Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Maalvleis-&-eierbakkies met appelslaai

Aug 18, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Salad as a side

Kosblik 101

Spyskaart
Maalvleis-en-eierbakkies (resep aangepas uit Cooking from the heart 1, met Nulaid eiers)
Pink Lady® appelslaai met komkommer en feta
Halo waterbottel

As jy al voorheen na van die #Kosblik-insetsels gekyk en van die resepte gebruik het, is daar teen die tyd ’n paar beginsels waarmee jy nou al vertroud is. Maar dalk is dit jou eerste keer wat jy van hierdie maklike resepte gebruik, so kom ek som dit gou op.

  1. Kosblikke is iets wat vir die hele gesin bedoel is – lankal nie meer net skoolkinders nie, want almal moet gesond eet en boonop is iets uit jou eie kombuis tien teen een meer bekostigbaar en gesonder as ’n opsie uit die kafeteria of wegneem-eetplek.
  2. Gebalanseerde, voedsame kosblikke is die mikpunt vir elke dag en die makliskte manier om dit reg te kry, is om iets uit elke voedselgroep in te pak. Net nóg ’n toebroodjie met iets daarop, gaan dalk nie altyd voedsaam of vullend genoeg wees nie.
  3. Gepraat van vullend – dis die doel van ’n kosblik, dit moet die ‘eter’ versadig hou tot die volgende ete of tot hulle weer by die huis is.
  4. Berei geurige etes met seisonale bestanddele en verkieslik so natuurlik en onverfynd as moontlik.
  5. Met ’n bietjie beplanning is kosblik-pak glad nie so moeilik nie. Maak genoeg aandete, dan is die helfte van die kosblik-dinkwerk reeds gedoen, want iets wat vir aandete lekker is, is dikwels maklik om nét so of met ’n ekstratjie hier en daar, ’n heerlike kosblik-ete te word.

Hierdie week se maalvleisbakkies, is ’n idee wat ek al voorheen met ’n bobotiemengsel berei het – beslis een van my kinders se groot gunstelinge. So, nog ’n kosblik-wenk: as ek weet my kinders hou van iets in hul kosblikke, maak ek dit graag weer, maar die geheim is om so nou en dan iets daaraan te verander, soos die geure in die maalvleis, sodat hulle nou ook weer nie uitgeëet raak aan een ding nie. My mikpunt is beslis dat daardie kosblik leeg huistoe kom, so dit is my manier om dit interessant en lekker te hou. Die maalvleismengsel word dié week soos ’n Italiaanse maalvleismengsel berei, in plaas van die vorige bobotiemengsel. Berei dus genoeg maalvleis vir aandete en hou genoeg oor om ’n hele paar maalvleisbakkies mee te bak. Wanneer ek in die kombuis besig is, is dit amper makliker om van die begin af 2 kg maalvleis gaar te maak – dan is daar vir aandete genoeg, selfs dalk vir ’n tweede ete om te vries en 500 g om die bakkies mee te bak. Al hierdie kosblik-beginsels pas in by die resepte en manier van eet en leef wat in die reeks Cooking from the heart resepteboekies uiteengesit word. Met natuurlike geurmiddels soos wortel, tamatie, kruie en speserye maak jy ’n smullekker maalvleismengsel wat sommer ook lekker veelsydig is om op gebakte patats, in ’n herderspastei of op pasta te geniet.

Dis so maklik en vinnig om die gaar maalvleis met geklitste eiers te meng en bak dit sommer terwyl julle aandete eet. Die eiers bind die mengsel baie suksesvol saam en die bakkies is stewig genoeg om teen kamertemperatuur met die hand te eet. Verder sal die eiers die voedingswaarde van die bakkies verhoog, aangesien dit ’n uitstekende bron van proteïene is. Eiers is ryk aan ’n verskeidenheid belangrike nutriënte, soos gesonde vette en minerale wat belangrik is vir effektiewe breinfunksionering. Vir vandag se resep gebruik ek van Nulaid se jumbo eiers, maar die ander groottes wat hulle voorsien kan net so goed werk, dus groot of ekstra-groot eiers. Lees gerus die wenk onderaan die resep hoe dit aangepas kan word. Eiers is inderdaad veelsydig.

Daar is groente in die maalvleisbakkies en saam met die eiers is dit al amper genoeg om die kosblik vullend en voedsaam te maak. Sit iets vars by, soos die slaai en iets om aan te peusel later deur die dag, bv. neute. Nou is daar iets uit elke belangrike voedselgroep en ’n interessante ete wat almal kan geniet. As kleiner kinders nie van ’n gemengde slaai hou nie, kan al die slaaibestanddele apart ingepak word. Meeste kinders hou van appel en komkommer en sommige is selfs dol oor feta en sonneblomsade.

