Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Stampkoringslaai

Jan 23, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Nektarien-en-stampkoringslaai (Gemstone Fruit®) met botterbone (Rhodes Quality botterbone)

Grondboontjiebotterskywe (resep uit Cooking from the heart 2)

As die kwik begin styg, is ‘n mens dikwels nie lus vir ‘n warm bord kos nie – nie om dit kook of te eet nie. Daar is gelukkige baie eenvoudige maniere om steeds gesond, vullend en lekker te eet.

Die resep vir vandag kan as bygereg of vegetariese ete gebruik word en jy kan selfs die bone met nog ‘n proteïen aanvul. Die oorspronklike resep kom uit my resepteboek Maak vyf, waar dit as aandete met kasslertjops gemaak is, want die kombinasie van die effens rokerige vleis met vars perskes en ‘n kruie-slaaisous is heerlik. Dit bly vir my lekker om met geurkombinasies te speel, so wanneer ek weet iets werk goed saam, bv die perkses en kruieslaaisous met ‘n meer souterige smaak, varieer ek graag van die ander bestanddele om nog weer ‘n nuwe manier te kry om dit te gebruik. In hierdie resep, is die bone en perskes, maar ook die bone en ‘n tuisgemaakte kruieslaaisous met vars tiemie en balsamiese asyn altyd ‘n wenner.

Bone, en iets soos die stampkoring, kan die ander geure van ‘n gereg baie maklik absorbeer, wat die hele gereg baie geurig maak. Hierdie slaai is dus bedoel as ligte maaltyd en kan vir aandete meer vullend gemaak word met nog vleis. Selfs hoender sal baie lekker wees daarin. Maak dan genoeg koring, sodat jy vir die volgende dag se kosblikke die bone en perskes kan kombineer.

Goeie eetgewoontes vir die hele gesin, wat dan ‘n leefstyl word, is een van die belangrikste ‘geskenke’ wat jy vir jou kinders kan gee. Voedsame, tuis-gepakte kosblikke is dalk bietjie meer moeite en verg bietjie meer beplanning as net nog ‘n toebroodjie of ‘n geldjie vir die snoepie, maar dit bly die moeite werd. Veral soetgoed wat by die huis gemaak word, is dikwels gesonder, want dan kan jy beheer hoeveel suiker daarin gebruik word en beter keuses maak. Pharma Dynamics se resepteboekies, Cooking from the heart, fokus juis daarom op ons almal aan te moedig om gesonder te leef en eet. Daar is baie voorstelle, raad en idees om dit prakties te maak.

Hou kosblikke vullend en voedsaam en probeer verwerkte en verfynde kos so ver as moontlik vermy. Sorg vir ‘n lekker verskeidenheid kos en benut die vars bestanddele van elke seisoen. Hoe kleurvoller die inhoud van die kosblik, hoe groter is die variasie van voedingselemente wat ingepak is. Beperk ook sout, suiker en onnatuurlike preserveermiddels. Natuurlike soet smake kan op baie ander maniere as met suiker verkry word. Hierdie week se twee resepte is uistekende voorbeelde daarvan.

My kinders is dol oor die grondboontjiebotterskywe vir die week se kosblikke. Dit is verspot maklik om te maak en is regtig lekker. Onthou om die etiket van die grondboontjiebotter te lees, sodat daar nie onnodig baie bygevoegde suiker en sout in is nie. (Om kos-etikette op verwerkte produkte te lees word vinnig ‘n gewoonte as ‘n mens dit eers begin doen.) Die mengsel word met eier gebind, wat nog ‘n manier is om die happie ‘n bietjie meer voedingswaarde te gee. Eiers is regtig propvol voedsaamheid en kan maar gereeld deel gemaak word van jou inkopielysie en spyskaarte. Nulaid het ‘n goeie verskeidenheid eier-groottes in winkels beskikbaar en ook in verskillende grootte verpakkings, so kyk gerus wat pas jou gesin se behoeftes die beste. Onthou dat eiers se doppe en verpakking alles ook baie omgewingsvriendelik is – gebruik dit alles in jou komposhoop. Sommer nog ‘n manier waarop eiers veelsydig kan wees. Dit is beslis ‘n item wat altyd op my inkopielysie is.

