Subscribe to Posts

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Botterskorsie-&-blomkoolkoekies

Aug 14, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Botterskorsie-en-blomkoolkoekies
Biltong, neute en groente, Pink Lady® appel
Halo waterbottel

As ek kreatief kan wees met ‘n bygereg, dan voel ‘n ete sommer interessanter. Dis maklik om ‘n vleisgereg of snit waarvan my gesin hou gereeld gaar te maak en dan met bygeregte die week se spyskaarte af te wissel. Ja, soms werk die teenoorgestelde weer lekker, om ‘n gewilde bygereg te herhaal en net met ‘n ander vleissnit voor te sit en op die manier kan jy met min moeite almal aan tafel gelukkig hou.

Vandag se resep is ‘n blink idee om met ‘n bekende bygereg iets ‘nuuts’ te maak. Almal ken kapokaartappels, maar dit hoef lankal nie net meer met aartappels gemaak te word nie. In dieselfde asem hoef pampoenkoekies nie net met fyngedrukte pampoen gemaak te word nie. Ek maak al vir jare pampoenkoekies met botterskorsie, omdat dit dikwels soeter is en my gesin baie meer daarvan hou. En as ek dan nog iets daarmee kan maak wat sommer ook in ‘n kosblik werk, is dit ‘n verdere bonus.

Augustus is steeds kindergesondheidmaand, so ek moedig almal aan om moeite te doen met dit wat hulle vir hul kinders leer eet en voorberei. Die eetgewoontes wat jy as kind aanleer, is dikwels die manier waarop jy vir die res van jou lewe eet.

In Cooking from the heart se derde resepteboek ( sien http://www.cookingfromtheheart.co.za) het die resepte veral gefokus op geregte wat vir diabete tot voordeel is. ‘n Diabeet moet mooi kyk na die tipe en hoeveelheid stysel/koolhidrate wat hulle eet, omdat hulle dit nie so effektief en soms glad nie kan metaboliseer nie. Deur die regte keuses te maak, kan hul diabetes dus baie beter bestuur word. In kort gaan dit daaroor dat hul bloedsuikervlakke nie te veel moet wissel nie en na regte behoort ons almal op die manier te eet. Verfynde of ‘wit’ stysels is veral geneig om dit baie skielik te laat styg en weer val. As jou bloedsuikervlakke gebalanseerd en meer stabiel bly, is jy minder honger en geneig tot peusel. Wanneer jy dan kosse eet wat jou langer versadig hou, is jy op die regte kosspoor.

Die botterskorsie-en-blomkoolkapok, is ‘n variasie op bekende kapokaartappels. Deur ander groente met minder stysel as aartappels te gebruik, is daar sommer ook nog ander voedingswaarde ingesluit. Die volkoringmeel in die resep dra ook by tot die vesel wat jou voller sal laat voel. ‘n Wye verskeidenheid groente kan met ‘n bietjie volkoringmeel en eiers in ‘n plaatkoekie omskep word. Botterskorsie en blomkool werk uitstekend, so maak sommer uit die staanspoor genoeg groente vir kapok met aandete en dan is dit vinnig om die plaatkoekies te braai. Of as jy sommer van die begin af die plaatkoekies as bygereg wil maak, gaan jou gesin beslis nie kla nie. Kook dalk al die vorige aand terwyl jy in die kombuis is, die groente. Dan het dit genoeg tyd om af te koel en is dit maklik en vinnig om te meng en braai.

Onthou om dit oor ‘n matige hitte in ‘n dun lagie olie te braai, want die koekies moet beslis nie olierig wees nie, veral nie as dit die volgende dag in ‘n kosblik gepak moet word nie. Verskillende geurmiddels is lekker met die twee soorte groentes. Vars kruie, neutmuskaat, gemengde speserye, kaneel en selfs paprika sal werk.

Nog ‘n beginsel van Cooking from the heart, is om elke ete en ook kosblik, so gebalanseerd en voedsaam as moontlik te maak. Deur iets uit elke voedselgroep in te sluit, verseker jy reeds dat etes ‘n verskeidenheid van voedingselemente insluit. Vir vandag se kosblik is daar ook skyfies biltong of ander oorskiet-vleis, groente, neute en vrugte ingepak.

Soos ek genoem het, kan baie soorte groente in so ‘n koekie omskep word. Al wat jy daarby nodig het, is ‘n bietjie meel of selfs hawermout, ‘n bietjie bakpoeier en dan natuurlik eiers. Nulaid het ‘n uitstekende verskeidenheid groottes om van te kies en vir vandag se resep gebruik ek twee ekstra-groot eiers. Dit verseker dat al die bestanddele saamgebind word en maklik bak, sonder om uit mekaar te val of te breek. Eiers dra beslis ook by tot die voedsaamheid van die koekies, want dit is ‘n uitstekende bron van proteïene en ander belangrike voedingselemente wat alles baie belangrik is vir ‘n kind se groei, voeding en ontwikkeling. Eiers sal ook ‘n sagte tekstuur van die koekies verseker en help dat die eindresultaat glad nie droog is nie.

