Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Appelslaai

May 8, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

JAZZ™ Appel-en-eierslaai met veelsydige slaaisous

Die wintermaande kom nader, maar dit is darem nog nie heeltemal te koud om ‘n lekker slaai vir middagete te geniet nie. Hierdie week se resep is ‘n maklike slaai met appel en eier en ‘n veelsydige slaaisous. Maak sommer van die begin af die slaaisous dubbeld of selfs driekeer, want daar is heelwat maniere om dit nog te gebruik.

Die vars bestanddele in die slaai is ‘n geurige kombinasie van elemente wat nou in seisoen is. Die slaaisous kom oorspronklik uit Cooking from the heart se derde resepteboekie en is ‘n goeie voorbeeld van ‘n tuisgemaakte slaaisous wat beslis gesonder is as meeste gekoopte opsies. As jy verkies, kan die kruie in die resep maklik aangepas word om dit elke keer bietjie anders te maak. Oorspronklik is tiemie of roosmaryn gebruik, maar vir hierdie slaai, is selfs Italiaanse pietersielieheerlik, omdat dit so lekker by eier en appel pas. Dis ook ‘n lekker kombinasie met die koljanderblare in die slaai.

Die fokus van elke kosblik en ook die resepte in Cooking from the heart, is ‘n gesonde leefstyl wat maklik is om te volg en vir die hele gesin kan werk. Elkeen van die resepte in die drie boekies fokus juis daarop en daar is ook heelwat ander inligting met praktiese raad en wenke om dit volhoubaar te maak. Die resepteboeke is al drie op hul webwerf beskibkaar en kan daar gratis afgelaai word:

Om so ver as moontlik met vars bestanddele te werk, is ‘n belangrike beginsel van ‘n gesonde leefstyl. Dit beteken dat jy weet wat in jou en jou gesin se etes ingesluit is en terselfdertyd kook jy met heelwat minder verwerkte produkte en dus aansienlik minder versteekte suiker, sout en onnatuurlike preserveermiddels – soos met hierdie slaaisous. Iets soos vars suurlemoensap is ideaal om kos mee te geur.

Seisonale bestanddele is altyd opwindend om mee te werk, want dit is maklik bekombaar en beslis geuriger as wanneer dit buite die natuurlike seisoen geëet word. JAZZ™ appels is nou beskibkaar en die natuurlike soet smaak van dié mooi appels is ideaal vir die slaai. Die bros tekstuur maak die slaai lekker krakerig en die appel is sappig genoeg, met ‘n pikante smaak om perfek te wees vir ‘n slaai. Appels is definitief nie net om heel te eet of as peuselhappie te geniet nie. Dit kan op verskillende maniere deelgemaak word van maaltye. JAZZ™ appels is een van die nuwe kultivars wat nou beskikbaar is, so soek gerus in die winkel vir die appel met die groen-geel skil en rooi streperige wange.

Vandag se slaai is ‘n vegetariese ete, maar tog vullend, danksy die eiers, kekerertjies en ook avokado. Deur hierdie drie bestanddele te kombineer, is daar genoeg proteïene in die ete, veral danksy die eiers. Eiers is ‘n uistekende bron van hierdie belangrike voedingselement, maklik om gaar te maak en maklik om te verteer. Die kekerertjies en avokado bevat ook proteïene, maar dra ook by tot die koolhidrate en vesel in die maaltyd, plus die gesonde olies in die avokado en slaaisous. Al die voedselgroepe en noodsaaklike nutriënte is dus ingesluit.

Ek het al voorheen hardgekookte eiers in ‘n kosblik gepak, maar vandag is dit ‘n saggekookte eiers, sodat die loperige geel deel word van die slaaisous. Maar as jy glad nie daarvan hou nie, kan jy die eiers net ‘n paar minute langer kook om dit heeltemal hard te kook en so as deel van die slaai te gebruik. Vir ‘n saggekookte eier, is 4-5 minute genoeg. Onthou om die eiers dan net dadelik uit die kookwater te haal en in koue water te sit, om die gaarmaakproses te stop.

