Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Voupakkies met roereier

May 15, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Voupakkies (wraps) met roereier, sampioene en spinasie

JAZZ™ Appel

Vars tamaties

Neute

Roereier is beslis nie net vir ontbyt nie. Dis ‘n maklike manier om ‘n kosblik-ete vullend en voedsaam te maak én dis vinnig om voor te berei. Roereier kan ook op verskillende maniere ingepak en voorgesit word vir ‘n kosblik. Vir vandag se kosblik sit ek dit in ‘n voupakkie voor, met gesoteerde sampioene en spinasieblare. Ons het al vir ‘n vorige kosblik-idee met voupakkies iets lekker gemaak – dis die mooi Afrikaanse woord vir ‘n ‘wrap’.

As ek roereier maak, reken ek gewoonlik op twee groot eiers per grootmens en een eier per kind of drie eiers vir twee kinders, sodat daar genoeg is vir almal. As jy met ekstra-groot eiers werk, het jy beslis net een eier per kind nodig en dalk selfs net drie vir elke twee volwasse porsies.

Op Nulaid se webwerf is daar lekker praktiese inligting oor die verskillende groottes eiers wat in hul reeks beskikbaar is. Ek verkies om water in ‘n roereier-mengsel te gebruik en  nie melk nie, omdat die melkproteïen soms vinniger as die proteïen in die eier stol en dit kan laat voorkom of die eier taai of rubberig is. Die verhouding water tot eier is wel belangrik – moenie meer as 15 ml (1 eetl) per eier gebruik nie, sodat dit sagte roereier maak, maar nie droog is nie. Te veel water word uitgestoot sodra die eier begin gaar word en dit kan baie waterig en onaptytlik wees.

Die ander elemente wat saam met die roereier gebruik word, kan afgewissel word soos julle daarvan sal hou. Soetrissie, ui of ander groen groentes soos broccoli kan ook lekker wees saam met die eiers. Vir hierdie resep is ‘n ontbyt-idee uit Cooking from the heart se tweede resepteboek, nou as ligte middagete gebruik. Onthou om altyd die res van die dag se etes ingedagte te hou wanneer ‘n kosblik gepak word. En dan moet die ete beslis ook gebalanseerd wees en iets uit elke voedselgroep insluit. Vir hierdie kosblik is daar dan ‘n vars JAZZ™ appel en neute ingepak om dit kleurvol te hou. Die neute kan ook as peuselhappie later geëet word en dit is altyd ‘n goeie bron van gesonde olies. Avokado is nou in seisoen en ‘n baie goeie bron van die noodsaaklike olies en sal heerlik wees as deel van die ete. ‘n Halwe avokado kan selfs in plaas van die voupakkie gebruik word, want dit pas perfek by eier en die groentemengsel. Al die elemente kan dan net saam ingepak word, aangesien die avokado vullend genoeg sal wees saam met die res.

Cooking from the heart se aanslag is juis om ons almal aan te moedig om ‘n gesonde leefstyl te volg en so veel as moontlik met vars bestanddele kos te maak. As dit die basies van ‘n mense se etes vorm, sluit jy op ‘n redelike maklike manier meer voedingswaarde in jou etes in en vermy sommer ook onnodige en versteekte sout, suiker en onnatuurlike preserveermiddels.

Die appel wat deel is van vandag se kosblik, is ‘n kraakvars JAZZ™ appel. Dit het ‘n kenmerkende rooi blos met geel-groen strepe en is ‘n baie lekker sappige appel – perfek vir ‘n kosblik. Dit kan deel wees van die maaltyd of later deur die dag as peuselhappie geniet word. Daar is deesdae heelwat nuwe appelkultivars op ons winkelrakke beskikbaar en elkeen het sy eie unieke geur, so probeer gerus dié nuwe variëteit. Onthou om jou kinders van kleins af te leer om appels met die skil aan te eet, want die meeste voedingswaarde is in en net onder die skil. Deur dit af te skil, gaan heelwat daarvan verlore. Die skil dra ook by tot die veselinhoud van die appel, wat beteken dat dit effens langer neem om te verteer en jou dus langer versadig sal laat voel.

Neute is gereeld deel van die kosblikke wat ons pak en daar is soveel verskillende soorte beskikbaar. Eet verkieslik die neute rou (ongerooster), want alhoewel geroosterde neute baie lekker smaaak, kan die proses van die voedingswaarde laat verlore gaan. Geroosterde neute word ook dikwels gesout en op die manier eet ‘n mens maklik aansienlik meer sout as wat nodig is. As jy glad nie van rou neute hou nie, is dit dan beter om rou neute te koop (dis sommer ook goedkoper) en dit self te rooster, want jy kan bepaal hoe lank dit gerooster moet word en dan hoef jy ook nie sout by te voeg nie.

Die verskillende soorte neute het elkeen hul eie mooi naam in Afrikaans. Die ATKV borg hierdie week weer vir ons ‘n mooi woord vir die kosblik en dié slag val die klem op die name van neute: makadamia, kasjoeneute, pekanneute, okkerneute, amandels en pimperneute is maar net van die bekendste neutname. Besoek gerus ook hul webwerf om te kyk na al die ander taalprojekte waarby die maatskappy betrokke is. Die ATKV is verder ook bekend vir die verskillende vakansieoorde waarby gesinne en families heerlik kan kuier.

Resepte
Voupakkies met roereier, spinasie en sampioene

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

Roereier

8 Nulaid groot eiers of 5-6 ekstra-groot eiers

1 e (15 m) water per eier

sout en swartpeper na smaak

1 e (15 ml) olyf- of avokado-olie

3 e (45 ml) gekapte vars kruie, bv. origanum, pietersielie, dille of tiemie 

Voupakkies (wraps)

2 t (10 ml) olyf- of avokado-olie

125 g sampioene, in skyfies gesny

2 groot handevol spinasie, in repies gesny

Volkoring-voupakkies (wraps) om mee voor te sit

Metode

1. Roereier: Klits eiers met die water, sout en peper.

2. Verhit olie oor matige hitte in ‘n braaipan (’n AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend) en skink die eiermengsel in.

3. Laat die eiers eers effens begin stol voor jy dit roer. Roer versigtig met ‘n eierspaan tot die eiers net alles gaar is. Moenie die eiers te veel roer nie en moenie die pan te warm maak nie, dan word die eiers oorgaar en droog. Verlaag die hitte, indien nodig.

4. Strooi kruie oor en hou eenkant.

5. Voupakkies: Verhit intussen die olie in ‘n aparte braaipan. Soteer die sampioene tot gaar en roer die spinasie by. Verwyder dit van die hitte sodra dit sag, maar steeds heldergroen is.

6. Skep van die sampioenmengsel op ‘n voupakkie, met roereier bo-op en vou toe. Sit warm of teen kamertemperatuur voor.

Pin It on Pinterest

Share This