Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Sardyne-gebak

Mar 20, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Sardyne-gebak

Groenbone en seisoensvrugte

Dadelballetjies

Met elke week se Kosblik-resepte en die gereelde insetsel op Die Groot Ontbyt, kry ek al hoe meer navrae van mense wat ook die resepte vir ander doeleindes as net hul gesin se behoeftes aanwend. Dis vir my lekker om te weet dat die idees vir nog mense prakties en bruikbaar is. So is daar heelwat mense wat baie moeite doen om seker te maak dat kinders in hul omgewing en gemeenskap elke dag iets te ete het.

Vandag se resep is ‘n lekker aandete, so maak genoeg om ook in die volgende dag se kosblikke te pak. Dis sommer ook ideaal vir voedingskemas of gemeenskapskombuise, want dieselfde beginsels vir ‘n gebalanseerde ete word gebruik, met bestanddele wat regtig bekostigbaar is. Die sardyne-gebak is baie geurig en vullend en kan warm of teen kamertemperatuur geniet word. Verder is dit ‘n lekker manier om dalk kinders wat nie andersins van vis en groente hou nie, aan te moedig om dit te eet.

Pharma Dynamics se drie resepteboeke, Cooking from the heart 1, 2 en 3, het ‘n wye reeks resepte in, om juis iets vir elkeen se smaak te gee. Hierdie resep was oorspronklik met tuna gemaak, maar sardyne is regtig voedsaam en dis die ideale manier om dit deel te maak van etes. Sardyne is propvol gesonde olies, selfs wanneer dit so in geblikte vorm gebruik word, teenoor geblikte tuna, waarvan meeste van die olie verlore gaan in die gaarmaakproses. Die dun graatjies en ruggraat van sardyne is sag genoeg om saam met die ander bestanddele fyn te druk en is baie ryk aan kalsium. Moet dit dus nie uithaal nie, maar maak dit beslis deel van die gereg. Die dadel-en-sjokoladeballetjieresep van vandag kom ook uit die resepteboekies.

Vir nog resepte en wenke oor ‘n gesonde leefstyl, kan die Cooking from the heartwebwerf besoek word. Jy kan ook die drie boekies gratis daar aflaai.

Die sardynegebak kan egter nie suksesvol wees sonder eiers nie. Dit is wat die hele mengsel saambind en laat stol. Verder dra dit natuurlik by tot die voedsaamheid van die gereg. Eiers se veelsydigheid kom tot hul volle reg in die resep, want dit gee ook volume aan die mengsel en help om al die ander elemente soos die brood, groente en vis te ‘dra’. Die eiers is ook nog ‘n baie gesonde bron van proteïen – iets wat veral vir groeiende kinders baie belangrik is. Nulaid se eiers kom in verskillende groottes voor en vir hierdie resep kan jy ekstra-groot of jumbo eiers gebruik. Nulaid se webwerf het ook ‘n lekker verskeidenheid van interessante inligting oor die voedsaamheid van eiers.

Almal hou van ‘n soethappie, maar in dieselfde asem moet ons beslis oplet na die hoeveelheid suiker wat ons inneem. Vandag se dadelballetjies het ‘n heerlike sjokoladesmaak en is die perfekte idee vir ‘n soetbederf, sonder dat daar suiker in is. Die dadels het natuurlike suikers is, wat aansienlik beter is as byvoorbeeld ‘n gekoopte sjokoladestafie. Met ‘n happie wat jou soettand kan bevredig, is dit ook makliker om dan kleiner porsies te geniet, want soos mens al baie gehoor het, te veel van selfs ‘n goeie ding, is nie meer goed nie.

Om na ons eie en ander kinders se gesondheid om te sien, is iets wat vir my baie belangrik is. Dit gaan teen my grein in, as ek soms sien wat mense vir hul kinders se kosblikke inpak en wat by skoolsnoepies verkoop word. As jy dalk betrokke is by ‘n snoepie of vir jou eie kinders gesonder opsies nodig het, is hierdie dadelballetjies ideaal.

Resepte

Sardyne-gebak

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1

Lewer 4 porsies

Dadel- en sjokoladeballetjies

Resep uit Cooking from the heart 2

Lewer 20 balletjies

Bestanddele

4 snye bruin- of volgraanbrood

1 k (250 ml) melk

1 x 425 g-blik sardyne in tamatiesous

1 ui, gekap

1 wortel, grof gerasper

4 ekstra-groot Nulaid eiers, geklits

½ t (2,5 ml) sout

1 e (15 ml) gekapte vars pietersielie

suurlemoensap en swartpeper na smaak

1 t (5 ml) paprika

¼ k (60 ml) gerasperde kaas

Bestanddele

½ x 80 g-blok donkersjokolade, in stukkies gebreek

1 e (15 ml) kakao

3 e (45 ml) melk

1 t (5 ml) vanieljegeursel

250 g ontpitte dadels, fyn gekap

100 ml klapper

ekstra klapper en kakao vir versiering

Metode

1. Voorverhit oond tot 180°C.

2. Skeur brood in stukkies en giet die melk oor. Laat dit bietjie week en druk met ’n vurk fyn.

3. Roer die vis in tamatiesous by en druk fyn. Voeg ui, wortel, eiers en sout by en meng goed deur.

4. Roer pietersielie by en geur met suurlemoensap, swartpeper en die helfte van die paprika.

5. Skep in ’n oondbak en strooi kaas en die orige paprika oor.

6. Bak vir 30-40 minute tot goudbruin en gaar. Sit met slaai voor.

Metode

1. Plaas sjokolade in ’n glasbak en smelt oor ‘n kastrol met liggies kokende water. Maak seker dat die bak nie aan die water raak nie.

2. Meng kakao met ‘n bietjie van die melk tot ‘n pasta vorm. Meng die res van die melk en die vanielje by.

3. Roer van die gesmelte sjokolade in die melkmengsel tot glad. Meng dan die res van die sjokolade by.

Pin It on Pinterest

Share This