan met vele ander opsies vervang word. Onthou net dat indien jy iets soos sampioene of selfs uie wil gebruik, dit ‘n goeie wenk is om die groente eers vooraf in ’n skeut olyf- of avokado-olie te soteer, sodat daar nie onnodig vog in die eiermengsel is nie.

Die Cooking from the heart filosofie fokus ook daarop dat alle etes, insluitend kosblikke, voedsaam en gebalanseerd moet wees. Kyk gerus wat het ek alles nog ingepak om die ete interessant en gesond te hou. Daar is geen brood in die ete nie, want daar is genoeg ander maniere om koolhidrate in die ete in die sluit. Die groente in die omelet is reeds deel daarvan. Deur ander groente en seisoensvrugte in te pak, sluit jy nog koolhidrate en ’n verskeidenheid van ander vitamiene en minerale in.

Iets soos ’n halwe klein papaja is heerlik om met ’n teelepel uit die skil te eet. Pak dit so in ‘n kosblik en onthou net om ’n lepel ook in te pak. En dan het ’n gebalanseerde ete altyd gesonde olies ook ingesluit. Daar is baie maniere om dit te doen, bv. met neute, sade, avokado – wat terloops heerlik is met eier en olierige vis. Eiers bevat ook gesonde olies, so selfs deur dit ’n hoofbestanddeel te maak, is daar reeds olies in die ete ingesluit. Maak die eier in avokado- of olyfolie gaar, dan sluit jy nog ’n bietjie by die ete in. Vir vandag se kosblik, is daar makadamia-neute om saam met die ete, of as peuselhappie later deur die dag te geniet.

Gepraat van neute – die ATKV borg hierdie maand elke week vir ons ’n woord. Daar is nogal heelwat koswoorde wat in bekende Afrikaanse idiome gebruik word. Dink maar aan iets soos ‘dis ’n harde neut om te kraak’, of ‘jy doen iets nie om dowe neute nie’. In Nederlands is ’n dowe neut, ’n leë neut. Die idoom gee dus te kenne dat iets nie sonder ’n spesifieke doel gedoen word nie. Ons praat beslis ’n baie mooi taal. Nog ’n plek waar jy ons mooi taal op ’n interessante manier sal beleef, is by die ATKV se Koswerf-restaurante op hul oorde, waar die spyskaarte iets vir elkeen in die gesin aanbied. Besoek gerus ’n oord of hul webwerf om te kyk waar die naaste oord aan jou geleë is: http://www.atkvoorde.co.za/

Resep

Pan-omelet met mielies, ertjies & kaas

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
Lewer 4 porsies

Bestanddele

8-10 Nulaid ekstra-groot eiers, geklits

2,5 ml (½ t) sout

swartpeper na smaak

15 ml (1 e) avokado- of olyfolie

80 ml (⅓ k) bevrore ertjies, afgespoel

80 ml (⅓ k) bevrore heelpit mielies, afgespoel

125 ml (½ k) gerasperde pecorino- of cheddarkaas

Metode

1. Geur die eiers met die sout en peper.

2. Verhit olie oor matige hitte in ’n braaipan (’n AMC 28 cm of 24 cm Chef’s werk goed, afhangend van hoe dik jy die omelet verkies) en skink die eiers in die pan.

3. Laat eiers effens begin stol en lig die gaar eier al om die rand van die pan met ’n eierspaan, sodat die rou eier onder dit kan inloop, maar moet dit nie roer nie. Laat dit gaar word tot die meeste van die eier gestol het.

4. Strooi die ertjies, mielies en kaas bo-oor.

5. Sit die deksel vir ’n paar minute op, of tot die eier heeltemal gestol en die kaas gesmelt is.

6. Lig die omelet met ‘n eierspaan uit die pan, laat effens afkoel en sny in wiggies om in ‘n kosblik te pak. Of geniet as ontbyt, ligte middag- of aandete.

 

Wenk

1. Vars kruie is heerlik saam met eier, klits 45 ml (3 e) gekapte vars kruie met die sout en peper by die eiers. Probeer gerus origanum, Italiaanse pietersielie, dille of tiemie.

Pin It on Pinterest

Share This