Onthou altyd om eiers reg te stoor. In die koue maande kan dit vir ‘n paar dae teen kamertemperatuur in die kombuis gehou word. Dit sal wel langer in die yskas hou, maar onthou dat die doppe poreus is en maklik ander geure kan absorbeer. Het jy al per ongeluk eiers en koejawels te naby aan mekaar in die yskas gestoor en gewonder hoekom die eiers na koejawels proe? En van doppe gepraat, eierdoppe is ideaal om deel te maak van ‘n komposhoop of wurmplaas – moet dit beslis nie in die drom gooi nie. Of spoel die eierdoppe uit, laat dit droog word en breek dit in kleiner stukkies om rondom plante te gooi. Dis ‘n effektiewe groen manier om wurms en slakke van kruie en slaaiblare weg te hou.

Nog ‘n groen manier om oor kos te dink, is om so seisoenaal as moontlik te koop en eet. En wat dan beter as Pink Lady® appels wat nou in seisoen is? Die pragtige pienk appels word met ekstra moeite (en liefde) versorg om seker te maak dat dit lank genoeg aan die bome bly hang om genoeg hitte, sonlig en selfs koue te kry om die perfekte balans van sappigheid, kleur en geur te verkry. Dis ‘n heerlike bros, soet appel wat beslis my kinders se gunsteling is. Dis iets wat ons amper elke dag in hul kosblikke en hul peusel graag aan appels deur die dag ook. So ondersteun gerus ons plaaslike boere en koop van hierdie mooie appels terwyl die seisoen nog aan die gang is. En as jy appels in ‘n kosblik pak of as ‘n peuselhappie gee, moenie dit afskil nie. Die meeste voedingswaarde is in en net onder die skil en die skil dra ook by tot die veselinhoud van die vrug, wat ‘n kind juis langer versadig sal hou. Kombineer dit met neute iewers deur die loop van die dag om as ‘n ideal peuselhappie te dien.

Daar is ‘n hele reeks resepte vir allerhande idees met appels op die webwerf, besoek dit gerus.

‘n Ander webwerf wat jy maar kan besoek, is Halo water s’n, as jy wil kyk waar jy maklik van die kleurvolle waterbottels in die hande kan kry. Daar is heelwat groot supermarkte wat dit reeds versprei of maak kontak op hul webwerf om joune te bestel. Hierdie bottels is herwinbaar, hersirkuleerbaar en maklik om oor en oor vol te maak. Dis ook nie net vir kinders se kosblikke geskik nie, maar iets wat elke lid van die gesin maar kan aanskaf. Of jy nou by die werk en skool, in die kar of gymnasium of sommer net by die huis is, is dit vir almal noodsaaklik om elke dag genoeg water te drink. Kinders is dol oor die kleure en sommige skole verkoop dit selfs by hul snoepies en sportgeleenthede.

Lekker kook die week!

Resep
Botterskorsie-&-blomkoolkoekies

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer 12 – 15 koekies

Bestanddele

400 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny

200 g blomkool, in klein blommetjies gesny

2,5 ml (½ t) sout

2 takkies vars tiemie

250 ml (1 k) steengemaalde volkoringmeel

5 ml (1 t) bakpoeier

knippie gemaalde neutmuskaat of gemaalde gemenge speserye

2 ekstra-groot Nulaid eiers, geklits

15 ml (1 e) gekapte vars tiemieblare

suurlemoensap en swartpeper na smaak

10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie, vir braai

Metode

1. Plaas botterskorsie, blomkool, sout en tiemietakkies in ’n kastrol met sowat 200 ml water. (’n AMC 20 cm Low is die ideale grootte). Bring oor matige hitte tot kookpunt, verlaag die hitte en prut vir 20 minute of tot die groente sag is.

2. Dreineer deeglik. Plaas groente terug in die kastrol oor ‘n matige hitte en laat vir ’n paar minute stoom om enige ekstra vloeistof te laat verdamp.

3. Haal van die hitte af. Druk groente met ’n aartappeldrukker of vurk fyner. Laat ’n paar minute afkoel.

4. Roer die droë bestanddele en eiers by die groente. Geur met tiemieblare, suurlemoensap en peper. Roer net tot ’n beslag vorm.

5. Verhit ’n dun lagie van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan (soos ’n AMC 24 cm Chef’s Pan). Drup lepelsvol van die beslag in die pan en braai aan weerskante tot goudbruin en gaar. Herhaal met orige beslag.

6. Sit warm voor as bygereg of pak in ’n kosblik en geniet teen kamertemperatuur.

Pin It on Pinterest

Share This