Nulaid voorsien eiers in verskillende groottes en daar is ook ‘n keuse van vryloop-henne se eiers en dié waarvan die omega-3 vlakke hoër is, omdat die henne se kos daarmee verryk word. Jy kan dus kies watter vir jou gesin die lekkerste is. Vir die slaai, kan jy reken op een eier per persoon, maar vir ‘n grootmens of selfs vullender ete, is twee eiers per persoon ook reg. Deur ekstra-groot eiers te gebruik, is die porsie ook reeds effens groter.

‘n Lekker wenk oor eiers: wanneer jy eiers uit die kartonhouer in jou yskas pak, moet dit steeds met die skerper punt na onder (soos dit in die kartonhouer gepak is) geberg word. Dit hou die natuurlike lugborrel in die groter ronding van die eier aan die ‘bokant’ en beskerm in die proses die eiergeel. Om meer hieroor te lees, kan jy Nulaid se webwerf besoek.

Onthou om altyd ‘n hele dag se etes in ag te neem, wanneer jy besluit hoe vullend middagete byvoorbeeld moet wees. As middagete jou groot ete van die dag is, gaan jy dalk meer eier en avokado in die slaai wil sit, maar as jy met aandete ‘n groter maaltyd eet, moet middagete vullend genoeg wees om jou tot dan versadig te hou, maar nie te swaar nie.

Ek het koljanderblare in die slaai gebruik en dit is vir my ‘n baie mooi Afrikaanse woord – daarom het ek dit ook as die woord van die week vir Kosblik gekies. Baie dankie aan die ATKV wat elke week vir ons ‘n koswoord borg. Koljander is waarskynlik meer bekend as die gedroogde saadjies wat in boerewors en ander vleisgeregte gebruik word. Dit is inderdaad dieselfde plant wat beide as krui en die sade as spesery gebruik word. Die twee smaak wel heeltemal verskillend. Koljanderblare staan ook as danja bekend en word veral in die Maleise koskultuur so genoem.

Die ATKV is natuurlik ook bekend vir die vakansieoorde waar julle heerlik kan ontspan. As jy en jou gesin daar kuier, moet julle beslis by die Koswerf-restaurant op die oord gaan inloer om lekker te gaan eet. Die spyskaart maak voorsiening vir elkeen in die gesin.

Resepte

Appel-en-eierslaai met veelsydige slaaisous

Lewer 4 porsies

Bestanddele

Veelsydige slaaisous (Cooking from the heart)

3 e (45 ml) olyf- of avokado-olie

2 e (30 ml) balsamiese of rooiwynasyn

1 e (15 ml) suurlemoensap

2 t (10 ml) gekapte vars pietersielie en tiemie

1 t (5 ml) matige mosterd

¼ t (1,2 ml) sout

swartpeper na smaak

Slaai

2-3 JAZZ™ Appels, met die skil, in repies gesny

1 avokado, in skyfies gesny

‘n groot handvol vars koljanderblare

2-3 selderystingels, in dun skyfies gesny

1 x 410 g-blik kekerertjies, gedreineer

60 ml (¼ k) sonneblomsaad, gerooster

3-4 Nulaid ekstra-groot eiers, saggekook

Metode

1. Slaaisous: Meng al die bestanddele saam en geur met swartpeper.

2. Bêre die slaaisous in ‘n skoon glasflessie in die yskas, dit sal vir 2 weke hou.

3. Slaai: Pak die slaaibestanddele in lae in borde, kosblikke of ’n glasfles. Plaas die heel, afgedopte eier bo-op en sit voor met ‘n tuisgemaakte slaaisous. (Wanneer die slaai geëet word, kan die persoon die eier oopbreek.)

Wenk

1. Gebruik die slaaisous om hoenderborsies aan die been te kook. Verwyder die vel en oortollige vet en panbraai aan beide kante tot goudbruin. Skink van die slaaisous oor, verlaag die hitte, sit ‘n deksel op en prut 20 minute of tot gaar. Die slaaisous kan ook oor ‘n heel hoender geskink word, voor dit gerooster word.

2. Gebruik die slaaisous as marinade vir vis- of hoenderporsies, vark- of lamtjops. Braai oor die kole of panbraai soos in Wenk 1.

3. Meng van die slaaisous met botterskorsie, murgpampoentjies of ander groente van jou keuse en rooster in die oond teen 180 ˚C tot gaar.

Pin It on Pinterest

Share This