Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Vark-kebabs en boneslaai

Jun 5, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Vark-kebabs met Pink Lady® appels (resep uit Cooking from the heart 1)

Witbone-slaai met feta en songedroogde tamaties

Die sinergie van kosgeure bly vir my een van die lekkertes van eet. As twee bestanddele mekaar aanvul tot ‘n selfs geuriger smaak, het jy nie veel meer op jou bord nodig vir ‘n genotvolle ete nie. Sommige bestanddele is alombekend daarvoor dat dit mekaar komplimenteer, dink maar net aan vis en suurlemoen of tamatie en vars basiliekruid. Die spreekwoord sê mos ook, dit pas soos vinkel en koljander.

Hierdie week se resepte is juis weer iets wat vir aandete gemaak kan word. Berei sommer van die begin genoeg dat dit vinnig is om later ‘n kosblik te pak. Varkvleis en appel word dikwels saam in ‘n resep gebruik, omdat die natuurlike soet smaak van die appel baie lekker is saam met die vleis. Suurlemoen is ‘n geurmiddel wat uitstekend by albei bestanddele pas en wanneer appel in ‘n sout gereg gebruik word, is tiemie ideaal. Vark en tiemie is ook ‘n bekende kombinasie, so as hierdie elemente alles saam gebruik word, is dit sommer nog lekkerder, sonder dat dit ‘n gekompliseerde resep hoef te wees.

Die beginsel van ‘n sinergie van geure is ‘n praktiese aspek van ‘n gesonde leefstyl. As eenvoudige kombinasies mekaar aanvul en reeds lekker is, het jy min ander bestanddele nodig om dit verder te geur. Deur só te kook, vind jy dikwels dat jy minder sout of dalk ander ongesonde bestanddele hoef by te voeg om ‘n gereg lekker te maak. Die vleis word in ‘n mengsel van suurlemoen en kruie gemarineer en jy sal vind dat jy minder sout nodig het as jy suurlemoen op vleis gebruik, so moenie in die versoeking kom om te veel sout op die vleis te sit nie.

Die gaarmaakmetode wat vir ‘n gereg gekies word, speel ook ‘n groot rol in die geur daarvan. Verder is dit belangrik om nie kos oorgaar te maak nie, want dan gaan baie van die geur en dikwels ook die voedingswaarde verlore. Dink maar aan oorgaar groente of vleis: dis vaal en smakeloos. Vandag se kebabs kan dalk vir ‘n naweek-ete oor die kole gaargemaak word of braai dit ewe suksesvol in ‘n pan, maar maak seker dat die varkvleis nie droog word nie en steeds sappig is. Dis juis ook van die beginsels in Pharma Dynamics se reeks resepteboekies Cooking from the heart – om seker te maak dat kos se natuurlike geure en voedingswaarde so goed as moontlik behoue bly. Die resepteboekies het ook heelwat praktiese wenke en idees om jou werk in die kombuis makliker en effektiewer te maak en ‘n gesonde leefstyl vir die hele gesin haalbaar te maak. Laai gerus die boekies hier gratis af: http://www.cookingfromtheheart.co.za

Pink Lady® appels is nou in seisoen en die perfekte keuse vir hierdie kebabs. Die appels het van nature ‘n heerlike sappige soet smaak en pas uitstekend by die ander geure in die gereg. Verder is dit ‘n appel wat maklik op ‘n stokkie ryg, sonder dat die blokkies breek. Wanneer die appel gaargemaak word, behou dit wel die struktuur baie goed. Dis nogal belangrik vir iets soos hierdie kebabs, want ‘n appel wat maklik blus as dit gaar word, sal van die stokkies afval en ‘n redelike onaptytlike eindresultaat lewer. Pink Lady® appels verloor ook nie heeltemal hul kleur as dit gaar is nie, so dit laat die kebabs nog mooier vertoon ook. Hierdie soort appel is ook ewe lekker om in soet en sout geregte te gebruik en beslis meer as net ‘n peuselhappie in ‘n kosblik.

