Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Hoenderkebabs

Sep 5, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Hoenderfillette in ‘n pan, tuisgemaakte marinade en op stokkies geryg met Cecilia’s Farm droëvrugte

Slaaibestanddele (komkommer, tamaties, radyse en rooi soetrissie, klein aartappeltjies en olywe)

Cecilia’s Farm Dried Fruit Flat Bar (vrugtestafies)

Dis ’n nuwe maand en inderdaad een met baie opwinding. Die lente het begin, selfs al is die dae nog soms aan die koeler kant van die termometer. ‘n Gevoel van ‘n nuwe en ‘vars’ begin is in die lug en dit is die perfekte tyd om jou leefstyl aan te pas, as jy dalk nog nie so gesond eet nie. Dis Erfenismaand, maar ook in die volksmond deesdae bekend as Braaimaand. September is ook Hartmaand – ‘n hele maand om ons bewustheid rondom ’n gesonde leefstyl vir gesonde harte, te verhoog. Pharma Dynamics se inisiatief om ’n reeks resepteboeke met maklike, bekostigbare en gesonde resepte te ontwikkel pas dus perfek.

Gelukkig beteken gesonde eetgewoontes ook dat ons gesond kan eet wanneer ons braai. Daar is wel ‘n paar riglyne: kies snitte vleis wat nie te vetterig is nie, hou die ete gebalanseerd, met geregte uit al die voedselgroepe en wees bewus van die keuses vir stysels, souse en marinades. Hou die stysel so natuurlik, veselryk en onverfynd as moontlik en verkieslik nie meer as een styselgereg per ete nie. Dit wat ons dikwels saam met die braaivleis eet, kan die rede vir ‘n minder gesonde ete word. So is aartaappelslaai, pap en braaibroodjies bietjie oordadig, want dis alles stysel. Kies liewer een van die opsies en vul jou bord verder met slaai en ander groentegeregte. Ek gaan verder deur die maand ’n paar idees daarvoor deel.

Of jy vleis in ‘n pan of oor die kole gaarmaak, bly dit belangrik om dit nie te gaar te maak en dan te laat uitdroog nie. Oorgaar vleis is smakeloos en moeilik om te ‘red’. ’n Lekker marinade is soms die perfekte manier om vleis ekstra geur te gee en as die marinade tuisgemaak is het jy net soveel meer beheer oor wat jy in die ete insluit. Dit gee jou ook kans om kreatief te wees en elke keer met verskillende geurmiddels, kruie en speserye te eksperimenteer. As jy wel soms marinades koop, lees die etiket om te weet wat daarin is. Besoek ook www.cookingfromtheheart.co.za en hul Facebook.

Vir die week se kosblik, wys ek hoe om hoenderborsfilette, wat maklik droog kan wees, gaar te maak dat dit steeds sappig is. Dit word in ’n eenvoudige, maar heerlike marinade gegeur en dan ryg jy later die gaar vleis met gedroogde vrugte op stokkies. Sommer ’n lekker praktiese manier vir ’n kosblik. Die droëvrugte is uit die Ceresvallei en van uitstaande gehalte. Cecilia’s Farm het ’n wye reeks om uit te kies, so gebruik die vrugte wat jou gesin sal geniet, bv gedroogde pere, perskes en appelkose is alles lekker saam met hoender. Selfs mango sal lekker wees en dis die perfekte manier om die vrugte te kan geniet, selfs wanneer dit nie in seisoen is nie. Cecilia’s Farm se aanlynwinkel is ook net die plek om te besoek vir nog lekkertes vir ’n kosblik.

Die beste manier om hoender in ’n pan te braai, is om dit oor ‘n matige hitte te doen, sodat die hoender verbruin, maar nie brand of uitdroog nie. Dit kry jy sommer maklik in ’n AMC Cookware pan reg. Die vlekvryestaal kookware word van uitmuntende gehalte staal vervaardig en die ontwerp van die kookware is weldeurdag. Die bodem van elke kastrol of pan is so ontwerp, dat dit die hitte baie goed behou en eweredig versprei – iets wat ’n groot verskil maak as jy iets wil panbraai. Verbruin die hoenderfilette oor ’n matige hitte aan beide kante, verlaag die hitte en sit die deksel op om die hoender vir die laaste paar minute te stoom. ’n AMC kastrol of pan se deksel sluit baie dig, wat die vog binne hou en dus verder help dat die vleis nie uitdroog nie. Besoek gerus AMC Cookware se webtuiste om meer te lees oor die kookware met die lewenslange waarborg.

Om sekker te maak die kosblik is gebalanseerd, pak ons ook vars slaaibestanddele, klein aartappeltjies in die skil en dan ’n soethappie uit die Cecilia’s Farm reeks: kies een van die droëvrugtestafies in die reeks, bv mango, appelkoos of koejawel-en-peer. Gaan loer gerus wat daar nog is om aan te smul by www.ceciliasfarm.co.za

Dan het ons van hierdie week af, ’n Afrikaanse koswoord op Kosblik. Die ATKV is die borg van hierdie woord elke week. Dié maatskappy moedig almal graag aan om suiwer Afrikaans te praat, maar ook om trots te wees daarop dat Afrikaans ’n moderne taal is wat in voeling bly met nuwe modes en neigings. Dit neem gewoonlik nie lank voor ons ’n mooi Afrikaanse weergawe vir nuwe terminolgie (andersins gewild in Engels) bedink nie.

Hierdie week se ATKV koswoord is sitrusskil (zest in Engels). Zest word dikwels sommer ook so in Afrikaans gebruik, alhoewel dit nie korrek is nie. Die mooi Afrikaanse weergawe, sitrusskil verwys ook, soos die Engels, na enige sitrus se skil, veral wanneer dit in dun repies afgesny of gerasper word om in kos te gebruik. Besoek www.atkvoorde.co.za en www.facebook.com/ATKVOORDE.

Resepte

Hoender & droëvrugte-kebabs

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie

30 ml (2 e) heuning

15 ml (1 e) balsamiese asyn

10 ml (2 t) korrelmosterd

sout en peper

4-6 hoenderborsfilette

kebabstokkies

’n paar handevol Cecilia’s Farm droëvrugte soos, Colourburst™ Nectarines, Bon Chrétien Pears en Royal Apricots

Metode

1. Meng sap en -skil, olie, heuning, asyn en mosterd saam en geur na smaak. Bedek filette met die marinade en marineer vir 20 minute in die yskas.

2. Verhit ’n klein bietjie olyfolie oor matige hitte in ’n braaipan (AMC 24 cm Chef’s Pan). Skep die filette uit die marinade en laat effens afdrup.

3. Braai die filette weerskante tot goudbruin, maar nie gaar nie. Die heuning sal die filette vinnig laat verbruin, so moenie die hitte te hoog stel nie.

4. Giet die orige marinade oor en prut met die deksel op oor lae hitte vir 5-7 minute tot net gaar en steeds sappig. Geur, indien nodig.

5. Sny hoender in blokkies en ryg op kebabstokkies met die droëvrugte. Halveer vrugte of sny in repe as die stukke te groot is.

Pin It on Pinterest

Share This