Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Eiertoebroodjie

Oct 24, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Eiertoebroodjie met bronkors en slaaibestanddele

Geroosterde neute met speserye (resep uit Cooking from the heart 2)

Seisoensvrugte

ATKV woord van die week: bronkors (watercress)

Die einde van die jaar kom teen ’n tempo nader en met besig skedules en vol dae, is gesond eet die een ding wat soms agterweë bly. As mens juis dan op ’n gesonde leefstyl kan terugval, voel jy ook sommer meer energiek vir die laaste paar maande van die jaar.

As ek die week se etes tot ’n mate kan beplan, help dit baie. Ek probeer om iewers deur die loop van die naweek die komende week se etes en kosblikke te bedink. Al weet ek net so min of meer wat ek vir aandetes wil maak, sorg dat ek dit aankoop en genoeg maak om dit ook vir die volgende dag se kosblikke te kan gebruik, is die stryd halfpad gewonne.

Gesonde etes hoef ook nie elke keer ’n flambojante bord kos te wees nie. Met eenvoudige bestanddele wat mekaar aanvul en lekker smaak, kan jy elke dag lekker eet. Eiers is een bestanddeel wat ons altyd in die yskas het. Daarmee kan jy ontbyt, ’n vinnige middagete en heerlike aandete in ’n japtrap maak. Dis ’n gesonde bron van proteïen en gesonde vette, lekker vullend, propvol voedingswaarde en bevat min kilojoules – alles elemente van ’n gesonde manier van eet.

Nulaid se reeks eiers in verskillende groottes is ideaal vir al die maniere waarop eiers in etes gebruik kan word. Soms is dit die hoof-proteïen, soos in die eiertoebroodjie en ander kere is dit die bindmiddel. Hul webwerf het hele klomp praktiese wenke, idees en inligting oor eiers. Gaan lees gerus meer daar.

Hardgekookte eiers is iets wat mense nogal moedeloos kan maak, omdat die eiers maklik verkleur en ’n blou ring om die eiergeel vorm. Daar is niks fout met die eier as dit gebeur nie, maar dit lyk onaptytlik. Met ’n paar praktiese wenke kan jy dit so ver as moontlik probeer verhoed. Moenie die eier te lank kook nie en volg die metode in die resep hier onder, deur met koue water in die kastrol te begin – op die manier word die eier geleidelik gaar. Kraak die dop sodra dit uit die warm water kom en dop dit verkieslik so gou as moontlik af. Kook ’n eier vir 10-12 minute vir ’n hardgekookte eier, 7-8 minute vir ’n sagte geel en net 3-4 minute vir ’n loperige geel. Terloops, onthou om nie eierdoppe of die eierhouertjies net weg te gooi nie, beide is ideaal vir die komposhoop.

Ander bestanddele waarvan ek altyd ’n lekker verskeidenheid in die yskas het, is vars vrugte en groente. Deel van ’n gesonde manier van eet, is dat ons ten minste 5 porsies groente of vrugte per dag moet eet. En verkieslik moet ten minste ’n gedeelte daarvan rou wees. Vrugte en groente is nie net ’n goeie bron van vitamiene, minerale en vesel nie, maar ook kosse wat ons dikwels voller hou vir langer. Selfs net ’n wiggie tamatie met eier vir ontbyt, ’n vrug by middagete of as peuselhappie deur die dag en slaai met ’n ete is lekker maniere om dit deel van jou etes te maak. Op die manier kan ’n groot gedeelte van dit wat op jou bord is, ook sommer so vars en onverwerk as moontlik wees, min bygevogde suiker, sout en ander onnatuurlike preserveermiddels bevat.

Onthou, gesond eet gaan veral ook oor voorkoming, nie net om gesond te eet as jy dan wel siek voel nie. Hoe gesonder mens eet, hoe vinniger word jy dikwels ook gesond as jy bv hierdie tyd van die jaar ’n somer-verkoue kry. Met die warmer weer en langer dat is dit ook makliker om meer oefening te kry. Onthou om veral ook nou genoeg te slaap en bly gerehidreer, deur elke dag genoeg water te drink. Al hierdie beginsels is deel van die leefstyl waaroor Pharma Dynamics in hul resepteboeke Cooking from the heart, baie praktiese raad gee. Dit gaan beslis nie oor ‘n dieet nie, maar ‘n manier van leef – elke dag. Besoek ook hul webwerf en Facebook-blad vir nog wenke en raad hieroor.

