Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Bobotie-frikkadelle en neute

May 29, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Bobotie-frikkadelle

Slaaibestanddele, bv soetrissie, broccoli, mielies

Geroosterde neute-&-sademengsel

Ongegeurde jogurt met JAZZ™ Appel

Vandag se kosblik het twee resepte, wat beide goeie voorbeelde is van hoe maklik dit is om ‘n bekende resep met ‘n verandering hier en daar, in iets nuuts te omskep. Die spyskaart is beslis weer, net soos al die vorige kosblikke wat tot op hede beplan en gepak is, gebalanseerd, vullend en voedsaam, met iets uit elke voedselgroep.

Een van die praktiese kosblik-beginsels waaroor ons al baie gesels het, is beplanning. As daar iets is wat jy vir aandete kan gebruik of vooraf in groter hoeveelhede kan maak, is helfte van die werk klaar gedoen. Dan hoef jy dit letterlik net in te pak.

Die frikkadelletjies is ‘n heerlike aandete en kan met groot sukses gevries word, so maak beslis genoeg. Ons het al ‘n hele paar keer van te vore frikkadelletjies gemaak, maar hierdie keer is die geurmiddels weer op ‘n ander manier lekker interessant, sodat jou gesin gaan voel asof hulle iets nuuts in hul kosblikke kry. Die geurmiddels is soortgelyk aan dié wat in ‘n bobotie gebruik word. Dis eintlik so ‘n eenvoudige idee om bietjie verandering teweeg te bring, maar tog nie iets wat mens dikwels doen nie.

Met die reeks resepte uit Cooking from the heart, het jy ‘n goeie basis van gesonde, maklike en bekostigbare resepte vir die hele gesin en met ‘n verandering of twee hier en daar, behoort jy meer as genoeg idees te hê om kosblikke te kan pak. Die resepte word gereeld op Kosblik gebruik of effens aangepas, as dit ‘n gewilde resep is wat almal geniet of wat ons al voorheen gebruik het.

Die resep wat wel vandag uit Cooking from the heart gebruik word, is die geroosterde neute-&-sademengsel. Die oorspronklike resep het ander speserye gebruik, maar om dit juis vir vandag se spyskaart ideaal te maak, is dit met ‘soeter’ speserye soos kaneel, gerooster. Jy kan dieselfde resep met ander speserye van jou keuse ook maak, bv komyn, gerookte paprika of selfs ‘n tikkie kerriepoeier.

Neute en sade is ‘n belangrike deel van ‘n kosblik, want behalwe vir die feit dat dit op verskillende maniere gebruik kan word, is dit ‘n uitstekende bron van gesonde olies. Hierdie olies is belangrik vir goeie breinfunksie, mooi naels, hare en vel. Gebruik die neute as peuselhappie, met ontbyt, sprinkel dit oor geroosterde groente of ‘n slaai. Of peusel daaraan as jy laatmiddag begin honger voel. Onthou om met rou, ongeroosterde neute te begin, want dan is daar nie onnodig baie sout op nie en kan jy beheer hoe lank dit gerooster word. Hoe langer neute en sade aan hitte blootgestel word, hoe meer van die gesonde olies gaan verlore. Die aromatiese speserye maak dit onnnodig om sout daarop te sit. Maak sommer ‘n groot hoeveelheid van die neutemengsel en hou dit in ‘n lugdigte houer vir nog ‘n paar dae se kosblikke of as peuselhappie by die huis.

Appel en kaneel is ‘n bekende kombinasie en juis daarom is die neute heerlik saam met JAZZ™ Appels wat nou in seisoen is. Die soet appels is lekker bros, het ‘n verfrissende smaak en is sommer baie veelsydig, want saam met die jogurt en neute, is dit ewe lekker vir ontbyt, nagereg of as peuselhappie. Sny die appel, met die skil aan, in blokkies en pak in lagies met ongegeurde jogurt en die neutemengsel, of pak alles apart in en meng dit wanneer dit geëet gaan word.

Onthou om ongegeurde jogurt te gebruik, want vooraf-gegeurde jogurt bevat dikwels onnodig baie suiker. Die soet JAZZ™ appel en soeter speserye is meer as genoeg om die gevoel van ‘n versoete jogurt te gee, maar is heelwat gesonder. Die kombinasie is selfs ideaal vir mense wat sukkel om vroegoggend ontbyt te eet. Pak die appel, jogurt en neute in om later deur die oggend te geniet.

