Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Rooi nierboneslaai & wortelkoek

Apr 10, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Slaai met rooi nierbone en mielies met ‘n Meksikaanse geur

Wortelkoek

Dis byna Paasnaweek en ‘n tyd van samesyn en moontlik ‘n tafel vol familie en vriende. Daardie samesyn is vir my een van die lekkerste aspekte van ‘n ete. Ek hoop dat vandag se resepte dit vir jou gaan moontlik maak om soveel as moontlik te kan saamkuier, lekker te eet en steeds gesonde, geurige kos te kan voorsit.

Die slaairesep is beslis een van my groot gunstelinge en veral omdat ek daarvan hou om tipiese ‘wit stysels’ bietjie te vermy en ander opsies ook op tafel te sit, is hierdie altyd ‘n wenner. Ja, dit het bone in en alhoewel nie almal dol is oor bone nie, is die kombinasie van bestanddele iets wat almal geniet. Soos met vele van my ander resepte, probeer ek iets saamstel wat bestaan uit ‘n paar bestanddele wat mekaar regtig aanvul en ‘n nuwe sinergie van geure gee.

Die slaai is ewe lekker as bygereg met braaivleis of geroosterde vis of hoender. Dis natuurlik perfek as ligte maaltyd en selfs ideaal vir vegetariërs, aangesien die bone ‘n goeie bron van proteïen en stysel is. Die tekstuur van die slaai maak dit verder interessant en dan is die Meksikaanse geure van komyn, koljanderblare en kruisement ‘n lekker verrassing as jy die eerste happie in jou mond sit.

Soos in al die vorige insetsels, is dit vir my heerlik om met die verskillende borge saam te werk wat my filosofie van ‘n gesonde leefstyl ondersteun en onderskryf. Die Droëbone Produsente Organisasie gaan beslis van die slaairesep hou, want dis juis ‘n nwue manier om bone deel te maak van ons etes. Bo en behalwe die ander voedingswaardes, soos ek reeds genoem het, is bone bekend daarvoor dat dit ryk is aan vesel en laag is in sout en vet – dus iets wat ons almal maar van tyd tot tyd kan geniet.

Die slaaisous is ook ‘n redelike eenvoudige kombinasie van bestanddele en ‘n goeie voorbeeld van die boodskap wat ons al voorheen uit Pharma Dynamics se reeks resepteboekies, Cooking from the heart gegee het – dis beslis gesonder om self ‘n slaaisous te maak, want dan weet jy wat alles daarin is. Gekoopte slaaisouse kan nogal heelwat onnodige suiker, sout of chemiese preserveermiddels bevat. Onthou dat die resepteboeke gratis op hul webwerf beskibkaar is en daar is heelwat wenke en idees om ‘n gesonde leefstyl en eetpatroon te volg in elkeen van die boekies. Die slaai as bygereg is ook ‘n lekker alternatief vir bv ‘n pasta- of rysslaai wat hoofsaaklik stysel kan bevat, terwyl hierdie slaai ook heelwat nader voedingswaarde sal gee.

En dan is iets soets en gebak vir die langnaweek ook op die spyskaart. Die wortelkoek het ons vir ‘n ander projek vir Pharma Dynamics ontwikkel en moeite gedoen om veral die hoeveelheid suiker en olie wat dikwels in ‘n wortelkoekresep gebruik word, aansienlik minder te maak. Die volkoringmeel gee ekstra vesel, sonder dat mens dit noodwendig agterkom. Die vrugte en speserye gee ‘n natuurlike soet smaak en dus is minder suiker nodig. Die koek word ook net met gesifte versiersuiker afgerond en nie ‘n roomkaasversiersel, wat dikwels ‘n baie hoë vetinhoud het nie.

En dan kan min gebak natuurlik suksesvol wees sonder eiers. Nulaid se eiers is dus perfek vir die resep en ‘n belangrike element om die bestanddele saam te bind, die mengsel volume te gee en ‘n lekker tekstuur te verseker. Ek lees graag op Nulaid se webwerf oor al die interessante resep- en kombuiswenke en feite wat hulle oor eiers gee. Gaan kyk gerus hoe interessant dit is.

