Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Laatontbyt

Apr 17, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Gebakte eiers op tamatie-bonemengsel vir ‘n laatontbyt

Vars vrugteslaai met seisoensvrugte

Neute

Naas Kersnaweek, is Paasnaweek vir baie mense die ander belangrike tyd in die jaar om met familie en vriende te kuier. En om saam om ‘n tafel te eet en te kuier, is beslis ook deel daarvan. Ons gesin is dol oor ‘n laatontbyt iewers deur die loop van ‘n langnaweek, want dit laat die dag ook sommer rustiger (en langer) voel. Ons eet dan ook net twee maaltye, wat sommer meer kuierkans toelaat.

Vandag se Kosblik-spyskaart is juis beplan vir ‘n laatontbyt wat met min moeite voorberei kan word. Selfs al kamp jy of het net ‘n vuur of gasbraaier om mee kos te maak, is hierdie idee maklik, vinnig en lekker. ‘n Geurige tamatie-bonemengsel, wat jy kan geur volgens jou gesin se smaak en voorkeur, met gebakte eiers en ‘n kleurvolle vrugteslaai. Die vrugte kan voor die warm gereg geëet word en jy kan besluit of dit met muesli en/of jogurt geniet gaan word en of julle dit na die eier-gereg as ‘nagereg’ wil eet. Met enige van die opsies is neute ook altyd lekker. Onthou om met die keuse van muesli, iets te gebruik wat nie te veel suiker of olie bevat nie. Dieselfde beginsel geld vir die jogurt, gebruik verkieslik ongegeurde jogurt, want die jogurt wat reeds gegeur is, is dikwels onnodig soet en bevat heelwat suiker. Die soet smaak van die seisoensvrugte is ‘n lekker balans met die jogurt en as jy dan neute of selfs ‘n bietjie kaneel daarmee saam eet, is dit ‘n vars en natuurlike manier om te eet. Enige kombinasie van vrugte kan goed werk en dit wat in seisoen is, komplementeer mekaar dikwels ook uitstekend.

Al hierdie beginsels pas by die manier waarop ek mense graag aanmoedig om gesonder te eet en dit ‘n leefstyl te maak. Die resepte wat ons vir Kosblik gebruik, kom dikwels uit die reeks resepteboeke van Pharma Dynamics, Cooking from the heart, wat spesifiek daarop fokus om met vars bestanddele te kook en met natuurlike geurmiddels te kook, in plaas daarvan om op te veel vooraf-bereide produkte staat te maak.

Ontbyt is ‘n belangrike ete van die dag, want dit kry jou metabolisme aan die gang en mense wat sukkel om hul gewig te beheer, vind dikwels dat ‘n gesonde ontbyt hul help om deur die res van die dag meer beheer te hê oor wat en hoeveel hulle eet. As jy gereeld ontbyt oorslaan of nie genoeg eet nie, is jy nogal geneig om dan heeldag te peusel. Kyk gerus na nog lekker ontbyt-resepte op http://cookingfromtheheart.co.za/.

Die tamatie-bonemengsel wat saam met die eiers voorgesit word, is juis ‘n resep uit dié reeks. Vir vandag se ete het ek dit net so bietjie aangepas en ekstra bone bygesit om dit nog meer vullend te maak. Dit is ook sommer ‘n lekker manier om ‘n ontbyt voor te sit, sonder dat dit noodwendig ‘n ete met brood is.

Bone is van nature hoog in vesel, laag in vet en sout en regtig veelsydig, want dit is ewe lekker in iets soos hierdie ontbyt, ‘n slaai, bredie of selfs gebak, soos ons al voorheen op Kosblik gewys het. Die Droëboneprodusente Organisasie moedig ons juis aan om bone op verskillende maniere in ons etes in te sluit – of dit in die droë of geblikte vorm is. Bone kan ‘n lekker alternatief vir ‘n stysel wees, omdat dit beide proteïene en koolhidrate bevat en vir hierdie ete dit onnodig maak om nog brood ook te eet, want dan kan ‘n mens maklik te veel koolhidrate deel maak van een ete, veral omdat daar nog ‘n vrugteslaai ook is.

