Subscribe to Posts

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Bruinrys-slaai

Oct 10, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Bruinrys-slaai met repies omelet (eier) met ’n slaaisous (uit Cooking from the heart 1)

Neute en vars aarbeie (in GLAD ZipSeal® bags)

Om gesond te eet, is vir ons almal tot voordeel, maar dis ewe belangrik om nie kos te vermors nie. Ons land en omgewing kan dit nie bekostig nie en dis ook ‘n teken van respek vir jouself, jou medemens en omgewing om net sóveel te gebruik, dat daar vir ander ook iets oorbly en dat jy dit wat jy het, optimaal gebruik – dis nou eers genoeg van dominee Meyer … 🙂

Hierdie week se kosblik-resep gebruik juis van gisteraand se oorskiet-rys op ‘n kreatiewe manier, sodat dit weer ‘n gebalanseerde inpak-ete word en die rys nie dalk later weggegooi word nie.

Ek weet daar is baie mense wat nooit enige oorskiet sal eet nie, maar as jy dit goed verpak en bêre en so gou as moontlik gebruik, is daar mos niks fout daarmee nie. As jy boonop ‘n lekker ‘nuwe’ ete daarmee kan voorberei, is dit ideaal. As daar nie genoeg rys na ete gaan oorbly nie, kan jy sommer van die begin af ekstra kook, om vir die volgende dag se kosblikke te gebruik.

Nasionale voedingsweek is van 9-15 Oktober en ‘n ideale geleentheid om ons almal bewus te maak van dit wat ons elke dag eet. Pharma Dynamics se reeks resepteboeke, Cooking from the heart, fokus nie net op resepte nie, maar wil ons juis op ‘n praktiese manier help om gesonde eetgewoontes ‘n leefstyl te maak. Een van die belangrike punte is om ook goeie keuses te maak en ‘n wye verskeidenheid kosse te eet, om juis al die belangrike voedingselemente in te sluit.

‘n Voorbeeld van ‘n goeie keuse, is om bruinrys in plaas van witrys te kook. Dit het meer vesel en is nie so verfyn nie. As jy boonop ‘n kleiner porsie eet en die res van die ete liewer aanvul met groente en ‘n gesonde proteïen, het jy klaar nog drie goeie keuses gemaak. Die manier waarop kos gaargemaak en geur word, het net so ‘n groot effek op hoe gesond die ete gaan wees. Kos wat oorgaar is, is nie lekker nie en het dikwels onnodig baie geurmiddels nodig om dit aptytlik te maak. Natuurlike geurmiddels soos suurlemoensap, gemmer, vars kruie, speserye en olyfolie bly die lekkerste om kos mee te geur en is sommer gesond ook. Daar is ‘n heerlike verskeidenheid resepte op http://www.cookingfromtheheart.co.za en http://www.facebook.com/CookingfromtheheartSA.

Een van die geurmiddels wat die rysslaai ekstra lekker maak, is vars kruisement. Dis ook ‘n krui wat maklik in Afrikaans ‘mint’ genoem word, bloot omdat mense so gewoont is aan die Engelse woord, dat hulle nie eers besef dit is nie ‘n Afrikaanse woord nie. Die ATKV borg elke week ‘n koswoord vir Kosblik en hulle moedig ons almal aan om suiwer Afrikaans te praat. Die ATKV is ook nou betrokke by Afrikaans.com – ‘n organisasie wat baie moeite doen om ons op ‘n verskeidenheid van vlakke en platforms te inspireer om Afrikaans te praat. Die ATKV is beslis nie net betrokke by vakansieoorde nie, maar ook by kultuur- en taalkwessies in ons land.

Nulaid se eiers is in verskillende groottes beskikbaar en ‘n wonderlike bron van proteïen. Eiers is gesond, maklik en vinnig om voor te berei en regtig veelsydig. Vir dié week se kosblik, word die eier as aanvullende element in die kosblik-ete gebruik, saam met die bruinrys as stysel en ‘n variasie van groente. Gebruik groente en slaaibestanddele waarvan jou gesin hou en kies verskillende kleure en teksture vir die slaai. As die rys die vorige dag al gekook is, kan jy vinnig die volgende oggend die eier gaarmaak en met die slaaibestanddele deur die rys meng. ‘n Een-eier-omelet word soos ‘n pannekoek gemaak en dan opgerol. Sny die rolletjie dan in dun skyfies om lang repies eier te vorm. Jy sou die eier selfs die vorige aand kon gaarmaak en sny, want dit gaan in elk geval koud geëet word in die slaai. Onthou dat jy altyd ‘n klein bietjie olie nodig het om ‘n eier gaar te maak, om te verhoed dat dit in die pan vassit, want die vet in eier braai nie ‘uit’ soos met vleis nie. Olyf- of avokado-olie is ‘n gesonde keuse en kan selfs met ‘n bietjie botter gemeng word, maar onthou dat die botter baie maklik brand en dit smaak nie lekker nie. Lees nog meer oor die voedingswaarde en gesondheidsvoordele van eiers hier.