‘n Frikkadelresep kan op verskillende maniere gemaak word. Daar word dikwels brood of hawermout in die mengsel gebruik, om dit saam te bind. Dit word egter nie in hierdie resep gebruik nie, om dit geskik te maak vir diegene wat verkies om nie brood te eet nie. Die bindwerk word dan met ‘n eier gedoen, en soos in heelwat vorige Kosblik-insetsels, gebruik ons Nulaid se eiers. Hier gaan die eier ‘n belangrike rol speel om die mengsel ook saam te bind wanneer dit gebraai word, dus gebruik ek ‘n ekstra-groot eier. Die eier dra natuurlik ook by tot ekstra voedingswaarde in die frikkadelletjies. Daar is nog heelwat praktiese idees en resepte op Nulaid se eie webwerf, gaan besoek dit gerus.

Bobotie is beslis een van daardie eg Suid-Afrikaanse geregte. Vir baie mense is dit ‘n gereg waaroor hulle sommer nostalgies sal raak. Daar is vir elkeen ‘n ‘onthoukos’ uit hul kinderdae of dalk iets wat ‘n familie-tradisie geword het of wat jy met ‘n ouma, ma of tannie assosieer. In Afrikaans is daar ook baie mooi woorde vir sommige van die bekende SA geregte en baie van hulle word nie eers regtig in Engels vertaal nie. Dink maar net aan bobotie, vetkoek, braaibroodjies, roosterkoek of slaphakskeentjies, smoorsnoek en nog vele meer. Die ATKV is baie opgewonde oor die feit dat mense nog steeds daardie kosterme ken en gebruik en moedig ons aan om dit ook vir ons kinders te leer. Die ATKV se nuwe Koswerf-restaurant op elke oord, bied ook ‘n paar bekende Suid-Afrikaanse geure op die spyskaart aan. Soms wel in ‘n nuwe gedaante of dalk soos jy dit onthou op ‘n Sondag of vir ‘n ete van die dag. Gaan eet gerus daar en geniet dit wat op die spyskaart aangebied word.

Resepte

Bobotie-frikkadelle

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!

Lewer 4 – 6 porsies

Geroosterde neute-&-sademengsel

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2

Lewer 6 porsies

Bestanddele

500 g maer beesmaalvleis

2 knoffelhuisies, gekneus

1 klein ui, fyngekap of gerasper

1 ekstra-groot Nulaid eier

10 ml (2 t) kerriepoeier

10 ml (2 t) gemaalde koljander

10 ml (2 t) gedroogde gemengde kruie

5 ml (1 t) gemaalde komyn

5 ml (1 t) suurlemoensap

10 ml (2 t) appelkooskonfyt of heuning

30 ml (2 e) gekapte koljanderblare

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

20 ml olyfolie om in te braai

Bestanddele

200 g rou, ongesoute neute en sade, bv. amandels, makadamias, pampoen- en sonneblomsaad

1 e (15 ml) olyf- of avokado-olie

1 t (5 ml) gemaalde kaneel

½ t (2,5 ml) gemaalde gemengde speserye

’n knippie neutmuskaat

Metode

1. Plaas maalvleis in ’n groot mengbak en breek met ’n groot vurk uitmekaar. Voeg orige bestanddele, behalwe die olie, by en meng goed deur, gebruik sommer jou hande.

2. Geur na smaak en rol in klein frikkadelletjies.

3. Verhit intussen helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan (’n AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend). Verbruin die frikkadelle in sarsies, aan beide kante tot goudbruin, maar nog nie gaar nie.

4. Verlaag hitte en sit die deksel op. Prut frikkadelle 5-8 minute of tot net gaar. Herhaal met orige frikkadelle. Sit as deel van ’n aandete voor of pak in ’n kosblik.

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit.

2. Plaas al die bestanddele in ’n mengbak en roer tot goed gemeng.

3. Plaas neutemengsel op bakplaat en rooster vir 10-15 minutes of tot liggies goudbruin. Meng neute een of twee keer gedurend die tyd deur. Hou dop dat die neute nie brand nie.

4. Laat heeltemal afkoel en sit ongeveer ⅓ k (80 ml) per persoon voor as ‘n peuselhappie. Of sit met ongegeurde jogurt en JAZZ™ Appels, in blokkies gesny, vir ontbyt, nagereg of as peuselhappie voor.

Pin It on Pinterest

Share This