Ontbyt en eiers is sinoniem, maar eiers is beslis nie net vir ontbyt bedoel nie. Ons eet graag oor ‘n naweek of as ligte ete deur die week ‘n eiergereg. Vir hierdie laatontbyt is die eiers perfek, want dit maak die maaltyd vullend genoeg, sonder dat jy oorvol gaan voel daarna. Eiers pas ook by soveel verskillende geure, dat ‘n mens elke keer ‘n ander bestanddeel of geurmiddel daarby kan gebruik, om nie verveeld te raak met een smaak nie. En vir Paasfees, is eiers as simbool van nuwe lewe, natuurlik ‘n heel gepaste bestanddeel om in jou etes te gebruik.

Nulaid se verskillende grootte eiers maak dit maklik om volgens jou gesin se behoeftes te kies. As jy gebakte eiers maak, is groot eiers ‘n goeie porsie vir ‘n kind, terwyl ‘n grootmens dalk twee groot eiers of dalk ‘n ekstra-groot eier verkies. Onthou om nie die pan te warm te maak wanneer jy die eiers bak nie, want eiers begin reeds teen 40-60˚ C stol en as die eier oorgaar word, word die proteïen maklik vernietig. Daar is altyd ‘n bietjie olie in ‘n pan nodig om eiers te bak, anders sit dit vas, en jy kan kies of jy olyf- of avokado-olie wil gebruik. Ek hou baie van ‘n loperige eiergeel, om sommer so bo-oor al die ander bestanddele op my bord te loop, maar ander verkies weer ‘n stewige eiergeel. Bak die eiers tot die geel na jul smaak gestol is – jy kan selfs die deksel opsit sodat dit vinniger gaar word, sonder om uit te droog.

Gedurende April borg die ATKV weer elke week vir ons ‘n mooi Afrikaanse woord. Daar is soveel woorde in ons mooi taal, wat ‘n aangename smaak perfek kan beskryf, dink maak net aan lekker – ‘n woord wat jy nie sommer in Engels met dieselfde ‘gevoel’ vertaal kry nie. Dan is daar nog woorde soos smullekker, lipaflek-lekker, smaaklik, geurig en verruklik, om net ‘n paar te noem.

Wat is jou gunsteling word om ‘lekker’ kos te beskryf?

Dalk is jy gelukkig genoeg om vir hierdie of ‘n ander langnaweek op een van die ATKV se vakansieoorde te kuier. Gaan bederf almal beslis by die Koswerf-restaurant, daar is iets op die spyskaart vir elkeen in die gesin.

Resep

Bone in tamatiesous met gebakte eiers

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele

1 x 410 g-blik gekapte tamaties

1 x 410 g-blik cannellini-bone, gedreineer

1 x 410 g-blik gebakte boontjies in tamatiesous

30 ml (2 e) basiliekruidpesto

suurlemoensap en swartpeper na smaak

’n handvol vars origanumblare

4-6 gebakte eiers

Metode

1. Plaas tamaties in ’n braaipan (‘n AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend) en bring oor ‘n matige hitte tot kookpunt. Roer die twee soorte bone by en laat prut tot die vloeistof effens ingedamp het.

2. Roer pesto by en geur na smaak met suurlemoensap en peper. Verlaag die hitte en laat prut ‘n paar minute tot die vloeistof effens ingedamp en die mengsel aromaties is.

3. Skep van die tamatie-bonemengsel op ‘n bord, sit een of twee gebakte eiers bo-op en sprinkel met vars kruie. Vars avokado kan ook bo-op gesit word om dit selfs nog meer vullend te maak.

Wenk

1. Die tamatiemengsel kan met ander speserye en bestanddele gegeur word. Probeer gerus ‘n bietjie kerriepoeier, vars gerasperde gemmer, cayenne-peper, brandrissies of jalapeños, paprika of selfs net ander vars kruie soos tiemie of koljanderblare.

Pin It on Pinterest

Share This