Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Mieliebrood

May 1, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Mieliebrood

JAZZ™ Appel

Biltong

Komkommer en groenbone

Kosblik is 50! Dis nogal ‘n mylpaal en ek hoop dat jy en jou gesin teen dié tyd al ‘n hele paar nuwe gunstelinge op jul tafel en in jul kosblikke het. Om dit te vier, gaan ons beslis iets bak, want dit bly gewild by baie Suid-Afrikaners. ‘n Partytjiekoek sou seker in orde gewees het, maar ons het in April ‘n wortelkoek gebak, so daarom het ek besluit om ‘n mieliebrood te bak vir hierdie week se kosblikke.

Mieliebrood is een van daardie eg Suid-Afrikaanse resepte en ek ken min mense wat nie daarvan hou nie. Warm uit die oond met ‘n skraapseltjie botter is darem maar lekker, of jy dit nou met braaivleis of ‘n ander ete geniet. En ás daar iets oorbly, maak dit die lekkerste roosterbrood die volgende dag.

Die resep kom oorspronklik uit Cooking from the heart se eerste resepteboek en as ‘n lekker variasie, het ek dit die keer met volkoringmeel gemaak. Daar is dus heelwat vesel in die brood en as jy ‘n lekker growwe mieliemeel gebruik, is daar selfs nog meer voedingswaarde in elke sny. Een van die belangrike beginsels van Cooking from the heart se filosofie om ons aan te moedig om ‘n gesonde leefstyl te volg, is om met produkte te kook en bak wat so min as moontlik verfyn is. Hoe growwer die mieliemeel, hoe minder verwerk is dit en dus bly meer van die natuurlike voedsaamheid behoue. Die resep word verder met karringmelk gemaak, wat ‘n baie lekker bestanddeel is om mee te bak, want dit gee die brood ‘n heerlike tekstuur, sonder dat te veel olie gebruik hoef te word. ‘n Mieliebrood kan soms nogal olierig wees en dit is nie vir my lekker nie. Die karringmelk is dus ‘n lekker alternatief. Vir nog sulke resepte en praktiese wenke om ‘n gesonde leefstyl te volg, kan jy http://cookingfromtheheart.co.za/ besoek of volg hul Facebook blad www.facebook.com/cookingfromtheheartsa

Saam met die karringmelk, is eiers ‘n baie belangrike bestanddeel vir hierdie mieliebrood se lekker tekstuur. Mieliemeel het nie soveel bindingsvermoë soos bv. koekmeel nie, so meer eiers is beslis nodig om alles saam te bind. Ek het drie van Nulaid se groot eiers vir die resep gebruik en die eiers dra natuurlik ook by tot die verhoogde voedingswaarde van die gebak. Eiers is regtig ‘n voedsame bestanddeel wat ek altyd in my kombuis het, want dis is so veelsydig, maklik om te gebruik en iets waarmee jy in ‘n oogwink ‘n maaltyd kan optower. Daar is nog heelwat maklike resep-idees, wenke en antwoorde op tipiese vrae oor eiers, wat op ‘n baie lekker leesbare manier op Nulaid se webwerf aangebied word. Gaan maak gerus daar ‘n draai as jy meer oor eiers, hul voedingswaarde en die regte maniere om dit gaar te maak, wil weet.

Die mieliebrood is ‘n lekker afwisseling vir ‘n kosblik. Onthou om steeds die porsies (snye brood per persoon) te beheer en kies dan elemente om daarmee saam in te pak, wat steeds ‘n gebalanseerde kosblik gaan wees. Biltong is ‘n lekker vleiserigheid om in te pak, want dit kan net so óf op die brood geniet word. Kies biltong wat nie te sout is nie. Daarmee saam is ‘n verskeidenheid vars goed ideaal om ‘n vullende kosblik te hê. Komkommer, groenbone, klein tamaties of enige ander slaaibestanddele waarvan jou gesin hou, sal lekker wees.

Seisonale vrugte is natuurlik altyd ‘n wenner in ‘n kosblik. JAZZ™ appels is een van die nuwer kultivars wat nou in seisoen is en ideaal vir ‘n kosblik. Die appel kan net so ingepak of dalk in wiggies gesny word vir ‘n kind, maar moenie die appel skil nie, want dis juis waar baie van die voedingswaarde is. JAZZ™ is ‘n krakerige, ferm appel met ‘n mooi rooi skil. Die appel het ‘n geel-groen ondertoon en kenmerkende rooi strepies in die skil. Die sappige appel het ‘n pikante soet smaak en is regtig lekker. Eet die appel as deel van die maaltyd of geniet dit as peuselhappie deur die dag.

‘n Pikante smaak, is ‘n baie akkurate beskrywing van die mooi rooi appel en ‘pikant’ dan ook die woord wat die ATKV hierdie week op Kosblik borg. Die woordeboek beskryf die woord as prikkelend, skerp, of wat deur iets ‘n besondere belangstelling wek. Nogal ‘n mooi beskrywing vir so ‘n mooi woord. So word ‘n Peppadew® in Afrikaans ‘n pikantrissie genoem, om dit spesifieke smaak te beskryf.

Die ATKV is natuurlik ook bekend vir hul vakansieoorde, so besoek hul webwerf om te kyk watter oord naaste aan jou is, as jy lus het om vir ‘n naweek iewers te gaan ontspan.

Resep

Mieliebrood

Resep uit Cooking from the heart 1

Lewer 1 brood

Bestanddele

1 k (250 ml) growwe mieliemeel

1⅓ k (330 ml) volkoringmeel

2 t (10 ml) bakpoeier

½ t (2,5 ml) cayenne-peper of paprika of na smaak

½ t (2,5 ml) sout

1¼ k (310 ml) karringmelk of maas

3 groot Nulaid eiers, geklits

¼ k (60 ml) olyf- of avokado-olie

1 x 410 g-blik geroomde suikermielies

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer die bodem van ’n 1,5 liter-broodpan met bakpapier uit en smeer die pan liggies met olie.

2. Plaas al die droë bestanddele in ‘n mengbak.

3. Meng karringmelk, eiers, olie en suikermielies saam. Roer by die droë bestanddele tot goed gemeng.

4. Skep die beslag in die broodpan en bak 45-60 minutes of tot ’n toetspen skoon uitkom.

5. Laat vir ‘n paar minute in die pan afkoel en keer dan uit op ’n afkoelrakkie. Sit warm met botter voor of pak dit in as deel van ‘n kosblik.

 

Wenk

1. Rasper 2-3 murgpampoentjies en roer by die droë bestanddele. Roer ¼ k (60 ml) gerasperde cheddarkaas by die beslag of strooi die helfte daarvan bo-op, voor die brood gebak word.

Pin It on Pinterest

Share This