Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Macaroni-en-kaas

Jul 17, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Macaroni-en-kaas met lensies

vars avokado, fyngedruk en gegeur

Dis die laaste week van die skoolvakansie en hopelik is daar nog lekker baie kans vir kuier om ‘n tafel vir aandetes met heerlike gesinskos. Daar is heelwat mense wat op Maandae kies om nie vleis te eet nie en alhoewel dit dalk na ‘n vreemde gedagte klink, is daar goeie motivering daarvoor. Eerstens is dit ‘n manier om seker te maak dat julle uit verskillende bronne proteïene kry, want elke groep verskaf ook ander voedingswaarde.

Vleis is ook ‘n goeie bron van yster en ander minerale, olierige vis is dikwels ryk aan die gesonde omega olies en lensies en peule verskaf ook goeie vesel en ander voedingswaarde. Verder is vegetariese etes dikwels ‘n manier om so bietjie ligter en selfs ook gesonder te eet – dalk nie so ‘n vreemde idee as ‘n mens dalk oor die naweek gebraai of andersins heelwat vleis geëet het nie.

Hierdie week se macaroni-en-kaas is sommer net ‘n lekker gesinsete uit Cooking from the heart. Vir Kosblik is die resep so bietjie aangepas om dit sommer nog vinniger gemaak, deur net ‘n melk en eiermengsel te gebruik en nie eers ‘n witsous te maak, soos met die oorspronklike resep nie. Die resepte in Cooking from the heart het almal ten doel om ons aan te moedig om vullend en voedsame etes te geniet. En as ‘n mens dit met alledaagse bestanddele kan doen, is dit selfs nog makliker om ‘n gesonde leefstyl volhoubaar te maak.

Onthou jy dalk ‘n lekker macaroni-en-kaas uit jou kinderdae? Of het jy dalk ‘n slegte ervaring daarmee gehad en wil dit liefs nie weer weet nie? Ek onthou in die koshuis was die gereg sulke stewige ‘blokke’ pasta met iets bygevoeg, wat regtig nie aptytlik was nie. Daarteenoor, is daar soveel lekker bestanddele wat ‘n mens by die basis van pasta en ‘n melkmengsel kan gebruik.

Alhoewel pasta maklik ‘n ete te swaar kan maak, met te veel stysel, is dit ook iets wat ons uit Cooking from the heart leer, om juis porsiebeheer toe te pas. As jy matigheid voor oë hou, kan jy maar ‘n bietjie pasta eet, sonder dat dit ‘n probleem sal wees, veral as die res van die bestanddele wat daarmee saam geniet word, heelwat voedingswaarde het.

Met beide eiers en lensies in die gereg, is daar twee goeie bronne van proteïene en aangesien dit met avokado voorgesit word, is daar ook ‘n lekker bron van gesonde olies in die ete.

Drie produkte is dus hier ter sprake: Westfalia se avokado’s en avo-olie, Nulaid eiers en lensies, wat een van die produkte is wat die Droëbone Produsente Organisasie verbou en bemark.

Die avokado en olies in Westfalia se reeks is baie gesond en ook ‘n lekker manier om veral in die winter na jou hare, naels en vel om te sien, aangesien dit alles baatvind by genoeg gesonde olies. In hierdie resep en kosblik, is die avokado ook ‘n lekker alternatief vir iets soos blatjang wat baie mense graag saam met hul etes eet. Dit is ongelukkig ‘n bestanddeel wat baie bygevoegde suiker kan bevat, so lees beslis die etiket as jy wel lief is daarvoor en gebruik spaarsamig.

Druk die avokado fyn en meng dit met ‘n skeut Westfalia avokado-olie om dit ‘n interessante geur te gee en sommer ook te verhoed dat die avo verkleur. Daar is verskillende oliegeure in die reeks wat op dieselfde manier gebruik kan word.

‘n Macaroni-en-kaas se sous kan ‘n witsousbasis wees of anders is ‘n mengsel van melk en eiers ewe suksesvol om alles saam te bind. Die twee opsies se tekstuur en smaak sal verskil, maar daar is menige macaroni-resepte met een van hierdie twee as basis.

Vir ‘n vinnige mengsel is dit gerieflik om melk met genoeg geklitste eiers te meng, sodat dit sal stol en die ander bestanddele saam bind. Te min eier gaan die mengsel waterig maak en te veel eier sal dit ‘n stywe tekstuur gee, wat nogal droog kan voorkom. Nulaid se verskillende grootte eiers maak dit maklik om te kan besluit hoeveel eiers nodig is, na gelang van die hoeveelheid melk wat gebruik word. Reken op ten minste 3 ekstra-groot of 4 groot eiers vir elke 600 ml melk. Omdat eier redelik maklik stol, sal dit juis die gewenste rol vervul. Verder is die eiers natuurlik ‘n uitstekende bron van proteïen in die ete, want die tipe proteïen in eiers verteer maklik en is belangrik vir spierbou. Eiers bevat ook heelwat noodsaaklike vitamiene en minerale wat ons algemene gesondheid en immuniteit en veral kinders se ontwikkeling ‘n hupstoot kan gee.

Die Droëbone Produsente Organisasie is ‘n wonderlike bron van inligting oor wenke en idees om lensies en peule gereeld deel te maak van ons maaltye. Rooi of bruin lensies en al die soorte droë bone kan reg deur die jaar vir ‘n wye verskeidenheid geregte gebruik word, van bygeregte tot slaaie en natuurlik vegetariese etes. Bone en lensies is ‘n goeie alternatief vir proteïene en dra natuurlik ook by tot die koolhidrate in die ete, gesonde vesel en dis van nature laag in sout.

Geblikte lensies word vir hierdie resep gebruik, maar dit neem net 30 minute om bruin lensies self te kook en dan is daar sommer minder sout in die gereg. As jy geblikte lensies gebruik, is dit raadsaam om dit met skoon water af te spoel en goed te dreineer en dan vir die resep te gebruik, om van onnodige sout ontslae te raak.

Resepte

Macaroni-en-kaas met lensies

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1

Lewer 6 porsies

Bestanddele

300 g macaroni

½ t (2,5 ml) sout

1 e (15 ml) Westfalia avokado-olie

1 k (250 ml) gaar lensies, gedreineer

1 k (250 ml) gemengde bevrore groente, afgespoel

1 sny bruinbrood

4 t (20 ml) vars tiemieblare

100 ml gerasperde cheddarkaas

Sous

600 ml melk

3 ekstra-groot of 4 groot Nulaid eiers

1 t (5 ml) Worcestersous

1 t (5 ml) aangemaakte mosterd

½ tsp (2,5 ml) sout

suurlemoensap en swartpeper na smaak

Metode

1. Plaas water in ’n groot kastrol en bring oor matige hitte tot kookpunt (gebruik ’n AMC 24 cm High). Voeg macaroni en sout by en kook tot gaar. Dreineer en meng die olie by.

2. Sous: Klits al die bestanddele saam.

3. Voorvehit die oond tot 180 °C. Roer die lensies en groente by die pasta en skep in ’n oondbak.

4. Skink die eiermengsel oor die pasta. Krummel die brood met jou vingerpunte en meng met die tiemie en kaas.

5. Sprinkel die broodkrummels oor die pasta en bak vir 25 minute of tot goudbruin en deurwarm.

6. Sit met vars avokado voor – dit is baie lekker om die avo fyn te druk en dit met Westfalia se suurlemoen-gegeurde avokado-olie te geur. As die macaroni vir aandete gebmaak word, sal ‘n slaai ook lekker wees daarmee saam.

Pin It on Pinterest

Share This