Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Lamsosaties

Aug 29, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Lamsosaties met geroosterde kekerertjiedoopsous (resep uit Cooking from the heart)

Koolslaai met Pink Lady® appel, rooibosbessies en wortel

Neute

Tuisgemaakte etes bly vir almal ‘n lekker bederf en dis ‘n wonderlike manier om sommer ook seker te maak dat etes en dit wat in ‘n kosblik gepak word, gesonder is. As jy boonop plaaslike en seisonale bestanddele kan gebruik, is dit nog geuriger. Hierdie week se kosblik is ‘n smullekker lamsosatie met ‘n appel-koolslaai en ‘n kekerertjiedoopsous wat perfek by die ander geure pas.

Om al hoe meer kos self by die huis te maak, is een van die beginsels van Cooking from the heart se resepteboeke. Dit idee is juis om mense aan te moedig om minder kitskos en gemorskos te eet. Die resepte in die boeke is maklik om te volg, baie bekostigbaar en regtig geurig. Die kekerertjiedoopsous is juis uit die boek, maar dis nie sommer net fyngemaakte kekerertjies nie. ’n Gedeelte van die kekereretjies word vooraf gerooster, wat dit ‘n baie lekker, ekstra neuterige geur gee, sonder dat neute gebruik word- ‘n lekker wenk as iemand in jou gesin dalk ‘n neut-allergie het. Daar is ook min sout in die mengsel, juis omdat daar reeds soveel ander geure is en onthou, ‘suurlemoen is die nuwe sout’, so geur eers met ‘n skeut suurlemoensap voor jy sommer net sout uit gewoonte byvoeg. Die doopsous is ook baie veelsydig, want jy kan groenterepies daarin doop, dit op hamburgers sit, saam met vleis eet of op toebroodjies gebruik. Daar is nog sulke veelsydige idees in die reeks resepteboeke, besoek gerus www.cookingfromtheheart.co.za en volg hul Facebook-blad vir gereelde idees en resepte

Die lamsosaties wat deel is van vandag se kosblik, is ‘n praktiese idee wanneer ‘n mens soms ‘n skaap-braaipak koop en daar net ‘n klein stukkie boudvleis daarin is. As dit te klein is vir ‘n maaltyd, is dit net die antwoord vir kosblikke. Jy kan dit sommer met ‘n vorige braaivleis-ete oor die kole voorberei of in ‘n pan braai. Kekerertjies is perfek met lamsvleis en dit is twee Mediterreense smake wat gereeld gekombineer word.

Skape wat in Suid-Afrika geproduseer word, wei meestal op natuurlike weiding en te danke daaraan, is dit besonder geurig. Die voordeel vir ons, is dat dit dus maklik om gaar te maak, sonder dat jy vreeslik baie daarmee hoe te doen om dit lekker te maak. ‘n Goeie skeut olyfolie, suurlemoensap en vars kruie is amper genoeg om dit geurig te maak. Kyk gerus op www.cookingwithlamb.co.za vir nog lekker resepte en baie inligting oor die voedsame bron van proteïen, wat altyd gewild is in Suid-Afrika.

Om die kosblik verder gebalanseerd te hou, is daar ‘n kraakvars slaai met Pink Lady® appels en fyngekerfde kool. Pink Lady® appels is nou in seisoen en die natuurlike soet-suur smaak van die appel is heerlik saam met kool. Dis ‘n lekker manier om selfs in die winter seker te maak dat jy genoeg varsgoed in jou etes insluit. Heel dikwels word ‘n koolslaai toegegooi met mayonnaise, maar dis nou een bestanddeel wat ek liefs vermy. Daar is dikwels baie sout en ongesonde vette in en vir hierdie slaai is ‘n kombinasie van suurlemoensap en olyfolie genoeg om die slaai klam genoeg te maak en die geure van die kool en appels te komplimenteer. Behalwe vir die feit dat heelwat van die appels se voedingswaarde net onder die skil sit, het dit ook ‘n pragtige kleur – dus twee redes om beslis nie die appels af te skil nie. Leer gerus ook jou kinders van kleins af om appels met die skil aan te geniet. Op hul webtuiste is daar nog heelwat interessante inligting oor Pink Lady® appels.

Resepte

Geroosterde kekerertjiedoopsous

Uit Cooking from the heart

Lewer 6 – 8 porsies (500 ml)

Lamsosaties

Sny 3-4 lamsboud-tjops in groterige blokkies. Meng 60 ml (¼ k) elk balsamiese asyn en olyfolie met 5 ml (1 t) gekapte vars roosmaryn vir ‘n marinade. Marineer vleis in marinade vir 30 minute tot 1 uur. Ryg blokkies op kebabstokkies en geur na smaak. Braai oor die kole of in ‘n braaipan tot gaar, maar nie droog nie.

Bestanddele

2 x 410 g-blikke kekerertjies, gedreineer, maar behou die vloeistof

2 groot knoffelhuisies, fyngedruk

75 ml (5 e) olyf- of avokado-olie

5 ml (1 t) komynsaad

5 ml (1 t) gemaalde komyn

100 ml suurlemoensap

1,2 ml (¼ t) sout

swartpeper na smaak

Koolslaai

met Pink Lady® appel, rooi bosbessies en wortel

Meng ½ klein kool, in dun skyfies gesny en 1 wortel, grofgerasper met 1-2 Pink Lady® appels, in dun wiggies gesny. Geur na smaak met olyfolie en suurlemoensap en sprinkel met gedroogde rooibosbessies, neute en sade of enige sade en neute van jou keuse.

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ‘n bakplaat met foelie of bakpapier uit. Plaas 1 van die blikke kekerertjies met die knoffel, 30 ml van die olie en komynsaad in ‘n groot mengbak. Roer tot die kekerertjies met die olie bedek is.

2. Plaas kekerertjies en geurmiddels op die bakplaat en rooster 15-20 minute of tot goudbruin.

3. Plaas geroosterde kekerertjies, met die olie en geurmiddels van die bakplaat, in ‘n groot bak. Voeg die ander kekerertjies met die orige olie, gemaalde komyn en suurlemoensap by. Voeg 50 ml van die behoue vloeistof uit die blikkies ook by. Meng met ‘n stokmenger tot ‘n growwe tekstuur. Geur na smaak en voeg meer water by, indien verkies.

4. Sit voor as doopsous met vleis, groente of op ‘n broodjie.

Wenk

1. Plaas orige doopsous in die yskas in ‘n lugdigte houer vir 4-5 dae.

2, Roer ‘n bietjie ongegeurde lae-vet jogurt by die doopsous, vir ‘n romerige mengsel.

Pin It on Pinterest

Share This