Subscribe to Posts

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Delikate ryspoeding met speserye & klappermelk

May 12, 2017 | Desserts, sweet treats & baking, Hot dessert

Delikate ryspoeding met speserye & klappermelk

Resep uit Kos is op die tafel
Lewer 4 porsies
50 minute

Poeding kan mos ook koesterkos wees en hierdie is koesterkos op sy heel beste. Die arboriorys gee ’n interessante tekstuur aan die poeding en die res van die bestanddele gee ’n ryk, romerige smaak. Selfs mense wat nie eintlik ryspoeding geniet nie, het al aan die weergawe gesmul. Dis regtig ryk en dus genoeg vir 4 porsies, al lyk dit min.

Bestanddele

45 ml botter

65 ml suiker

100 g (125 ml) arboriorys (risotto-rys)

250-350 ml melk

250 ml klappermelk

250 ml room

1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap

fyngerasperde skil van 1 suurlemoen

5 kardemomsade, oopgeskeur

2 heel kaneelstokkies

50 g gevlokte amandels, gerooster

Metode

1. Plaas die botter en suiker in ’n kastrol en verhit oor matige hitte tot die suiker gesmelt is en die mengsel ’n karamelkleur word.

2. Roer die rys by tot dit deeglik met die bottermengsel bedek is. Soteer 1-2 minute en roer 250 ml van die melk by. Roer die orige bestanddele by en roer tot die mengsel kookpunt bereik.

3. Verlaag hitte en prut 15 minute met die deksel. Roer af en toe. Prut daarna nog 15 minute sonder die deksel, of tot die rys gaar is en roer gereeld.

4. Die poeding moet redelik souserig wees – byna die dikte van ’n medium-dikte vla. Roer nog melk by indien ’n loperiger poeding verkies word.

5. Garneer met amandels en sit dadelik in poedingbakkies voor.

Wenke

1. Rooster amandels teen 180 °C vir ’n paar minute of oor matige hitte in ’n droë pannetjie. Wees versigtig – dit brand maklik.

2. Gewone wit- of basmatirys kan ook gebruik word, maar met die basmatirys, sal die poeding dalk effens gouer gaar wees en ’n effens ander tekstuur hê.

3. Alhoewel die geur nie so delikaat is nie en die saadjies van die peul besonders lyk in die poeding, kan dit met 5-7,5 ml vanieljegeursel vervang word. Roer by net voor die poeding voorgesit word.

Pin It on Pinterest

Share This