Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Broccoli-slaai

Sep 19, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Broccoli-slaai met gekaramelliseerde uie met sademengsel

Frikkadelle

Cecilia’s Farm klein dadelstafies

#Braaidag is om die draai en in ons sonnige land kan mens nooit genoeg idees vir slaaie en lekker bygeregte hê nie. ‘n Slaai hoef ook lankal nie meer net uit blare, tamatie, komkommer en ‘n paar ander goed uit die yskas te bestaan nie. Wees kreatief met nuwe maniere waarop vars bestanddele ingespan kan word om nie net die tafel kleurvol te maak nie, maar ook ‘n gebalanseerde ete op jou bord te wees.

September is ook Hartmaand en met Pharma Dynamics se reeks resepteboekies, Cooking from the heart, is daar baie moeite gedoen om die noodsaaklikheid van ‘n gesonde leefstyl, prakties uitvoerbaar te maak. Met ‘n wye verskeidenheid resepte, wenke en idees en ander gesondheidsinligting, kan jy gerus hul Facebook blad volg en die resepteboekies gratis van hul webwerf aflaai.

Die beginsels van gesonde eetgewoontes geld beslis ook wanneer jy die week se kosblikke beplan – of dit vir jouself of die hele gesin is.

Die gekaramelliseerde uie en broccoli-slaai wat ek hierdie week maak, het by vele etes al blits vinnig verdwyn. En wie eet dikwels die lekkerste daaraan? Die nie-slaai-eters, juis omdat dit so bietjie anders is as die gewone slaai. Die effense soet smaak van die gekaramelliseerde uie is perfek saam met die broccoli en omdat dit redelik klam is, is daar nie eintlik slaaisous nodig nie. Die broccoli word ook net liggies geblansjeer, so dis nog lekker bros. Dis ‘n heerlike bygereg met enige ete, so maak sommer genoeg vir die volgende dag se kosblikke ook.

Die uie is verspot maklik om te maak en in ‘n AMC pan, waarin ek graag kook, kan jy die hitte baie goed beheer. Die uie moet beslis nie brand nie, maar ook heeltemal gaar wees voor die asyn en suiker bygevoeg word, anders word dit nie sag nie. As die pan dan oor ‘n baie lae hitte prut, kry die uie kans om heeltemal te karamelliseer, sonder om uit te droog. Die uie is ook regtig veelsydig, so maak sommer genoeg vir ‘n volgende ete. Dit hou lank in die yskas en is baie lekker in enige groen slaai, ingeroer by koeskoes, op ‘n stukkie steak of op ‘n braaibroodjie.

Die sademengsel van Cecilia’s Farm, wat oor die slaai gegooi word, gee dit lekker tekstuur en dis ‘n heerlike manier om gesonde olies van neute en sade in jou etes in te sluit. Hierdie is maar net een van die interessante produkte wat hulle beskikbaar het, so gaan loer gerus op hul aanlynwinkel na alles wat by jou deur afgelewer kan word. Daar is ‘n uitgebreide reeks droëvrugte en neute, vrugtestafies en meer. Hul nuwe reeks dadelstafies is ook perfek vir ‘n kosblik, want daar is geen bygevoegde suiker in nie, meer as een geur om uit te kies dit is in twee groottes beskikbaar.

Om my kinders se kosblikke gebalanseerd te hou, is frikkadelle ‘n gereelde item op ons spyskaart. Ek maak sommer genoeg vir aandete en ‘n dag of twee se kosblikke. Die frikkadelle vries ook uitstekend, vir dae wat ek skielik nog ‘n sport-kosblik moet pak. Ek gebruik graag gerasperde wortel in ‘n frikkadelmengsel vir ‘n natuurlike soet smaak, maar jy kan dit ook met murgpamoentjie afwissel. Dis sommer ‘n lekker manier om meer groente in te sluit. Een aand het ek sommer vir afwisseling die frikkadelle bietjie platter gemaak, maar nie so groot soos ‘n hamburgervleisie nie. My kinders het toe besluit dis nie ‘n hamburgervleisie nie, maar ook nie ‘n frikkadel nie en dink toe hul eie woord daarvoor uit. Ons verwys nou nog na daardie weergawes as njammies – en ek maak dit nog steeds. ‘n Frikkadelmengsel is regtig veelsydig, so wees kreatief met die geurmiddels deur kruie en speserye af te wissel en dit op die manier interessant te hou. Ek braai frikkadelle meestal in ‘n pan en verkies om dit aan beide kante goudbruin te maak en dan die deksel vir ‘n paar minute op te sit en dit so verder gaar te maak. Op die manier droog die frikkadelle nie uit nie. Dit werk natuurlik uitstekend in ‘n AMC pan, omdat die hitte so goed beheer word. En nog ‘n voordeel van hierdie kookware is, dat dit regtig maklik is om skoon te maak.

