Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Witbone-doopsous

Apr 3, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Witbone-doopsous

Hardgekookte eiers

Vars groente, bv wortel, komkommer, rooi soetrissie, geel soetrissie, groen boontjies

Vleislose Maandae, of Meat-free Mondays, is nie ‘n nuwe konsep nie en is reeds ‘n hele paar jaar wêreldwyd bekend. Die idee is om almal aan te moedig om proteïen uit ‘n verskeidenheid bronne te eet en nie net bv vleis nie en op die manier die omgewing ook in ag te neem. Dit is ook ‘n goeie beginsel vir ‘n gesonde leefstyl, want elke bron van proteïen voorsien ook ander voedingselemente. Vis is byvoorbeeld bekend daarvoor dat dit makliker verteer as rooivleis en ryk is aan gesonde olies. Bone en peule as bron van proteïen is ryk aan vesel en kan help om cholesterol te verlaag. So is daar gesondheidsvoordele aan elke proteïenbron, wat dit juis noodsaaklik maak dat ons verkieslik iets van alles deur die week in ons etes moet insluit. Maak dus gerus vleislose, en wel voedsame, Maandae ‘n gewoonte vir jou gesin.

Die skoolvakansie het begin en dalk hoef jy nou vir ‘n week of wat geen kosblikke te pak nie, maar onthou om met die gesonde eetgewoontes wat dalk teen die tyd al deel is van jul manier van doen, vol te hou. Dit is iets wat die beginsels uit Cooking from the heart juis ondersteun, want as gesonde eetgewoontes ‘n leefstyl word, dan gaan mens nie sommer oorboord met ongesonde kos en verkeerde keuses nie, selfs al is die vakansie-roetine en eetpatroon soms so bietjie anders. Die reeks Cooking from the heart resepteboekies het ‘n wye verskeidenheid resepte en heelwat daarvan het wenke en voorstelle om met ‘n paar aanpassings, weer ‘n nuwe kombinasie van geure te skep. Vandag se resep is juis so ‘n voorbeeld. Die doopsous was oorspronklik met kekerertjies gemaak, maar deur bone te gebruik, gebruik jy weer ‘n ander bron van proteïen en het die eindresultaat ‘n ander geur.

Die Droëboneprodusente Organisasie doen baie moeite om ons almal aan te moedig om gereeld bone as bron van proteïen te geniet. Hul bemarking fokus ook daarop om ons bewus te maak van die wye verskeidenheid bone wat beskikbaar is en hoe maklik dit in etes ingesluit kan word. Vandag se doopsous is ‘n uitstekende voorbeeld, want die mengsel van bone en geurmiddels is regtig lekker en sommer ook ‘n maklike manier om bone so bietjie te verdoesel as jou gesin dit nie noodwendig wil eet nie. Die geroosterde sonneblomsade gee dit ‘n heerlike neuterige geur en die kombinasie van paprika, kruie en suurlemoensap met bone is altyd lekker. Bone het van nature ‘n redelike neutrale geur, wat dit juis so veelsydig maak, aangesien dit die ander geure in ‘n gereg absorbeer. Die sonneblomsade en olie in die mengsel dra ook by tot die gesonde olies wat ons in ons etes moet insluit. Bone is van nature laag in sout, en deur ander geurmiddels, soos kruie, speserye en suurlemoensap te gebruik, is dit dikwels nie nodig om nog sout by geblikte bone, soos vir die resep, te gebruik nie.

Eiers is nog ‘n perfekte bestanddeel om vir ‘n vleislose Maandag te gebruik, want dit is propvol proteïene en ander voedingstowwe. Vandag se spyskaart is ewe lekker vir ‘n kosblik of om as peuselete vir die vakansie te geniet. Dit sluit al die voedselgroepe in en is selfs glutenvry, as dit vir jou belangrik is. Die doopsous is regtig veelsydig en jy kan kies of jy die eiers wil kook of selfs bak of roer vir ‘n ligte vakansie-middagete. Nulaid se eiers is al vir ‘n hele paar maande deel van Kosblik en dit bly opwindend om hierdie basiese, maar veelsydige bestanddeel, elke week op ‘n ander manier deel te maak van gebalanseerde, voedsame etes en kosblikke vir die hele gesin.

Hier is ‘n paar wenke om eiers suksesvol te kook: gebruik eiers teen kampertemperatuur en plaas met kraanwater in ‘n kastrol om saam te verhit. Moenie die water laat kook en dan koue eiers daarin sit nie, dit laat die doppe maklik kraak. Prut die eiers oor ‘n matige temperatuur, met ‘n deksel, vir 8-10 minute, afhangend van hoe hardgekook jy dit verkies. Die water moet verkieslik nie so vinnig kook, dat die eiers op die bodem rond-bons en kraak nie. Haal die eiers dadelik uit die warm water, skep in ‘n bakkie met koue water om ‘n bietjie aft e koel en kraak dan so gou moontlik die doppe. Dit help om ‘n blou ring om die eiergeel te verhoed. Laat die eiers in die water afkoel en gebruik dan soos verkies. Kyk gerus na nog wenke oor die gaarmaak en hantering van eiers op Nulaid se webwerf

Die ATKV was al voorheen by Kosblik betrokke en dit is vir my baie opwindend om weer ‘n woord vir die week te kies, wat deur hulle geborg word. Hierdie week is Vleislose Maandae die woord, want dit is ‘n uitsekende voorbeeld van ons mooi taal se vermoë om ook by moderne tendense te kan kersvashou. In Afrikaans is daar dikwels nuutskeppings of woorde wat tot stand kom soos die wêreld om ons verander en nuwe ontwikkelings plaasvind en vleislose Maandae is ‘n goeie voorbeeld daarvan. Alhoewel die konsep as Meat-free Mondays ontstaan het en dit ‘n redelike direkte vertaling is, is dit tog lekker om ook na die tendens in Afrikaanse te kan verwys en nie altyd die Engelse woord hoef te gebruik nie.

Die ATKV is ook bekend vir hul vakansie-oorde, so as jy gelukkig genoeg is om die vakansie op een van die oorde te kuier, moet jy beslis by die Koswerf-restaurant ‘n draai gaan maak. Daar is heerlike etes vir die hele gesin op die spyskaart

Resep

Witbone-doopsous

aangepas uit Cooking from the heart

Lewer 6 – 8 porsies (500 ml)

Bestanddele

2 x 410 g-blikke wit- of botterbone, gedreineer, maar behou die vloeistof

100 ml sonneblomsaad, gerooster (sien wenk)

2 knoffelhuisies, fyngedruk

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie, of meer na smaak

5 ml (1 t) paprika of gerookte paprika

20 ml (4 t) gekapte vars Italiaanse pietersielie

50 ml suurlemoensap, of meer na smaak

swartpeper na smaak

Metode

1. Plaas al die bestanddele, met 50 ml van die behoue vloeistof van die bone, in ’n diep mengbak of groot mengbeker.

2. Meng met ’n stokmenger tot ’n growwe tekstuur. Geur na smaak en voeg meer vloeistof of olie na smaak by.

3. Sit voor as doopsous met byna enige iets. Dis heerlik met groenterepies of smeer op ’n pita, toevoupakkie (wrap) of broodjie. Dit is selfs lekker op vleis of ‘n gebakte aartappel of patat.

 

Wenke

1. Om jou eie sonneblomsaad te rooster, plaas in ’n braaipan sonder enige olie. Rooster 3-5 minute oor matige hitte of tot goudbruin.

2. Plaas orige doopsous in die yskas in ’n lugdigte houer vir 4-5 dae.

Pin It on Pinterest

Share This