Ons het al vroeër die maand gesels oor die noodsaaklikheid daarvan om dit wat jy vir ‘n kosblik inpak, só te doen dat dit wat moet vars bly, wel vars is teen die tyd dat dit geëet word. Dieselfde beginsel geld vir dit wat moet droog bly of nie te veel teen ander kos in die houer druk nie. Die regte verpakking is dus ideaal en GLAD se reeks produkte is nie net gerieflik nie, maar daar is ‘n wye keuse om te gebruik. Die GLAD ZipSeal sakkies is bv ewe gerieflik vir neute of vrugte. Selfs ‘n nat lappie wat ingepak moet word vir taai vingertjies, bly lank klam in so ‘n sakkie.

Deur kos goed te verpak vir ‘n kosblik en ook die res wat nog in die yskas gehou moet word, is daar beslis minder vermorsing en kos wat op die ou end weggegooi word. Verpak byvoorbeeld slaaiblare in ‘n Glad kossakkie en pof dit so bietjie op voor dit toegeknoop word. Op die manier kneus dit nie en bly langer vars. GLAD se Bake and Cooking Paper is ook ‘n baie handige ding in enige kombuis. Dit beteken ook sommer dat minder olie nodig is, as jy bv iets soos die neute wil rooster én dis baie minder moeite om die bakplaat skoon te kry. Lees nog meer oor hul reeks produkte op hul webwerf.

Baie mense erken dat hulle geen idee het wat die Afrikaans woord vir watercress is nie. Weet jy? Die Kosblik woord van die week, wat deur die ATKV geborg word, is inderdaad bronkors. Die sagte, klein ronde slaaiblaartjie is heerlik met eiergeregte en word dikwels in slaaie en toebroodjies gebruik. Die borgskap van Kosblik se woord van die dag, is nog ‘n manier waarop die ATKV ons wil trots maak op die mooi taal wat ons praat. Besoek ook www.atkvoorde.co.za of die Facebook-blad vir meer inligting oor die organisasie.

Resepte

Geroosterde neute met speserye

Resep uit Cooking from the heart 2

Lewer 6 porsies

Eier-toebies

Gebruik 1 hardegekookte eier per toebroodjie. Plaas eiers met genoeg water (teen kamertemperatuur) in ‘n kastrol en bring oor matige hitte tot kookpunt. Verlaag die temperatuur effens sodat die eiers nie te vinnig kook of rond bons in die kastrol nie. Bereken die kooktyd, vandat die water begin borrel. Kook eiers met die deksel op vir 10-12 minute vir ‘n hardgekookte eier. Skep eiers uit en kraak die doppe effens, spoel in koue water af om te keer dat die eiers verkleur. Laat verder afkoel en dop dan af.

Druk eiers met ‘n vurk fyn. Geur ongegeurde jogurt met gekapte vars kruie, soos pietersielie, dille en grasuie, suurlemoensap en swartpeper en meng dit met die eier. Sit ‘n paar bronkorsblare en slaaibestanddele soos komkommer op ‘n snytjie volkoringbrood. Skep van die eiervulsel bo-op en maak ‘n toebie met nog ‘n snytjie brood.

 

Bestanddele

200 g rou, ongesoute neute, bv. amandels of grondboontjies

15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie

5 ml (1 t) paprika

2,5 ml (½ t) gemaalde komyn

2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel

swartpeper na smaak

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ‘n bakplaat met bakpapier uit, GLAD se Bake & Cooking Paper werk uitstekend.

2. Meng al die bestanddele in ’n mengbak saam tot die neute met die olie en speserye bedek is.

3. Skep dit op die bakplaat en bak 10-15 minute of tot goudbruin en bros. Roer een of twee keer deur en hou dop dat dit nie brand nie.

4. Laat afkoel en gebruik 80 ml (⅓ k) neute per persoon vir ’n peuselhappie. Of sprinkel oor ‘n slaai.

Wenke

1. Kies enige kombinasie van neute en sade, bv. sonneblom- of pampoensaad, pekanneute, grondboontjies of amandels.

2. Bêre neute in ‘n lugdigte houer om dit vars te hou.

3. Probeer ’n effens soeter geurkombinasie. Vervang speserye met 5 ml gemaalde kaneel, 2,5 ml gemaalde gemengde speserye en ’n knippie neutmuskaat. Laat die peper uit en geniet as ‘n peuselhappie of strooi oor hawermoutpap of vrugteslaai vir ontbyt.

4. Meng neute met gedroogde vrugte soos rosyne of gedroogde rooi bosbessies vir ‘n kosblik-happie.

Pin It on Pinterest

Share This