Die ATKV woord vir die week is juis frikkadelle, want sonder dat ons daaraan dink, verwys baie Afrikaanssprekendes na hierdie heerlike vleisballetjies, as meat balls. Die ATKV is baie betrokke by Afrikaans.com wat ‘n nuwe platform is waarmee almal aangemoedig word om trots te wees op ons mooi taal, dit suiwer te praat en bydraes te maak om die taal so modern en hedendaags as moontlik te hou. Lees meer hieroor op www.atkvoorde.co.za en www.afrikaans.com

Daar is ook elke Maandag ‘n heerlike kompetisie as deel van die woord van die Kosblik-insetsel. Lapa uitgewers gee elke week ‘n wonderlike resepteboek-pakkie as prys. Kyk saam na Groot Ontbyt om deel te neem.

“Besoek www.lapa.co.za vir ‘n wye verskeidenheid resepteboeke, beskikbaar aanlyn en in ‘n boekwinkel naby jou.”

Resepte

Broccoli-slaai met gekaramelliseerde uie

Resep uit Kos is op die tafel!

Lewer 6 porsies

Frikkadelle

Resep uit Cooking from the heart 2

Lewer 12-15 frikkadelle

Bestanddele

15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie

3 groot uie, gehalveer en in dun skyfies gesny

30 ml (2 e) sagte bruinsuiker

30 ml (2 e) balsamiese asyn

15 ml (1 e) gedroogde of vars tiemie

sout en swartpeper na smaak

200 g broccoli, in blommetjies gesny

100-150 g dwergspinasie of ander gemengde slaaiblare van jou keuse

1-2 skywe fetakaas, gekrummel

Cecilia’s Farm Fruit, Nut & Seed Sprinkle

Bestanddele

500 g maer maalvleis

30 ml (2 e) blatjang

30 ml (2 e) tamatiesous

2 murgpampoentjies, gerasper

60 ml (¼ k) hawermout

1 eier, geklits

10 ml (2 t) gedroogde gemengde kruie

45 ml (3 e) gekapte vars pietersielie

15 ml (1 e) gemaalde koljander

2,5 ml (½ t) sout

suurlemoensap en swartpeper na smaak

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie om te braai

Metode

1. Verhit olie oor matige hitte in ’n groot braaipan en soteer uie tot heeltemal sag.

2. Voeg suiker, asyn en tiemie by en geur na smaak. Verlaag hitte effens en roer af en toe terwyl uie 10-15 minute sonder ’n deksel prut tot dit gekaramelliseer het. Skep uit en laat eenkant afkoel.

3. Plaas’n bietjie water en die broccoli in ‘n klein kastrol (AMC 20 cm Low). Verhit oor matige hitte en bring tot net onder kookpunt. Verlaag die hitte en prut met die deksel op vir 2-3 minute of tot net gaar, maar steeds bros. Dreineer dadelik en dompel in kouewater sodat dit nie verder gaar word nie. Dreineer dadelik.

4. Pak slaaiblare op ’n slaaibord, skep uie en broccoli bo-op en sprinkel kaas en sademengsel oor. Sit teen kamertemperatuur voor. Of pak in ‘n kosblik.

Metode

1. Plaas al die bestanddele, behalwe die olie, in ‘n mengbak. Meng goed deur en geur na smaak.

2. Rol 12-15 klein balletjies van ongeveer 30 ml maalvleis per balletjie. (Druk liggies plat om klein hamburgervleisies te maak, indien verkies.)

3. Verhit ‘n dun lagie olie oor matige hitte in ‘n groot braaipan en braai frikkadelle aan beide kante tot goudbruin.

4. Verlaag die hitte, sit die deksel op en prut vir 3-5 minute of tot gaar. Skep uit en herhaal met die orige olie en frikkadelle.

5. Laat afkoel en pak in ‘n kosblik

Wenk

Gekaramelliseerde uie is verbasend veelsydig. Gebruik dit in enige ander slaai of roer saam met ’n handvol of twee koljander- of basiliekruidblare en geroosterde neute by koeskoes in en sit as ’n bygereg voor.

Wenk

As jy souse soos blatjang en tamatiesous koop, maak seker jy lees die etikette. Kies ‘n opies van ‘n goeie gehalte met minder sout en suiker. Kyk op www.cookingfromtheheart.co.za vir meer inligting oor etikette en hoe om dit te lees.

Pin It on Pinterest

Share This