Subscribe to Posts

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Pannekoeke met twee vulsels

Jul 31, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Pannekoeke met twee vulsels (met Nulaid eiers)

Soutvulsel: Tuna en maaskaas met slaaibestanddele

Soetvulsel: Pink Lady® appels met dadels en neute

Halo waterbottel

Min van ons kan die reuk van ‘n pannekoek ignoreer terwyl dit bak – daar is nou maar net iets bekoorliks daaraan en beslis koesterkos. Baie mense geniet dit as ‘n soet bederf met tee of koffie of as nagereg, maar dit kan ewe maklik ‘n maaltyd wees, as jy meer voedsame vulsels kies. Wees egter bewus daarvan dat dit ‘n ete met heelwat stysel tot gevolg kan hê, maar met ‘n paar slim keuses vir vulsels en die pannekoeke self, kan jy wel ‘n gesonder keuse maak.

Vir vandag se pannekoeke, het ek steengemaalde volgraanmeel gebruik, wat minder gebleik is en met minder chemikalieë vervaardig word. Dit is beslis geuriger en het ook van nature meer vesel en ander voedingswaarde wat nog in die meel behoue is. Hierdie meel gee die pannekoeke ‘n heerlike tekstuur en smaak en my gesin geniet dit altyd.

Ek verkies ook ‘n pannekoekresep met meer eiers in, wat dit ‘n ryker smaak gee en die pannekoeke ook sommer meer voedsaam maak. Hierdie resep gebruik drie van Nulaid se ekstra-groot eiers vir ‘n koppie meel, wat vir ‘n gewone pannekoekresep nogal baie is, maar dit is vir ‘n baie spesifieke doel so gebruik.

Eiers is beslis ‘n belangrike bestanddeel in ‘n pannekoekbeslag. Die eiers bind die res van die bestanddele met groot sukes saam en verleen ‘n baie sagte, hanteerbare tekstuur daaraan, selfs al word die pannekoek teen kamertemperatuur geëet. Terselfdertyd maak die ekstra eiers dit moontlik om papierdun pannekoeke te bak wat help dat dit nie ‘n onnodige swaar maaltyd word nie. In hierdie resep help die ekstra eiers ook dat daar nie bakpoeier nodig is nie, want dit kan soms nogal ‘n nasmaak in jou mond (of agter jou tande) laat. Dié pannekoeke, in ‘n Franse crêpe-styl, bak lekker vinnig en maklik en die resep kan maklik verdubbel word.

‘n Pannekoek is eintlik so ‘n eenvoudige ding, maar dit kan ‘n gesukkel afgee of ‘n baie olierige spul tot gevolg hê. Die eerste stap is dus om ‘n betroubare, deeglik getoetsde resep te gebruik. ‘n Maklike manier om seker te maak dat die pannekoeke nie te olierig is nie, is om ‘n bietjie olie in die beslag te gebruik. Dit beteken dat die pannekoeke makliker bak en dat jy heelwat minder olie in die pan nodig het, want dis dan selde nodig om vir elke pannekoeke weer die pan se smeer. ’n Matige hitte is ook ideaal, want anders brand die pannekoek voor dit gaar is.

In Pharma Dynamics se eerste Cooking from the heart resepteboek is daar juis ‘n pannekoekresep wat met vrugte as nagereg voorgesit is, maar dis ewe lekker met ‘n soutvulsel. Soos met alle ander resepte uit die reeks resepteboekies en soos ons al vir vorige Kosblik-insetsels gebruik het, bly dit belangrik om voedsame bestanddele te kies. Dit hoef nie duur of vreemde bestanddele te wees nie, maar verkieslik so vars en natuurlik as moontlik – dit bly ‘n belangrike deel van ‘n gesonde eetpatroon.

Pharma Dynamics se reeks resepteboekies het glad nie ten doel om ‘n dieët voor te skryf nie, maar as die basiese beginsels gevolg word, kan jy ‘n heerlike verskeidenheid maaltye maklik voorberei en geniet. Hierdie resepte is alles behalwe vaal of vervelig. Beide die pannekoekvulsels vir vandag se insetsel is ‘n goeie voorbeeld van sulke idees. Die soutvulsel is maklik om voor te berei en die slaaibestanddele wat daarmee saam gebruik word, kan na jou smaak aangepas word.

Die appelvulsel is ‘n resep wat oorspronklik met heel gebakte appels gemaak is, maar is juis vandag op ‘n nuwe manier gebruik om te wys dat die resepte in dié reeks dikwels op verskillende kreatiewe maniere vir jou gesin se etes gebruik kan word.

Hier is nog ‘n paar wenke om pannekoeke met sukses te bak:

  • gebruik ‘n pan met ‘n swaar bodem wat die hitte goed gelei – min panne bak ‘n pannekoek so lekker soos ‘n AMC pan
  • die regte temperatuur is belangrik – te koud, dan word dit nie gaar nie en absorbeer net al die olie; te warm, dan brand die pannekoek voor dit regtig gaar word
  • moenie te veel olie in die pan sit nie, dit maak die eindresultaat pap en olierig
  • bak die pannekoek tot dit bo-op gestol het, voor jy dit probeer omdraai, anders breek dit te maklik
  • moenie ‘n pannekoek te lank braai nie, dan word dit maklik droog en hard en dikwels onhanteerbaar as dit eers afgekoel het

Pink Lady® appels is nie sommer net nog ‘n appelsoort nie. Hierdie mooi appels met hul kenmerkende pienk blos en effense groen-geel skil, is nou in seisoen en beslis ‘n groot gunsteling vir my gesin. Die appel word met groot sorg verbou en het ‘n heerlike soet smaak wat selfs behoue bly wanneer dit gaargemaak word. Dit maak die appel juis ideaal vir vandag se pannekoekvulsel, want dan is daar geen suiker nodig nie. Ek skil nooit ‘n Pink Lady® appel nie, want die skil behou selfs die mooi kleur, al is dit gaar. Meeste van die voedingswaarde van ‘n appel sit ook by die skil, so leer gerus ook jou kinders om van kleins af ‘n appel met die skil te geniet. Appels is perfekte geurmaats vir bestanddele soos neute, speserye, klapper en hawermout en selfs net ‘n klein hoeveelheid hiervan is genoeg om die appel ‘n interessante pannekoekvulsel te maak. Die appels behou ook hul struktuur wanneer dit gerooster of gebak word, so dit word nie ‘n pappery nie.

