Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Appel-en-piesangmuffins

May 22, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Geroosterde hoenderdye en botterskorsie

Appel-en-piesangmuffins

Groente, bv suikerertjies en soetrissies

Waterbottel

Almal hou van ‘n soet bederf of ietsie gebak, want dit is soms net die ding wat jou deur die dag dra of dalk ‘n manier om iets te vier. Maar as jy probeer om ‘n gesonde leefstyl te volg, sukkel jy soms om iets te maak wat by die beginsels van dié eetgewoontes pas. Vir die reeks Cooking from the heart resepteboekies, wat deur Pharma Dynamics ontwikkel is, moes ons ‘n paar slim planne beraam om dit reg te kry. Die uitdaging was juis om vir mense te wys dat dit moontlik is en hulle te help met maklike, bekostigbare resepte wat vir die hele gesin lekker is.

Wanneer jy die uitstekende besluit geneem het om gesonder te eet, wil ‘n mens juis steeds lekker eet, sodat jy dit kan geniet en volhou. Suid-Afrikaners is dol oor gebak, dit sien ons gereeld met die bakresepte op Kosblik. Ongelukkig bevat die resepte dikwels heelwat suiker wat nie ideaal is nie. As ‘n mens dus met ander bestanddele, dieselfde soet smaak kan kry, maak dit dinge net soveel makliker.

Vir hierdie appelmuffin-resep uit die tweede Cooking from the heart resepteboekies, word appelpuree en piesang gebruik om steeds ‘n lekker sagte tekstuur te gee. Gebak het ook dikwels baie verfynde koolhidrate in, so ons het verder probeer om die veselinhoud en dus voedingswaarde van die muffin beter te maak as een wat net met koekmeel en baie suiker gemaak word. Deur met bestanddele te werk wat mekaar se smake en teksture aanvul, sal jou gesin nie eers weet dat daar nie suiker in is nie. Speserye en vanieljegeursel is heerlik saam met appel en piesang en ideaal om te kombineer.

Die muffin is die soetbederf vir die ete en sommer ook ‘n gedeelte van die stysel (koolhidrate) vir die ete. Daarmee saam is daar oondgeroosterde hoenderporsies en botterskorsie ingepak. Dit kan sommer die vorige aand se aandete wees, wat die inpakwerk soveel makliker maak. Maak dus genoeg met aandete, om ook ‘n kosblik of drie daarmee te kan pak. Daar is nie regtig ‘n resep vir die hoender en botterskorsie nie, maar as jy idees wil kry om dit op ‘n maklike en gesonde manier te geur en te rooster, laai gerus nog van die Cooking from the heart resepte met die skakel af: http://cookingfromtheheart.co.za/

Met al die kosblikke wat ek al gepak het, bly dieselfde beginsels belangrik  – hou dit vullend, gesond en gebalanseerd. Om hierdie kosblik verder te balanseer en seker te maak daar is iets uit elke voedingsgroep, kan jy nog groente inpak. Iets soos suikerertjies, komkommer of soetrissie is lekker hierby. Gesonde olies is ook noodsaaklik, so jy kan ‘n halwe avokado saam met die ander kos inpak of ‘n handjievol neute deel maak van die kosblik.

Vir vandag se appelpuree, het ek JAZZ™ appels gebruik. Die appels is nou in seisoen en dit het van nature ‘n verfrissende en pikante, soet smaak met ‘n stewige tekstuur. Die rooi skil met groen-geel strepe maak dit maklik om die appel uit te ken. As peuselhappie deur die loop van die dag, is die appel regtig lekker en maklik om in ‘n kosblik te pak. En terwyl dit in seisoen en vollop is, is dit ‘n heerlike appel om vir later in die jaar te ‘spaar’ en ‘n puree daarvan te kook. Die appels maak ‘n sagte, amper romerige puree en is van nature soet. ‘n Kaneelstokkie wat saam met die appel gekook word, gee dit sommer nog ekstra geur vir die gereg waarin jy dit gaan gebruik. Onthou net om dit uit te haal voor jy die appels verpulp.

Moenie die appels afskil voor jy dit prut nie, dis meer moeite en heeltemal onnodig, want daar is baie voedingswaarde en vesel in die skil en dit kook ook sag en word deel van die verpulpte mengsel. Moet ook nie in die versoeking kom om suiker by te voeg as jy dit kook nie. ‘n Bietjie suurlemoensap verhoed dat die appels verkleur en bring die natuurlike smaak na vore. Die puree is dus soet genoeg om as plaasvervanger vir suiker in die muffinresep te dien. Vries die puree in ysbakkies en keer dit dan later in ‘n groter houer uit. Of vries dit in die porsies soos jy dit gaan nodig kry om in ander geregte te gebruik. Dis heerlik in maalvleis of ‘n bredie met ‘n tamatiebasis, waarby mens soms ietsie soets wil voeg om die tamaties se suurheid te neutraliseer.