Die ATKV borg weereens ‘n woord van die week vir Kosblik. Vandag gesels ek oor die Engelse woorde vir bakpoeier en koeksoda wat mens nogal maklik kan verwar en aangesien verpakkings deesdae net Engelse teks op het, moet ons seker maak dat ons die regte bestanddele koop, veral as jy met ‘n Afrikaanse resep werk. So is baking powder, inderdaad bakpoeier, maar bicarbonate of soda of baking soda is koeksoda. ‘n Resep soos die wortelkoek, gebruik dikwels beide as rysmiddel, maar dan is die hoeveelhede beslis verskillend, want jy gebruik heelwat minder koeksoda as bakpoeier en as jy die twee sou omruil, gaan 10 ml koeksoda ‘n baie seperige smaak gee, maar nie die koek so effektief laat rys soos 10 ml bakpoeier nie. Maak dus seker dat jy die regte bestanddeel koop en afmeet.

Terwyl dit vakansie is, kuier jy dalk ook op een van die ATKV se vakansieoorde, gaan eet dan gerus by die Koswerf-restaurante, want daar is iets vir elkeen van die gesin op die spyskaart.

Al die vorige Kosblik-insetsels se resepte en idees is hier op my webwerf beskikbaar, so loer gerus verder as jy nog idees vir die week of naweek nodig het. Volg my ook op Facebook om vroegtydig van elke week se idees en resepte te weet.

Resepte

Slaai met rooi nierbone en mielies met ‘n Meksikaanse geur

Lewer 4 – 6 porsies

Wortelkoek

Resep van Pharma Dynamics

Lewer 12 – 15 porsies

Bestanddele

Slaaisous

60 ml (¼ k) olyf- of avokado-olie

15 ml (1 e) rooi wynasyn

30 ml (2 e) suurlemoensap

5 ml (1 t) gemaalde komyn

2,5 ml (½ t) gemaalde koljander

sout en varsgemaalde swartpeper

Slaai

1 x 410 g-blik of 250 ml (1 k) heelpit mielies, gedreineer

1 x 410 g-blik rooi nierbone, gedreineer

1 avokado, in blokkies gesny (opsioneel)

150 g kersietamaties, in kwarte gesny

2 sprietuie, gekap

1 skyf feta, in blokkies gesny

’n groot handvol elk vars koljander- en kruisementblare

’n handvol pampoensade

Bestanddele

250 ml (1 k) volkoringmeel

500 ml (2 k) koekmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

2,5 ml (½ t) koeksoda

5 ml (1 t) gemaalde kaneel

5 ml (1 t) gemaalde wonderpeper

2,5 ml (½ t) gemaalde gemmer

3 groot Nulaid eiers, geklits

125 ml (½ k) sagte bruinsuiker

150 ml sonneblom-olie

10 ml (2 t) vanieljegeursel

250 ml (1 k) lemoensap

500 ml (2 k) fyngerasperde wortels

125 ml (½ k) gerasperde pynappel

125 ml (½ k) rosyne of gedroogde rooibosbessies

125 ml (½ k) gekapte peukanneute of amandels

Metode

1. Slaaisous: Klits al die slaaisousbestanddele saam en geur na smaak.

2. Slaai: Meng al die slaaibestanddele liggies deur in ‘n groot slaaibak. Skep helfte van die slaaisous oor, meng weer liggies deur en sit met die res van die slaaisous voor.

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n groot vorm-koekpan (soos ‘n Bundt- of silikoonpan) liggies met botter en sif ’n baie dun lagie meel oral oor die binnekant van die pan.

2. Plaas die volkoringmeel in ‘n mengbak en sif die res van die droë bestanddele bo-oor.

3. Klits die eiers en suiker vir ‘n paar minute in ‘n aparte groot mengbak tot lig en donsig. Voeg die olie, vanielje en lemoensap by en klits deeglik.

4. Vou die droë bestanddele deeglik met ‘n groot lepel by die vloeistof in, sonder om te veel te roer. Roer die wortels, pynappel, bosbessies en neute versigtig by.

5. Skep die beslag in die voorbereide pan en bak vir 45-50 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom.

6. Laat effens afkoel en keer op ’n afkoelrakkie uit. Laat die koek heeltemal afkoel en sif versiersuiker bo-oor, indien verkies. Sny in skyfies en sit as nagereg of ‘n soethappie voor.

Pin It on Pinterest

Share This