Die somer is sinoniem met vars vrugte soos perskes en as jy eers ‘n perske of nektarien uit die Gemstone Fruit® reeks geproe het, gaan jy beslis weer daarvoor in ‘n winkel soek. Die reeks word verdeel in geel en wit vrugte, beide vir perskes en nektariens en die vrugte is almal baie sappig en soet. Ek gebruik graag perskes in slaaie en ander geregte, soos die slaai van vandag, want dit gee ‘n natuurlike soet smaak aan ‘n ete en kombineer dikwels so goed met soveel ander bestanddele. Dit kan bv met ‘n verskeidenheid kase gebruik word en is ‘n maklike manier om ‘n eenvoudige groenslaai op te kikker. Die Gemstone vrugte is beslis nie net lekker as peuselhappie nie, so wees gerus kreatief daarmee terwyl dit in seisoen is. Onthou sommer ook dat dit ‘n maklike manier is om ‘n bottel koue water interessant te maak – sit ‘n paar skyfies perske of nektarien daarin en jy sal dalk verbaas wees oor hoe vinnig jy dit opdrink.

Mense is soms versigtig om op baie warm dae vleis, hoender of vis in ‘n kosblik te sit, veral as dit dalk eers later geëet gaan word. Met bone, lensies, peule en neute is dit wel moontlik om ‘n ete steeds vullend genoeg te maak. Die gerief van geblikte bone is ook iets wat ideaal is vir ‘n kosblik. Rhodes Quality se geblikte botterbone is ‘n baie bekostigbare bestanddeel en kan op verskillende maniere in ‘n kosblik gebruik word. Die gerieflike knippie op hul reeks blikkies maak dit sommer nog makliker om te gebruik, want jy hoef nie met ‘n bliksnyer te sukkel nie en die randjie van die blik is dan ook nie naastenby so skerp en gevaarlik nie. Bone is ‘n lekker bron van proteïen en pas by ‘n verskeidenheid van ander geure. Dit gee ‘n interessante tekstuur in die slaai en is baie lekker saam met die perskes en slaaisous.

Die Afrikaanse woord vir die week se kosblik is stampkoring. Dit verskyn nog op sommige van die verpakkings, maar omdat daar dikwels net Engelse bewoording gebruik word, verloor ons soms die mooi Afrikaanse term vir sommige bestanddele. Jy sal dus ‘pearled wheat’ op verpakkings sien, maar onthou die mooi woord: stampkoring.

Resepte

Stampkoringslaai met bone & perskes

Resep aangepas uit Maak vyf/ Make five

Lewer 4 – 6 porsies

Grondboontjiebotterskywe

Resep uit Cooking from the heart 2

Lewer ongeveer 20 skywe

Bestanddele

250 ml (1 k) stampkoring

4 takkies vars tiemie

60 ml (¼ k) olyf- of avokado-olie

20 ml (4 t) vars tiemieblare

20 ml (4 t) appelasyn

10 ml (2 t) balsamiese asyn

sout en peper

1 x 410 g-blik botterbone, gedreineer

2 Gemstone Fruit ® nektariens, ontpit en in dun wiggies gesny

’n paar ekstra vars tiemieblare

Bestanddele

500 ml (2 k) hawermout

80 ml (⅓ k) heuning

80 ml (⅓ k) dadels, gekap

75 ml (5 e) grondboontjiebotter

1 groot Nulaid eier, geklits

60 ml (¼ k) sonneblomolie

5 ml (1t) gemaalde kaneel of gemengde gedroogde speserye

5 ml (1 t) vanieljegeursel

Metode

1. Plaas die stampkoring, takkies tiemie en ’n knippie sout in ’n kastrol. Bedek met water,verhit tot kookpunt en prut met ’n deksel op vir 30-40 minute of tot sag. Dreineer, spoel af en laat dit afkoel.

2. Meng die olie, tiemieblare, appel- en balsamiese asyn om ’n slaaisous te maak. Geur na smaak.

3. Plaas die bone en afgekoelde stampkoring in ’n mengbak en giet die slaaisous bo-oor. Meng liggies deur. Roer die vrugte deur. Garneer met die ekstra tiemie en sit voor.

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n 18 x 30 cm-bakplaat liggies met olie.

2. Plaas al die bestanddele saam in ‘n mengbak en meng tot goed gemeng.

3. Druk die mengsel liggies in ‘n eweredige laag in die bakplaat. Bak 10-15 minute of tot goudbruin en gestol.

4. Sny in 20 skywe, wanneer dit nog warm is. Laat dit in die bakplaat afkoel. Bêre in ‘n lugdigte houer vir tot ‘n week.

Pin It on Pinterest

Share This