Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Geurige tamatiesmoor en hawermoutplaatkoekies

Mar 6, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Geurige tamatiesmoor

Oorskiet-braaivleis

Slaaigoed (komkommer en wortelrepies)

Hawermout-plaatkoekies met kaas (Maak Vyf)

Sademengsel

Om gesonde keuses te maak, bly belangrik vir ‘n gesonde leefstyl. ‘n Groot deel hiervan is om voedsame bestanddele deel te maak van jul etes. Bestanddele soos hawermout, lensies, bone, gesonde olies en ‘n verskeidenheid vrugte en groente is voorbeelde hiervan. Maar hoe gemaak as jou kinders nie dit wil eet nie? Dan maak ‘n mens ander plan en sit dieselfde bestanddele net anders voor.

Hawermout is iets wat baie kinders laat gril, maar dit hoef beslis nie net sy verskyning in ‘n gekookte vorm in ‘n papbakkie te maak nie. Hawermout se voordele kan op ander gesonde maniere deel gemaak word van jul etes. Ek gebruik dit bv in beskuit, frikkadelle of tuisgemaakte muesli en my kinders smul ewe lekker daaraan as gekookte hawermout. Vir vandag se resep, gebruik ek dit in die plaatkoekies, wat dit ‘n interessante tekstuur gee, sonder dat iemand noodwendig gaan weet daar is hawermout in.

Die plaatkoekiebeslag het geen suiker in nie, want die jogurt en vanieljegeursel gee dit ‘n soet smaak. Die bietjie gesmelte botter dra verder by tot die tekstuur, maar dit beteken ook dat heelwat minder olie vir die braai-proses nodig is, want niemand hou van ‘n olierige plaatkoekie nie.

Die Griekse jogurt en eiers gee die plaatkoekies ‘n lekker sagte tekstuur. Eiers is wel belangrik om al die bestanddele te help saambind, maar moenie vergeet dat die eiers verder bydrae tot die voedsaamheid van die plaatkoekies nie. Daar is soveel elemente in eiers wat regtig belangrik is vir ‘n gesonde eetgewoontes, dat jy dit beslis op verskillende maniere in kos moet gebruik.

Nulaid se webwerf gee baie inligting hieroor, so gaan lees gerus nog meer daaroor. Dit is ook nie net geskik vir ontbyt of gebak nie, ons het dit al op ‘n wye verskeidenheid van maniere deel gemaak van voedsame kosblikke. Die resepte is alles op my webwerf beskikbaar.

Die plaatkoekieresep kom oorspronklik uit my resepteboek, Maak vyf (Human& Rousseau). Die boek fokus op ‘n lang lys van alledaagse bestanddele, soos hawermout, elkeen op vyf interessante en lekker maniere. Die hawermoutplaatkoekies is in die boek as nagereg voorgesit met ‘n baie lekker tuisgemaakte sjokoladesous met ‘n tikkie kardemom in. Ek ontwikkel graag resepte wat ek op verskillende maniere kan gebruik en hierdie resep is ‘n goeie voorbeeld. Die plaatkoekies is heerlik met die sous, maar ewe lekker as ontbyt met eier en spek of soos ons dit hier vir die kosblik gebruik, met kaas of oorskietvleis en ‘n heerlike tamatiesmoor.

As jy in Maart ‘n kopie van die boek by my bestel, kos dit jou net R175 (plus posgeld en verpakking) en boonop kan ek dit vir jou teken ook. Stuur sommer nou vir my ‘n epos na heleen.m@iafrica.com of kyk hier op my webwerf na die boekeblad en plaas jou bestelling.

Om op maklike maniere voedsame bestanddele in etes te gebruik, is ‘n sterk fokus in die resepteboeke wat deur Pharma Dynamics ontwikkel is, Cooking from the heart. Die drie boeke is gratis op hul webwerf beskikbaar.

