Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Lensieslaai en appelballetjies

Jun 19, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Lensie-en-kruieslaai met tamatie, voorgesit met oorskiet-braaivleis

Pink Lady® appelballetjies

Dis eksamentyd! Ek onthou nog baie goed hoe lus mens raak vir peusel as jy so agter die boeke sit. As Ma is dit nou vir my belangrik dat daar vir my kinders iets meer as net soetgoed is, wanneer daardie lus hulle beetpak. Kinders se breine moet beslis in die eksamen so helder as moontlik wees, en dan is suiker beslis nie ideaal nie. Dit kan hul dalk vir ‘n rukkie energiek laat voel, maar suiker is ook ongelukkig bekend daarvoor dat dit mens minder helder kan laat voel – en dis die laaste ding wat enige een in die eksamen nodig het.

Die peuselhappies wat ek vir vandag maak, is ‘n idee wat ons al voorheen op #Kosblik gebruik het. Dit was so gewild, dat ek nou graag hierdie weergawe ook wil deel. Ek het so ‘n paar ander bestanddele gekombineer, maar die basis bly steeds vars Pink Lady® appels wat met rou hawermout, speserye en neute gemeng en dan in balletjies gerol word.

Pink Lady® appels is van nature soet genoeg dat ‘n mens dit vir baie meer as net ‘n peuselhappie kan gebruik. Die soet appels is heerlik bros en baie sappig, wat dit ideaal maak vir iets soos hierdie appelballetjies. Die kombinasie van neute, vars appel en sade beteken dat dit propvol vesel is, wat jou energievlakke langer gebalanseerd gaan hou, as die suiker wat in sjokolade of ander lekkers is en jou bloedsuikervlakke vinnig kan laat wipplankry. Porsiebeheer bly natuurlik nog belangrik, maar ‘n houer vol van hierdie balletjies is beslis beter om aan te peusel as ‘n stafie oorsoet sjokolade. Onthou om appels met die skil te gebruik. Dit gee sommer ‘n ekstra bietjie kleur aan die balletjies en is juis ‘n belangrike deel van die voedingswaarde van ‘n appel.

Om seisonale produkte, soos die appels te gebruik, is ook deel van die filosofie wat in die reeks resepteboekies van Cooking from the heart gebruik word. Hoe meer vars bestanddele en hoe minder verfynde of hoogs-geprosesseerde produkte gebruik word, hoe gesonder eet jy en jou gesin heel waarskynlik. Dit is ook nie moeilik om dit te doen nie. Soms verg dit net so ‘n bietjie beplanning, veral as dit by kosblikke kom.

Die lensieslaai vir vandag se kosblik, was oorspronklik as bygereg in die resepteboek voorgesit. Bygeregte kan soms juis die gereg wees wat ‘n gewone ete in iets interessant omskep. Of dalk is jy opsoek na nuwe idees om bietjie minder ‘wit stysel’ te eet en dan is hierdie ‘n heerlike alternatief. Stysels soos rys, pasta of aartappels het dikwels ‘n baie hoë koolhidraatinhoud, sonder dat daar baie ander voedingswaarde in die gereg is nie. As dit met iets soos hierdie lensieslaai vergelyk word, is daar reeds ander voedingswaarde, teksture en kleure ook ingesluit. ‘n Paar eenvoudige bestanddele kan ‘n heerlike kombinasie wees, wat met redelik min moeite voorberei kan word. Kyk gerus na die webwerf as jy nog sulke idees soek.

Terwyl ons nou oor lensies gesels… Die Droëbone Produsente Organisasie het ‘n wye reeks bone en lensies wat deel vorm van hul produkreeks. Hulle moedig ons ook aan om peule en bone gereeld deel te maak van ons etes. Droëbone, hetsy in hul droë of geblikte vorm, is van nature ryk aan vesels, laag in sout en bestanddele wat jou kan help om jou bloedsuikervlakke beter te bestuur. Die vesels in die bruinlensies in vandag se slaai, kan jou juis langer versadig hou en is daarom ‘n goeie keuse vir ‘n kosblik.

