Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Karringmelkbrood

Sep 29, 2017 | Baking, Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart
Karringmelkbrood met kaas (resep aangepas uit Cooking from the heart 1)
Oorskiet-braaivleis, bv. varknek-steaks
Broccoli, bloubessies, aarbeie en neute

Die skoolvakansie het aangebreek en al is dit net ‘n week lank, gee dit mens darem tog so ‘n bietjie asemskepkans. Selfs al moet ouers dalk steeds werk, is die kinders se skedules bietjie rustiger en kry julle dalk selfs kans om iewers in die week ‘n braaivleisvuur aan te steek en as gesin saam te kuier.

Die warmer dae gee ons ook meer kans om buite te kuier, selfs hier in die Kaap, waar dit soggens en saans nog koelerig kan wees. (En ons hoop so hard dat dit reën, dat ons eintlik maar te dankbaar is vir koeler dae.)

Tuisgebakte brood bly ‘n smullekker bederf en as jy nie ‘n geoefende gis-bakker is nie, is hierdie brood ideaal om met ‘n volgende braaivleis-ete te maak. Ek het die oorspronklike resep uit Cooking from the heart se eerste resepteboek so bietjie aangepas om hierdie weergawe te maak.

Die resep is ook al voorheen op Kosblik as muffins gebak, so dis nog ‘n voorbeeld van ‘n resep wat jy op meer as een manier kan gebruik – veral as dit iets is waarvan jou gesin hou. Ek het ‘n bietjie paprika en meer vars kruie gebruik, beide bestanddele wat baie lekker is saam met kaas. Iets soos fyngesnyde pikantrissies (Peppadews®) sal ook baie lekker wees.

Met ‘n tuisgebakte brood weet jy ook presies watter bestanddele daarin is. Die steengemaalde volkoringmeel gee die brood ‘n lekker tekstuur en inderdaad ook ‘n baie lekker smaak.  Steengemaalde meel is tipies minder verfyn, bevat minder bleikmiddels en ondergaan minder chemiese prosesse om gemaal te word. Dit beteken dat daar meer van die natuurlike voedingswaarde behoue bly, wat ‘n meer natuurlike produk tot gevolg het. Volkoringmeel bevat ook meer vesel, wat jou langer versadig sal hou as ‘n witbrood. Soos lekker soos dit is om met gis ‘n brood te bak, is daar soms nie genoeg tyd om deur die hele rys- en afknieproses te gaan nie en dan is dit nog steeds lekker om ‘n tuisgebakte brood met bakpoeier te kan voorsit.

Wanneer bakpoeier in ‘n broodresep gebruik word, moet dit in verhouding tot die ander bestanddele reg wees, want niemand hou van ‘n bakpoeier-smaak (agter jou tande) nie. ‘n Tipiese verhouding is 5 ml bakpoeier vir elke 250 ml (1 k) meel en saam met die eiers en karringmelk, het die brood genoeg volume en ‘n lekker sagte tekstuur, sonder dat te veel bakpoeier nodig is. Die kombinasie van eiers en karringmelk beteken ook dat daar nie olie of nog ‘n ander vorm van vet nodig is nie. Karringmelk is vir my ‘n wonderlike bestanddeel om ‘n verskeidenheid geregte mee te maak, en veral mee te bak.

Brood is seker een van die algemeenste items in menige kosblikke. Ek probeer om dit so ver as moontlik vir ‘n bederf te gebruik, sodat die kosblik elke dag anders en veral gebalanseerd kan wees. Te veel brood is vir niemand goed nie, want selfs net een of twee snytjies, kan nogal onnodig baie stysel deel maak van jou etes.

Iets waaroor ek al baie op Kosblik gesels het, is maklike maniere om kosblikke gebalanseerd te hou. Een opsie is om jou aandetes so te beplan dat iets daarvan kan oorbly of gebruik word vir ‘n kosblik. As jy beplan om hierdie brood te bak vir ‘n braaivleis-ete, braai sommer ‘n ekstra stukkie vleis om te kan inpak. En as jy van die karringmelkbrood vir kosblikke wil oorhou, bak by voorbaat twee brode, want as dit eers uit die oond kom, verdwyn dit in ‘n oogwink. En ‘n geroosterde snytjie die volgende dag is ook nie te versmaaie nie. Seisonale bestanddele is nog ‘n maklike manier om ‘n kosblik interessant en gebalanseerd te hou. Hierdie tyd van die jaar word die verskeidenheid ook al hoe groter, so benut dit ten volle.