Daar is wel elke week ‘n resep uit een van die boeke deel van die #kosblik-idee vir die week. Soms gebruik ons dit op nog interessante maniere of gee ‘n variasie daarop, maar die beginsels vir ‘n gesonde leefstyl word altyd toegpas. Hierdie week gebruik ons ‘n geurige tamatiesmoor wat op verskillende maniere deel kan wees van jul etes. Maak sommer by voorbaat ‘n groot hoeveelheid en bêre dit in ‘n gesteriliseerde glasfles in die yskas.

Die resep het vars gemmer en ‘n tikkie kerriepoeier in, maar jy kan kies waarmee jy die sous wil geur, want vars kruie sal net so lekker wees. Volg net die Cooking from the heart beginsels en moenie in die versoeking kom om voorafbereide souse of bestanddele vol preserveermiddels te gebruik nie. Die natuurlike geure van gemmer, soetrissie en tamatie is heerlik saam. Deur die sous te prut en in te damp, ontwikkel die geure selfs nog meer. Daar is ook nie suiker in die sous nodig nie, want die soetrissies is van nature soet.

Dit is ook Skole Gesondheidsweek, wat my altyd laat wonder by hoeveel skole daar moeite gedoen word om by snoepies of sportgeleenthede en selfs skole-voedingskemas ook op voedsame kos te fokus. Hierdie sous is regtig maklik om te maak en as die kinders nie van soetrissie gaan hou nie, kan dit met uie en seldery vervang word of verpulp die hele mengsel voor dit gebruik word. Dis ideaal vir worsrolle, hamburgers en baie ander etes wat tipies by ‘n sportgeleentheid en snoepie verkoop word. Ek skep ook die sous oor hoenderstukke en rooster dit met foelie oor in die oond of maak dit in ‘n kastrol op die stoof gaar en dis heerlik.

Resepte

Geurige tamatiesmoor

Resep uit Cooking from the heart 1

Lewer 6 porsies

Hawermout-plaatkoekies met jogurt

Resep uit Maak vyf

Lewer 25-30 klein plaatkoekies

Bestanddele

2 t (10 ml) olyf- of avokado-olie

1 ui, gekap

1 cm stuk vars gemmer, gekap

1 rooi of oranje soetrissie, ontpit en gekap

1 t (5 ml) kerriepoeier of na smaak

1 x 410 g-blik gekapte tamaties

suurlemoensap en swartpeper na smaak

Bestanddele

2 eiers, geklits

1 k (250 ml) Griekse of ongegeurde jogurt

350 ml melk

5 ml (1 t) vanieljegeursel

250 ml (1 k) steengemaalde koekmeel

5 ml (1 t) bakpoeier

375 ml (1½ k) hawermout

30 ml (2 e) botter, gesmelt

olie om te braai

Metode

1. Verhit olie in ’n diep pan of kastrol en soteer die ui en gemmer.

2. Voeg soetrissie by en soteer tot sag. Roer kerriepoeier by en dan die tamaties.

3. Prut oor lae hitte vir 15-20 minute of tot verdik. Geur met suurlemoensap en peper.

4. Die sous kan op verskillende maniere gebruik word. Dis ‘n lekker doopsous, sous saam met braaivleis en pap en heerlik om hoenderstukke in gaar te maak.

Metode

1. Klits die eiers, jogurt, melk en vanielje saam in ’n mengbak. Roer die meel, bakpoeier en hawermout by tot goed gemeng.

2. Roer die botter by. Laat 5 minute staan voor die eerste plaatkoekies gebraai word. Dit gee die hawermout net bietjie kans om uit te swel.

3. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan. Skep lepelsvol (30 ml) van die beslag in die pan en braai tot lugborrels bo-op vorm. Draai versigtig om. Braai tot goudbruin en gaar.

4. Skep uit, dreineer op kombuispapier en hou warm. Herhaal met die res van die mengsel. Sit voor met kaas. Die tamatiesmoor en kaas is heerlik op die plaatkoekies.

Wenke

1. Die sous kan vooruit gemaak word en in ’n glasfles in die yskas bewaar word.

2. Indien jou kinders nie van soetrissie hou nie, verpulp die hele smoor voor jy dit gebruik of stoor, want die soetrissie gee ‘n heerlike geur daaraan.

Pin It on Pinterest

Share This