In die winter moet ons nog steeds onthou om genoeg vloeistof in te neem en soms selfs ‘n groter poging aanwend om dit te onthou. Mens is soms onder die indruk dat jy minder vloeistof nodig het, omdat jy dalk minder sweet of dors voel. Maar dit bly belangrik vir ons metabolisme en algemene gesondheid om genoeg water te drink. Danielle Killian van Gauteng, is ‘n ma vir wie dit al hoe belangriker geword het om seker te maak dat haar kinders genoeg water drink, maar wel op ‘n volhoubare manier. Sy en haar kollegas het begin om herwinbare, hervulbare waterbottels in die mooiste helder kleure te vervaardig. Hierdie Halo waterbottels is so mooi, dat almal so een wil hê. Dit moedig almal sommer aan om elke dag genoeg water te drink, want jy kan die bottels nie miskyk nie. Daar is 750 ml en 350 ml bottels en die plastiek waaruit die bottels vervaardig word, het nie skadelike chemikalieë in wat oor tyd ongesond kan word om te gebruik nie. Die bottels is nou by sommige groot supermarkte, soos Checkers beskikbaar en word reeds gevul met water, verkoop. Besoek gerus hul webwerf as jy wil weet waar jy van hierdie vrolike bottels vir jou gesin kan kry.

Resepte

Pannekoeke met volkoringmeel

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!

Lewer 12 – 15 pannekoeke

Bestanddele

250 ml (1 k) steengemaalde volkoringmeel

2 ml sout

3 ekstra-groot Nulaid eiers, geklits

50 ml olie

325 ml melk

75 ml (5 e) koue water

olie om pannetjie te smeer

Metode

1. Meng meel en sout in ’n glasbak saam. Klits eiers en olie saam en meng met die droë bestanddele tot ’n gladde pasta vorm.

2. Klits melk en water saam en roer geleidelik by die meelmengsel terwyl dit voortdurend geklits word. Klits deeglik na elke byvoeging. Moenie al die vloeistof op een slag byvoeg nie – dit sal te maklik klonte vorm.

3. Verhit ’n 20 cm-pannetjie (’n AMC 20 cm Skillet of 24 cm Chef’s Pan werk goed) oor matige hitte en smeer die bodem met ’n klein bietjie olie. Skink sowat 60 ml beslag in die pan en versprei dit eweredig oor die bodem.

4. Bak die pannekoek tot dit bo-op stol, van die rand begin wegtrek en die onderkant goudbruin is. Draai om en bak vir nog ’n minuut aan die ander kant. ’n Pannekoek wat te lank gebak het, word rubberig en taai. Herhaal met die res van die beslag en ’n bietjie ekstra olie, indien nodig.

5. Sit pannekoeke voor met ‘n soutvulsel, bv. tuna en maaskaas (sien wenk*), of met ’n soetvulsel van jou keuse (sien die resep vir Appels met dadels en neute). Pannekoeke is ook natuurlik heerlik met kaneelsuiker en suurlemoenwigges.

Wenke

1. *Tuna-en-maaskaasvulsel: meng 125 ml (½ k) ongegeurde gladde maaskaas, 10 ml (2 t) aangemaakte mosterd of peperwortelsous, 15 ml (1 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie of grasuie en 1 x 170 g-blik tuna in water, gedreineer. Geur met suurlemoensap, sout en peper. Plaas vars bestanddele, soos roket-, of bronkorsblare, grofgerasperde wortel en komkommerlinte (met ’n aartappelskiller gesny) op elke pannekoek. Skep tunamengsel bo-op en rol die pannekoek op of vou dit toe. Pak in ’n kosblik of sit teen kamertemperatuur voor.

2. Om pannekoeke warm te hou: plaas pannekoeke op ’n groot bord en bedek met ’n deksel of stuk foelie. Hou dit warm oor ’n kastrol met liggies pruttende water terwyl die res gebak word.

Appels met dadels & neute

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer ongeveer 6 porsies

Bestanddele

30 ml (2 e) fyn klapper

30 ml (2 e) rou hawermout

60 ml (¼ k) gekapte rou amandels

30 ml (2 e) gekapte dadels

5 ml (1 t) gemaalde kaneel

knippie gemaalde naeltjies

4-6 (400-600 g) Pink Lady® appels met die skil, in dun wiggies gesny

15 ml (1 e) sagte botter

125 ml (½ k) sterk Rooibostee

175 ml ongegeurde of Griekse jogurt

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Meng die klapper, hawermout, neute, dadels en speserye saam tot goed gemeng.

2. Plaas appels in ’n oondbak, strooi klappermengsel bo-oor. Plaas klontjies botter bo-op en giet die tee oor.

3. Bak vir 15-20 minute of tot die appels net gaar is – meng een keer deur, indien nodig.

4. Skep die appelmengsel met die jogurt op pannekoeke, rol op en geniet as ’n soet bederf.

Pin It on Pinterest

Share This