Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Bone-en-eierslaai

Nov 21, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Bone-&-eierslaai met vars groente

Sjokolade-en-hawermout-balletjies

Seisoensvrugte, bv. perskes of nektariens

Rhodes Quality mangosap

Die somer is beslis op hande en dan is ‘n mens dikwels lus vir ‘n ligter, maar steeds vullende middagete, in plaas van ‘n warm bord kos. Die afgelope paar weke het ek spesifiek gefokus op maniere waarop ons almal ons bloedsuikervlakke beter moet bestuur. ‘n Slaai met eiers, bone en vars slaaibestanddele is perfek vir so ‘n ete, want dis nie te swaar nie, maar sal jou beslis vir ‘n hele tyd versadig hou. Jy kan enige kombinasie van slaai en groente in die slaai gebruik, want die slaaisous is regtig veelsydig en pas by ‘n wye verskeidenheid bestanddele.

Om self iets soos peuselhappies, slaaisouse en marinades te maak, in plaas daarvan om altyd ‘n voorafbereide opsie te koop, is een van die beginsels van ‘n gesonde leefstyl waarop Pharma Dynamics se drie resepteboeke veral fokus. Dit is dikwels heelwat lekkerder, want jy kan kreatief wees met geurmiddels en ook die gesonder roete, want dan weet jy self wat in die souse is en kan beter beheer hoeveel sout, suiker en preserveermiddels deel word van jou en jou gesin se etes.

Deur ‘n verskeidenheid seisonale bestanddele in jou etse in te sluit, maak jy op ‘n praktiese manier nog ‘n beginsel van ‘n gesonde leefstyl deel van jul manier van eet. Hoe groter die verskeidenheid kossoorte, hoe groter is die kans dat ‘n wye genoeg variasie van voedingstowwe ingesluit word. As jy byvoorbeeld ‘n verskeidenheid van kleure op jou bord het, het jy reeds ‘n goeie variasie van vitamiene en minerale asook ‘n goeie skoot vesel ingesluit.

Die peuselhappies vir die week se kosblikke, proe of dit sjokolade in het en bevredig nogal ‘n mens se lus vir ietsie sjokoladerigs, maar dit het nie regtig sjokolade in nie – wel ‘n hele paar gesonde bestanddele soos neute, hawermout en goeie gehalte kakao. En dit proe heerlik! Hierdie kombinasie van bestanddele is dus sommer ook ryk aan vesel, selfs al is dit ‘n soetigheid. As ‘n mens ‘n gesonde leefstyl volg, kan jy jouself beslis van tyd tot tyd ‘n soet bederf gun. Daar is nog baie ander praktiese raad en vele resepte op Pharma Dynamics se Cooking from the heart webwerf en Facebook-blad beskikbaar.

Vir die week se slaai, is eiers en bone die twee bronne van proteïen. Dit is ‘n heerlike kombinasie, want die eiers is nie net ‘n bron van proteïen nie, maar ook heelwat ander voedingselemente wat baie belangrik is vir ‘n gesonde leefstyl. Die bone is ook ‘n bron van vesel en natuurlik laag in sout. Albei hierdie element is absoluut heerlik met die kruie-slaaisous, wat dit ‘n smullekker slaai maak.

Hardgekookte eiers is dikwels deel van ‘n kosblik en beslis ideaal vir hierdie slaai. Jy sou selfs ‘n eier effens korter kon kook (sowat 5-6 minute) en die loperige eiergeel soos ‘n slaaisous in die slaai kon gebruik. Een van die redes waarom eiers so veelsydig is, is omdat dit vir letterlik enige ete van die dag gebruik kan word. In hierdie week se resepte word die eiers as proteïen vir die slaai gebruik en dan as bindmiddel in die sjokoladeballetjies. Besoek gerus Nulaid se webwerf.

Die Droëbone produsente organisasie en Rhodes Quality produkte fokus graag op die gesonde aspekte van bone. Dit is ook ‘n bestanddeel wat op vele maniere deel kan word van etes. Bone en peuele is vullend en ryk aan vesel, wat juis help om jou meer versadig te hou. Mense gebruik dikwels die verskoning dat bone te lank neem om te kook, maar met Rhodes se geblikte bone is dit maklik om bone in jou etes in te sluit. Die gerieflike hingseltjie op die blikkies se deksels, maak dit ook baie maklik om dit te gebruik. Bone en peule pas ook by ‘n wye verskeidenheid geure, so wees lekker kreatief daarmee.

Onthou dat jy self ook bone kan kook, maar dit sal eers geweek moet word – bietjie vooraf-beplanning is dus nodig. Onthou ook nie sout, asyn of tamaties by bone of peule te voeg, voor die bone en peule nie gaar is nie. Bone en peule vries ook goed in die kook- of inmaakvloeistof, so jy kan dit in porsies vries vir ‘n volgende keer se gebruik.

Resepte

Bone-&-eierslaai met vars groente

Lewer 4 – 6 porsies

Sjokolade-en-hawermoutballetjies

Uit Cooking from the heart 3

Lewer ongeveer 24 balletjies

Bestanddele

4 -6 Nulaid ekstra-groot eiers

150 g dun groenboontjies, in kwarte gesny

’n mengsel vars jong slaaiblare met roket-, dille- en kruisementblare

200 g kersietamaties, gehalveer

1 x 410 g-blik Rhodes Quality botterbone, gedreineer

8-10 swart olywe, ontpit en gehalveer

 

Slaaisous

75 ml (5 e) olyf- of avokado-olie

30 ml (2 e) druiwe- of appelasyn

5 ml (1 t) Dijon- (Franse) mosterd

1 klein knoffelhuisie, gekneus

15 ml (1 e) elk gekapte vars Italiaanse pietersielie, origanum en tiemie of dille

sout en peper

Bestanddele

1 piesang

1 eier, Nulaid eier, geklits

40 ml (8 t) sonneblomolie

10 ml (2 t) vanieljegeursel

15 ml (1 e) bruinsuiker

60 ml (¼ k) fyn klapper

250 ml (1 k) rou hawermout

30 ml (2 t) kakao

60 ml (¼ k) gekapte rou amandels

Metode

1. Plaas die eiers in ’n kastrol met kraanwater en verhit oor matige hitte tot kookpunt. Kook 6-7 minute.

2. Skep uit, spoel af met koue water en kraak die doppe liggies. Laat dit effens afkoel en dop heeltemal af. Halveer of sny in wiggies.

3. Giet kookwater oor die groenboontjies en laat staan vir ’n paar minute. Dreineer, spoel af en laat dit afkoel.

4. Slaaisous: Klits al die bestanddele saam en geur na smaak.

5. Pak al die slaaibestanddele op ’n slaaibord en sit saam met die slaaisous voor. Of pak in ’n kosblik.

Metode

1. Voorverhit die oond tot 200 ˚C en voer ‘n bakplaat met bakpapier uit – GLAD se bakpapier werk uitstekend.

2. Druk die piesang met ‘n vurk in ‘n groot mengbak fyn. Klits die eier, olie en vanielje by.

3. Roer die res van die bestanddele by tot goed gemeng. Skep lepelsvol van die mengsel op die bakplaat.

4. Bak vir 10-15 minute of tot gaar en gestol. Laat afkoel en bêre in ‘n lugdigte houer vir 2-3 dae.

5. Sit 3 balletjies per persoon voor.

Pin It on Pinterest

Share This