Die eiers in die broodresep vervul verskeie rolle – dit help om die ander bestanddele saam te bind en dra ook by tot die volume en tekstuur van die resep. Eiers verleen beide ‘n sagte tekstuur aan die brood en help dat dit nie te droog voorkom nie. Verder is ‘n eier mos ‘n baie voedsame bestanddeel en dit word outomaties deel van die brood. Dis ook nie net ‘n vorm van proteïen nie, maar is ‘n goeie bron van belangrike vitamiene en minerale, anti-oksidante en gesonde vette. Vir die broodresep is twee van Nulaid se groot eiers gebruik – onthou dat die regte eiergrootte veral vir gebak nogal belangrik is, sodat dit in die regte verhouding tot die ander bestanddele gebruik word.

Karringmelk is ‘n woord wat sommer lekker van my tong af rol. En dit ‘sê’ nie net lekker nie, dis ook baie beskrywend, want dit verwys na die vloeistof wat oorbly nadat botter gekarring is. Deesdae word karringmelk met ‘n heel ander proses vervaardig. As botter op die oudtydse manier van melk of room gekarring word, bly daar ‘n effense suur vloeistof oor. Dit is ook dikwels in die kombuis gebruik en het ook as karringmelk bekend gestaan.

Terloops, as ‘n resep vir karringmelk vra en jy nie gekoopte karringmelk het nie, kan jy vir iets soos hierdie brood ‘n vinnige plan maak. Gebruik dieselfde hoeveelheid melk, klits vir elke koppie melk 15 ml suurlemoensap by tot die melk verdik en begin lyk asof dit wil skif, en gebruik in plaas van die karringmelk in die resep.

Aangesien dit vir my so ‘n mooi woord is, is dit ook die woord wat die ATKV hierdie week op Kosblik borg. Die ATKV het nie net ‘n assosiasie met ons mooi taal nie, maar ook met lekker gesinsvakansies. Hul oorde dwarsdeur die land is baie gewild, so as jy dalk beplan om in die vakansieweek daar ‘n draai te maak, moet jy gou spring en ‘n bespreking maak. Of betyds beplan as jy dalk in Desember of Januarie daar wil gaan ontspan. Onthou ook dat hul Koswerf-restaurante iets vir elkeen in die gesin op die spyskaart het – van geroosterde kaasbroodjies, ja daardie waarin die kaas so treeek, tot ‘n sappige steak of wat van ‘n bord vol stiekie-hoendervlerkies?

Resep

Karringmelkbrood met kaas

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 1 brood

Bestanddele

750 ml (3 k) steengemaalde volkoringmeel

15 ml (1 e) bakpoeier

5 ml (1 t) paprika

2,5 ml (½ t) sout

2 Nulaid groot eiers, geklits

500 ml (2 k) karringmelk

15 ml (1 e) elk vars gekapte pietersielie en tiemie

125 ml (½ k) grofgerasperde cheddarkaas

7,5 ml (½ e) sesamsaad

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n 1,5 liter-broodpan met bakpapier uit. Smeer liggies met olie.

2. Sit die droë bestanddele in ‘n groot mengbak. Klits die eiers en karringmelk saam en roer die kruie en helfte van die kaas by. Roer net tot al die droë bestanddele ingemeng is en moenie te veel meng nie.

3. Skep die beslag in die broodpan en strooi die res van die kaas en sesamsaad oor.

4. Bak vir 45 minute tot 1 uur of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat ’n paar minute op ’n afkoelrakkie staan en keer dan versigtig uit.

5. Laat effens afkoel en sny in skywe om as bygereg met braaivleis voor te sit. Die brood is die volgende dag heerlik in ’n kosblik.

Pin It on Pinterest

Share This