‘n Voedsame kosblik moet beslis gebalanseerd wees, met iets uit elke voedselgroep. Die kebabs word hierdie week met ‘n vinnige boneslaai voorgesit en jy kan byna enige slaaibestanddele waarvan jou gesin hou, hiervoor gebruik. Die bone is vir hierdie ete deel van die stysel, in plaas van iets anders soos aartappels of brood, wat dalk dikwels ingepak word. Gerieflikheidshalwe gebruik ek ‘n blikkie witbone. Maak seker dat die bone goed gedreineer is en onthou om nie die vloeistof uit die blik weg te gooi nie – vries dit en gebruik dit later as aftreksel in ‘n wintersop of -bredie.

Die Droëbone Produsente Organisasie doen baie moeite om verbruikers bewus te maak van al die maniere waarop bone in etes gebruik kan word. Bone is van nature hoog in vesel en omdat dit ‘n neutrale smaak het, kan dit met ‘n verskeidenheid ander bestanddele en geure gekombineer word. Dis veral lekker om bredies en soppe in die winter mee aan te vul en is ‘n bekostigbare bron van proteïen en koolhidrate. Bone kan ook as bygereg of slaai gebruik word, so dit is regtig veelsydig.

Vandag se slaai word met feta en songedroogde tamaties gemaak, so moenie in die versoeking kom om sout oor die slaai te sit nie. Die bone word in soutwater ingemaak en die feta is redelik sout. Die gemarineerde tamaties is ook baie geurig en jy kan sommer die marinade as slaaisous gebruik, so dis vinnig, maklik en geurig.

As die wintermaande op ons kalenders begin, is daar ook binne ‘n paar weke die vooruitsig van ‘n lang skoolvakansie. Vir baie mense is dit ‘n kans om as gesin bietjie tyd saam te spandeer en dalk te kan weggaan. As jy kans kry om hierdie jaar weg te gaan en beplan om by ‘n ATKV-oord te gaan ontspan, loer gerus ook in by die Koswerf-restaurant op die oord. Daar is iets op die spyskaart vir elkeen in die gesin en selfs ‘n paar nuwe geregte, spesiaal vir die vakansie.

Die ATKV borg weer hierdie week vir ons ‘n woord, alhoewel dit eintlik meer as net ‘n woord is, maar ‘n baie mooi uitdrukking. Die ‘sinergie van geure’ is soms nét die beskrywing wat jy nodig het as twee of meer bestanddele ‘n ontploffing van geure in jou mond word. Die woord sinergie verwys na die beginsel dat 1 + 1 gelyk is aan meer as 2. Die geheel is dus groter as die som van die enkele dele. Ek hoop dat dit gereeld waar is in jou kombuis.

Resepte
Vark-kebabs met appel

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

2 e (30 ml) suurlemoensap

2 e (30 ml) olyf- of avokado-olie

2 e (30 ml) gekapte vars tiemie of origanum

½ t (2,5 ml) sout

swartpeper na smaak

500 g varkboud of -skouer, oortollige vet verwyder en in blokkies gesny

1 rooi soetrisse, ontpit en in stukkies gesny

1-2 Pink Lady® appels met die skil aan, ontpit, in agstes gesny en elk gehalveer

Metode

1. Meng die suurlemoensap, olie, kruie, sout en peper saam.

2. Plaas die vleis in ‘n mengbak en bedek met die marinade.

3. Marineer vir 30 minute tot 1 uur.

4. Ryg vleis, soetrissie en appelblokkies op kebabstokkies. Braai oor matige kole en verf die kebabs met van die marinade terwyl dit vir 8-10 minute braai of tot net gaar – die vleis moet steeds sappig wees en die appel net gaar. Die kebabs kan ook oor matige hitte in ‘n pan gebraai word.

Witbone-slaai
Met feta en songedroogde tamaties
Metode

Meng die volgende bestanddele saam vir ‘n vinnige slaai wat as stysel vir ‘n maaltyd of kosblik geniet kan word. Dreineer 1 x 410 g-blik witbone en meng met ’n skyf feta, in blokkies gesny; 6-8 gemarineerde songedroogde tamaties, in repies gesny; ’n groot handvol roketblare of ander kruie van jou keuse en sonneblomsade. Gebruik die tamatie-marinade as slaaisous, indien verkies of gebruik ‘n skeut olyfolie as slaaisous.

 

Pin It on Pinterest

Share This