Vir vandag se appelslaai het ek Pink Lady® appels gebruik, aangesien hulle nog in seisoen is. Dit bly belangrik om selfs in die winter ook vars bestanddele deel te maak van jul etes en as sommige hiervan rou kan wees, selfs nog beter. Probeer dus om op ’n kreatiewe manier vars goed te eet, selfs wanneer mens dalk nie lus is vir ’n tipiese slaai, soos in die somer nie.

‘n Kraakvars appel soos hierdie mooi Pink Lady® appels is ideaal, want dis ’n soet, sappige appel en regtig lekker in so ’n eenvoudige slaai. Groter kinders en volwassenes sal beslis van die kruisement, sonneblompitte en feta daarmee saam hou. Ek noem dit sommer ’n winterslaai, want dis ’n goeie voorbeeld van net ’n paar bekende bestanddele wat nog lekkerder smaak wanneer dit gekombineer word. Die pienk skil van die appel maak dit sommer ook meer aptytlik, want ons eet mos eintlik eerste met ons oë. In die koeler maande is koljanderblare ook in seisoen en heerlik met appel. Selfs avokado kan deel wees van hierdie slaai.

Om genoeg water te drink, is belangrik vir ’n gesonde metabolisme en jou hare, vel en naels baat ook sommer daarby. As ouer sukkel ’n mens soms om jou kinders (en jouself) veral in die winter te oortuig en te herinner om gereeld water te drink. Halo se waterbottels kan nogal help. Kinders is dol oor die helder kleure en as elkeen ’n kleur kies, weet almal wie se bottel is wie s’n. Daar is blou, groen, pienk en pers om van te kies en wel ook in twee groottes, 350 ml en 750 ml. Kyk gerus vir die hervulbare, herwinbare bottels in groot supermarkte of bestel dit van hul webwerf (http://www.drinkhalo.co.za) en moedig so jou hele gesin aan om dit ‘n leefstyl te maak om genoeg water te drink.

Resepte

Maalvleis-&-eierbakkies

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 20 – 24 bakkies

Bestanddele

15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie

500 g maer maalvleis

1 ui, gekap

1 selderystingel met die blare, gekap

2 knoffelhuisies, gekneus

2 wortels, gerasper

10 ml (2 t) elk gedroogde tiemie en gemengde kruie

1 x 410 g-blik gekapte tamaties

15 ml (1 e) tamatiepasta

2,5 ml (½ t) sout

suurlemoensap en swartpeper na smaak

6 of 7 Nulaid jumbo-eiers, geklits

Metode

1. Verhit helfte van die olie in ’n groot braaipan (’n AMC 28 Chef’s Pan werk goed) en braai maalvleis tot verbruin. Skep uit en hou eenkant.

2. Verhit die orige olie in dieselde pan en braai ui, seldery en knoffel vir ’n paar minute.

3. Roer wortels, kruie, tamaties, tamatiepasta en sout met die maalvleis by. Verlaag die hitte, plaas die deksel op en prut vir 30-45 minute tot die maalvleismengsel gaar is. Die sous behoort ook te begin verdik, want die mengsel moenie te waterig wees nie.

4. Geur na smaak met suurlemoensap en peper. Laat heeltemal afkoel.

5. Voorverhit oond tot 180 °C en smeer twee muffinpanne liggies met olie.

6. Roer eiers baie goed deur die maalvleismengsel and skep in muffinpanne. Bak 20-25 minute of tot gaar en gestol.

7. Laat ’n paar minute afkoel en skep versigtig uit. Laat afkoel en hou in die yskas tot dit in die kosblikke gepak gaan word.

Wenk

1. As jy nie jumbo-eiers het nie, kan enige ander grootte werk, pas net die aantal eiers dienooreenkomstig aan. Gebruik bv 7 ektra-groot of 8 groot eiers.

Pink Lady® appelslaai met komkommer & feta

Lewer 4 porsies

Bestanddele

¼-½ komkommer, in blokkies gesny

1 skyf fetakaas, in blokkies gesny

2-3 Pink Lady® appels met die skil, in blokkies gesny

’n groot handvol geroosterde sonneblomsaad

handvol kruisementblare

olyfolie om oor te skink

Metode

1. Meng al die bestanddele saam en skink ’n bietjie olyfolie oor.
2. Sit voor as ’n bygereg of pak ’n porsie in ’n kosblik.

Pin It on Pinterest

Share This