Lensies hoef nie soos bone eers geweek te word voor dit gekook word nie. Dit kook ook heelwat vinniger gaar, soortgelyk aan die kookproses vir rys. Rooi lensies kook selfs nog vinniger gaar. As jy regtig haastig is, is geblikte lensies ook redelik maklik bekombaar, maar die wat jy self kook, het dikwels ‘n lekkerder tekstuur. Bone en lensies het ‘n redelike neutrale smaak en kan die geure in ‘n gereg baie suksesvol absorbeer, wat dit juis geskik maar vir ‘n wye verskeidenheid van geure, van speserye tot kruie en ander vars bestanddele. Daar is nog heelwat inligting hieroor op hul webwerf.

Sit die slaai met braaivleis of ‘n geroosterde hoender iewers deur die loop van die naweek voor en maak genoeg dat daar vir Maandag of Dinsdag se kosblikke ook iets oorbly. Sit dit sommer met oorskiet braaivleis in die kosblik en in ‘n oogwink hetj y ‘n voor vir ‘n gebalanseerde ete ingepak.

En so gepraat van steak. Ja, ons het dit almal as ‘n Engelse woord geleer, maar dit is een van daardie woorde wat nou al heeltemal aamvaar en erken word in Afrikaans. Net nog ‘n bewys dat ons mooi taal gemaklik by moderne neigings kers vashou en voordurend nuut bly. Woorde soos kruisskyf en lendeskyf is wel die Afrikaanse woorde wat na ‘rump’ en ‘sirlon’ verwys, maar die oorkoepelende woord om na steaks te verwys, is standaard in beide tale.

Die ATKV oorde se nuwe Koswerf-restaurante doen ook baie moeite om op hul spyskaarte suiwer Afrikaans te gebruik en daar is selfs ‘n paar prettige maniere om na geregte te verwys. Die verskillende steaks op die spyskaart bly van die gewilde items en selfs daar word in breë na steaks verwys. Gaan loer gerus daar in as julle weer op ‘n oord kuier en maak sommer hier ‘n bespreking.

Resepte
Lensie-en-kruieslaai met tamatie

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer 6 porsies

Bestanddele

1 k (250 ml) rou bruin lensies

½ t (2,5 ml) sout

1 takkie vars roosmaryn of lourierblaar

1 e (15 ml) gedroogde gemengde kruie

1 knoffelhuisie, heel

2 t (10 ml) olyf- of avokado-olie

3 ryp tamaties, in blokkies gesny

3 e (45 ml) gekapte vars pietersielie

3 e (45 ml) gekapte vars origanum of meer pietersielie

suurlemoensap en swartpeper na smaak

½ komkommer, in blokkies gesny

⅔ k (160 ml) bevrore ertjies, afgespoel

Metode

1. Plaas lensies, sout, roosmaryn, gedroogde kruie en knoffel in ’n kastrol met 2½ k (625 ml) water. (‘n AMC 20 cm Low is ideaal.)

2. Bring oor matige hitte tot kookpunt, verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir 30 minute of tot die lensies net sag is. Dreineer deeglik.

3. Verhit olie in ’n braaipan (AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend) en soteer tamaties tot net sag. Roer dit met die vars kruie by die lensies.

4. Geur na smaak met suurlemoensap en peper. Laat afkoel en roer komkommer en ertjies by. Sit as a slaai of bygereg met ‘n vleisgereg van jou keuse voor.

Pink Lady® appelballetjies
Lewer ongeveer 18-20 balletjies.
Bestanddele

60 g (125 ml) gekapte rou makadamia-neute

75 g (125 ml) gekapte rou amandels

2 Pink Lady® appels, met die skil aan grof gerasper

3 e (45 ml) lynsaad

2 k (500 ml) rou gerolde hawermout

1 t (5 ml) gemaalde gemengde speserye

⅓ k (80 ml) gedroogde rooi bosbessies of rosyntjies

1 t (5 ml) vanieljegeursel

Metode

1. Meng die twee soorte neute saam in ’n voedselverwerker tot dit amper soos ’n neutbotter lyk.

2. Voeg die appel en die res van die bestanddele by die neutmengsel en meng tot dit amper soos koekiedeeg lyk.

3. Rol eetlepelsvol van die mengsel in balletjies en pak in ’n lugdigte houer. Bêre in die yskas vir 3-5 dae.

Pin It on Pinterest

Share This