Subscribe to Posts

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Lensieslaai en hawermoutkoekie

Mar 27, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Hoenderboudjies

Lensieslaai met kruisement, feta en broccoli

Hawermoutkoekies (resep uit Cooking from the heart 1)

Seisoensvrugte, soos druiwe

Ons het al vele idees vir kosblikke gedurende die afgelope paar maande gegee en vandag se resepte is weer iets wat maklik aangepas kan word volgens jou gesin se voorkeure. Die basiese beginsels van ‘n gebalanseerde kosblik geld steeds en hierdie kan ewe gemaklik as aandete voorberei en dan vir kosblikke ingepak word.

Die lensieslaai is ‘n heerlike bygereg, want dit is ‘n lekker afwisseling van ‘n tipiese ‘wit’ stysel-gebasseerde bygereg en ideaal vir ‘n ligte middagete, soos in ‘n kosblik. Die lensies is beide ‘n bron van proteïen en stysel, maar het heelwat meer gesonde vesel in as bv pasta of rys. As die lensies op hul eie geniet word, is dit ‘n geurige vegetariese ete Die slaaibestanddele wat daarby gebruik word, kan ook met ‘n wye verskeidenheid bestanddele voorberei word. Komkommer of boontjies en tamatie is ook heerlik daarby. Ertjies is ook altyd ‘n lekker kombinasie met lensies en al hierdie elemente pas perfek by die heerlike suurlemoen en kruisementgeure in die slaaisous. Dié slaai is ‘n goeie voorbeeld van een van daardie slaaie wat ‘n geurontploffing in jou mond is, al lyk dit dalk baie eenvoudig. Lensies pas perfek by beide suurlemoen en kruisement.

Ek en Kaye Cox het jare gelede ‘n soortgelyke resep vir AMC Cookware ontwikkel en ek gebruik variasies daarvan nog steeds. Die tuisgemaakte slaaisous is ook iets waaroor ons al voorheen gesels het en dis ‘n sterk fokus uit Cooking from the heart se tipe resepte. Die slaaisous is heerlik met enige ander slaai, so maak sommer ‘n dubbele mengsel en hou dit in die yskas gereed. ‘n Skeut of wat is selfs lekker oor gestoomde groen groente.

Die slaai word vir hierdie kosblik met hoenderboudjies ingepak, maar jy kan enige vleis gebruik. Dalk iets wat oorgebly het na ‘n braai gedurende die naweek. Of berei ‘n klompie hoenderporsies vir aandete en maak net genoeg sodat daar vir die kosblikke ook iets oorbly. Berei die hoenderboudjies in die oond vir ‘n lekker geroosterde geur en iets so eenvoudig soos vars kruie en olyfolie is heerlik op hoender. Of sprinkel gedroogde tiemie, gemaalde komyn en paprika oor die porsies voor dit gerooster word – maklik en eenvoudig, maar geurig en gesond.

Daar is heelwat idees om hoender op interessante maniere gaar te maak, in die Cooking from the heart resepteboeke. Die resepte is alles op die webwerf beskikaar, of laai die boekies gratis af van die webwerf.

Gee jou kinders hierdie vakansie baie liefde en aandag en lekker, gesonde kos. ‘n Soetigheid is vir almal lekker en met die vakansie om die draai, is ‘n blik met tuisgebakte koekies ‘n smullekker bederf. As dit by koekies kom, is tuisgemaak beslis die beste. Hierdie resep gebruik grondboontjiebotter en speserye wat dit ‘n interessante geur gee en die hawermout en volkoringmeel verseker dat dit ‘n n stewige skoot vesel in het. Die kombinasie van bestanddele gee die koekie ‘n lekker growwe tekstuur en dis ‘n maklike manier om met relatief gesonde bestanddele ‘n koekie te bak wat beslis gesonder is as ‘n winkel-weergawe. Onthou net om nie met die hele blik langs jou te gaan sit nie, maar gesonde porsiebeheer toe te pas. Een of twee koekies op ‘n keer is ‘n goeie riglyn.

Die resep kan egter nie dieselfde wees sonder die eiers wat alles saambind nie. Nulaid se verskillende groottes eiers kan vir variasie geregte en doeleindes in die kombuis gebruik word en is ‘n baie noodsaaklike bestanddeel vir meeste gebakresepte. Ons het eiers al op vele maniere in kosblikke gebruik, so gaan loer gerus op my webwerf, onder Kospos, na al die vorige idees en besoek Nulaid se webwerf vir nog heelwat nuttige inligting oor eiers, hoe om dit te gebruik, die voedingswaarde daarvan ‘n praktiese kombuiswenke.

Resepte

Lensieslaai met kruisement, feta en broccoli

Lewer 4 – 6 porsies

Hawermoutkoekies

Resep uit Cooking from the heart 1

Bestanddele

Slaai

250 ml (200 g) rou bruin lensies

100 g broccoli, in blommetjies gesny

6-8 Peppadews® (pikantrissies), in stukkies gesny

100 ml vars kruisementblare

1 skyf fetakaas, in blokkies gesny

Slaaisous

50 ml avokado- of olyfolie

25 ml (5 t) appel- of witwynasyn

10 ml (2 t) suurlemoenskil, fyn gerasper

50 ml suurlemoensap

5 ml (1 t) heuning

30 ml (2 e) fyngekapte vars kruisement

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Bestanddele

¼ k (60 ml) grondboontjiebotter

¼ k (60 ml) sagte botter

½ k (125 ml) suiker

3 groot Nulaid eiers, geklits

3 e (45 ml) melk

2 k (500 ml) rou hawermout

1 k (250 ml) volkoringmeel

½ t (2,5 ml) koeksoda

½ k (125 ml) rooibosbessies (cranberries) of rosyne

½ e (7,5 ml) gemaalde gemengde speserye

Metode

1. Slaai: Plaas lensies met 625 ml koue water in ’n kastrol, verhit oor matige hitte en prut vir 25-30 minute of tot net gaar, maar nie pap nie. Moenie enige sout by die rou lensies voeg nie.

2. Slaaisous: Meng intussen al die slaaisousbestanddele en geur na smaak.

3. Bedek intussen die broccoli met kookwater en laat vir 15 minute staan of tot net gaar. Dreineer.

4. Dreineer lensies en plaas met die broccoli terug in die kastrol. Skink die helfte van die slaaisous oor en laat heeltemal afgekoel.

5. Meng die lensiemengsel met die orige slaaisous en ander slaaibestanddele en sit voor.

Metode

1. Voorverhit oond tot 180°C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit. 2. Klop grondboontjiebotter en botter tot goed gemeng. Voeg suiker en eiers by en klits goed. Roer melk by. 3. Voeg hawermout, meel, koeksoda, rooibosbessies en gemengde speserye by en roer tot ‘n sagte deeg vorm. 4. Laat die mengsel ‘n paar minute staan. Rol in klein balletjies en plaas op die bakplaat. Druk plat met ‘n vurk of lepel. Of skep net lepelsvol op die bakplaat. 5. Bak vir 10-15 minute of tot goudbruin. Laat afkoel en bêre in ’n lugdigte houer. Bedien 2 as ‘n peuselhappie.

Pin It on Pinterest

Share This