Alhoewel ek die pitte van ‘n appel graag met ‘n skerp groentemessie uitsny, om so min as moontlik van die ‘vleis’ te verloor, onthou ek dat my ouma altyd ‘n appelboor gebruik het. Daarmee het sy ‘n groot genoeg holte gemaak om die appels met ‘n vulsel van dadels, neute en speserye te vul en dit dan so in die oond gebak vir ‘n nagereg. ‘n Appelboor, het ‘n lang metaalgedeelte, wat aan die voorkant skerp gemaak is, sodat dit deur die stronk en pitte kan druk om dit uit te haal. Appelboor, is vandag se Kosblik-woord van die week, wat soos gewoonlik, deur die ATKV geborg word. Die maatskappy het verskeie projekte waarby hulle betrokke is, om ons mooi taal te bevorder.

Die ATKV is ook bekend vir ses baie mooi vakansieoorde wat deur die land is en dit bly vir baie mense ‘n gewilde bestemming vir ‘n gesinsvakansie. Die opgegradeerde restaurante op die oorde, Koswerf, spog ook met ‘n spyskaart met ewe mooi Afrikaanse geregte en benamings op die spyskaart. Gaan eet en kuier beslis daar wanneer jy weer op ‘n oord is. 

En dan kan ‘n mens min gebak sonder eiers voorberei. Vir hierdie muffinresep gebruik ek twee van Nulaid se groot eiers om die res van die bestanddele saam te bind. Die eiers word eers vooraf geklits, sodat dit makliker is om met die piesang, puree en ander vloeistowwe te meng. ‘n Muffinbeslag moet so min as moontlik geroer word, so as die eiers byvoorbeeld net oor die mengbak gekraak en ingeroer moes word, sal dit nogal lank neem om seker te maak dat die eierwit en –geel deeglik ingemeng word. Dit kan die beslag onnodig swaar maak, wat die tekstuur van die muffins ook sal affekteer. Alhoewel die eiers in ‘n soet gebak gebruik word, bevat dit steeds voedsame proteïene. Die proteïene in eiers is veral belangrik vir gesonde spiere, hare, vel, naels, bene en organe. Dis vullend, maar laag in kilojoules en dus ideaal as deel van ‘n gesonde manier van eet. Onthou om die eierdoppe vir jou komposhoop te gebruik en dit nie weg te gooi nie. Lees hier nog oor Nulaid se eiers en slim maniere om dit te gebruik: http://www.nulaid.co.za/

Resepte

Appel-en-piesangmuffins

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2

Lewer 12 muffins

Bestanddele

Appelpuree (lewer 250 ml)

4 JAZZ™ appels, met die skil in blokkies gesny

¼ k (60 ml) water

2 t (10 ml) suurlemoensap

1 kaneelstokkie

 Muffins

½ k (125 ml) volkoringmeel

½ k (125 ml) koekmeel

½ e (7,5 ml) bakpoeier

1 t (5 ml) gemaalde kaneel

1 k (250 ml) grofgerasperde JAZZ™ appels, met die skil

½ k (125 ml) voorbereide appelpuree

1 groot ryp piesang, met ’n vurk fyngedruk

2 groot Nulaid eiers, geklits

6 e (90 ml) sonneblomolie

1 t (5 ml) vanieljegeursel

Metode

1. Appelpuree: Plaas appels, water, suurlemoensap en kaneelstokkie in ’n kastrol. Bring oor matige hitte tot kookpunt en prut tot sag. Dreineer die vloeistof, maar hou dit eenkant. Verwyder die kaneelstokkie en verpulp die appels met ‘n stokmenger tot glad. Voeg ‘n bietjie van die behoue vloeistof by, indien dit nodig is om dit nog gladder te maak.

2. Muffins: Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n muffinpan liggies met olie.

3. Meng al die droëbestanddele saam en roer die gerasperde appel deur. Meng die res van die bestanddele saam.

4. Roer dié mengsel by die droë-mengsel tot ’n gladde beslag vorm. Moenie te veel roer nie.

5. Skep beslag in die muffinpan en bak 25-30 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom.

6. Laat afkoel op ‘n afkoelrakkie. Sit 1-2 muffins per persoon voor.

Wenke

1. Enige orige appelpuree kan gevries word. Gebruik vir nog ‘n baksel muffins of om ’n soutgereg soeter te maak, sonder om suiker te gebruik. Dis heerlik in ‘n sop, bredie of maalvleisgereg.

2. Roer ⅓ k (80 ml) gedroogde rooi bosbessies of rosyntjies by die muffins.

Pin It on Pinterest

Share This