Eiers is ook een van daardie bestanddele wat jy letterlik ‘heeltemal’ kan gebruik. Die doppe en selfs die eierbakkies is ideale materiaal vir die komposhoop – sommer nog ‘n manier om minder te mors. Spoel die doppe uit, laat dit op ‘n bord droog word en druk dan fyn om rondom jong plantjies te strooi en slakke weg te hou.

Sonder goeie gehalte kleefplastiek, foelie en plastieksakkies, sal ‘n mens sukkel om kosblikke te pak. GLAD is ‘n maatskappy vir wie dit belangrik is dat ons so min as moontlik kos vermors. Deur van hul produkte te gebruik, kan ‘n mens seker maak dat kos vars bly en aptytlik verpak word. Nog iets wat veral vir ‘n kosblik belangrik is, is dat dit wat moet droog bly, soos neute, nie klam word nie. Aan die ander kant, moet iets soos ‘n vars aarbeie, so vars as moontlik gehou word. ‘n Glad Zip Seal peuselsakkie is ideaal vir beide hierdie kosse. Kleefplastiek is ook ‘n handige item in enige kombuis om kos wat oorbly, toe te hou en deeglik te verpak en om dit wat ingepak moet word, ook vars te hou en nie met ander items in die kosblik te laat meng nie. Wêreld kosdag val op 16 Oktober en GLAD doen baie moeite om ook by die boodskap betrokke te wees om nie kos te vermors nie en ook om te sien na minder bevoorregtes.

GLAD se reeks Zip Seal sakkies is sommer ook handig vir skryfbehoeftes en ander klein items wat ingepak moet word. ‘n Skerpmaker sonder ‘n houertjie vir die skaafsels, werk uitstekend in so ‘n sakkie. Of sit ‘n nat swemkep en brilletjie daarin om nie die res van die sportsak nat te maak nie.

Kyk sommer op hul webwerf na nog slim planne met hul produkte.

Lekker eet, kook en kosblikke pak die week.

Resepte

Bruinrys-slaai met eier

Resep (aangepas) uit Cooking from the heart 1

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

250 ml (1 k) gewone bruinrys of bruin basmatirys

2,5 ml (½ t) sout

10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie

4 ekstra groot Nulaid eiers

15 ml water per eier

2 tamaties, in wiggies gesny of 200 g kersietamaties, gehalveer

½ komkommer, gehalveer en in skyfies gesny

125 ml (½ k) bevrore heelpitmielies, afgespoel

1 wortel, in skyfies gesny

30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie

15 ml (1 e) gekapte vars kruisement of origanum

Slaaisous

45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie

30 ml (2 e) wit druiwe-asyn

swartpeper na smaak

15 ml (1 e) suurlemoensap

Metode

1. Plaas rys en sout in ’n klein kastrol en bedek met water. Bring oor matige hitte tot kookpunt en prut vir 30-40 minute of tot gaar. Dreineer, spoel af en laat afkoel. Of gebruik 250 ml gaar rys vir die slaai.

2. Verhit olie in ‘n klein braaipan. Klits 1 eier op ‘n slag met 15 ml water en skink eier in die pan om ‘n een-eier-omelet te maak en braai dit soos ‘n pannekoek. Laat stol en keer uit.

3. Rol die omelette op en sny in repies. Laat afkoel en roer met die res van die bestanddele by die rys.

4. Slaaisous: Meng al die bestanddele saam.

5. Sit slaai voor met die slaaisous of skink van die slaaisous oor die slaai en verpak porsies in aparte kosblik-bakkies.

Wenk

Gebruik tuna of gaar bruin lensies in plaas van die eier, indien verkies.

Pin It on Pinterest

Share This