Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Groente-hutspot

Aug 15, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Groente-hutspot met oorskiet-lamsblad (vleis op toebroodjies met slaai vir kinders)
Pink Lady® appelwiggies en selderystokkies met jogurt-en-grondboontjiebotterdoopsous (resep uit Cooking from the heart)

Iemand vra my nou die dag of ek voor hanekraai opstaan om vir my gesin kosblikke te pak. Gelukkig nie. So bietjie beplanning wanneer ek aandete maak, is dikwels my redding. Of dit nou ekstra viskoekies of frikkadelle is of soos met hierdie week se resepte, ‘n vegetariese gereg wat jy vir die kosblikke bietjie aanvul met vleis – ‘n aandete kan met min moeite ‘n heerlike kosblik-ete word.

Voor die winterweer heeltemal verby is, kan jy gerus hierdie groente-hutspot vir aandete maak. Die groente kan aangepas word na gelang van jou gesin se keuse, maar gebruik groente wat min of meer in dieselfde tyd sal gaar word. En moenie huiwerig wees oor die vegetariese aandete nie. Dis regtig vullend en die bone is ‘n goeie bron van proteïen. Vegetariese etes is alles behalwe vaal en vervelig en hierdie resep is nog veelsydig ook. Om elke nou en dan vegetaries te eet is ‘n belangrike beginsel van ‘n gesonde leefstyl, want dit verseker ‘n goeie verskeidenheid van proteïene in jou dieet.

Die reeks Cooking from the heart-resepteboeke probeer ons almal juis aanmoedig om ‘n verskeidenheid kossoorte te eet, juis sodat ‘n variasie van voedingstowwe op die manier deel word van jou etes.

Om ‘n kosblik-ete vir die volgende dag dan vullend en gebalanseerd te hou, kan jy oorskiet-lamsvleis inroer. Ons het verlede week gewys hoe om ‘n lamsblad vir ‘n aandete gaar te maak tot die vleis maklik van die vleis gepluis kan word, maar nie droog is nie. Enige vleis wat van so ‘n ete oorbly, is perfek vir kosblikke. Vries dit in porsies of genoeg vir ‘n kosblik of twee op ‘n keer en gebruik dan in ‘n gereg soos hierdie hutspot. Die murgsagte vleis is die perfekte kombinasie met die bietje Kerrie, klappermelk en ander groente. Met die skiet van die insetsel was dit regtig gewild. Soms word daar na lamsblad verwys as ‘die arm man se skaapboud’, maar dit staan vir geen oomblik terug as dit gaan oor geur en die tekstuur van die vleis nie. Om die eerlike waarheid te sê, ‘n lamsblad wat lank en stadig gaargemaak word soos in die resep hier onder, is vir my lekkerder as ‘n skaapboud. En as die kinders nie opgewonde raak oor die hutspot nie, gebruik die skaapvleis op ‘n volgraan-toebroodjie met komkommer en tamatie. Skaapvleis SA is baie trots op die top gehalte, baie voedsame lam- en skaapvleis wat ons in Suid-Afrika het. Daar is nog heelwat inligting oor SA Skaapvleis op hul webwerf

Nog iets wat belangrik is vir ‘n gesonde leefstyl, is om te kyk na dit waaraan jy peusel. Moenie goeie keuses maak vir etes en dan jou gesonde leefstyl ongedaan maak met die verkeerde peuselhappies nie. Lees die etikette van produkte en maak soveel as moontlik self by die huis. Vir die week se kosblikke, is daar ‘n heerlike doopsous vir groente en vrugte wat van ongegeurde jogurt en grondboontjiebotter gemaak word. Dis só eenvoudig, maar verrassend lekker, veral met appel – probeer dit gerus. Maak nou ook net seker dat jy die grondboontjiebotter se etiket lees en koop verkieslik ‘n produk met so min as moontlik bygevoegde suiker en sout. Daar is heelwat inligting oor die lees van etikette op www.cookingfromtheheart.co.za of volg hulle op http://www.facebook.com/CookingFromTheHeartSA/

Party mense het nog nooit appel en grondboontjiebotter saam geproe nie en tog is dit ‘n heerlike kombinasie. En juis nog meer, as dit ‘n sappige Pink Lady® appel is, want die natuurlike soet-suur smaak van hierdie appels is besonder lekker met die grondboontjiebotter. Onthou om die skil aan te hou wanneer jy die appel in wiggies sny vir ‘n kosblik. Spoel dit net vinnig af in water om te verhoed dat dit verkleur. Op die manier bly soveel meer van die voedingswaarde behoue. Die appelwiggies is ook ‘n lekker ‘soet’ smaak saam met die kerriegeure van die hutspot, so geniet dit sommer as nagereg na die maaltyd of later deur die dag as ‘n gesonde peuselhappie. Gaan lees gerus meer oor Pink Lady® appels en die spesiale aandag wat die appels kry om hul kenmerkende kleur en geur te hê. 

Resepte

Lamsblad in die oond

Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele

1 ui, gekap

2 wortels, in blokkies gesny

1 selderystingel, met die blare, gekap

10 takkies elk roosmaryn en tiemie

1,5 kg lamsblad

250 ml (1 k) rooiwyn

250 ml (1 k) sterk Rooibostee

sout en peper na smaak

Metode

1. Voorverhit die oond tot 160 °C. Plaas die groente en kruie in ’n groot kastrol met ‘n deksel wat in die oond gebruik kan word. Of gebruik ‘n groot diep oondbak en foelie as deksel.

2. Plaas die lamsblad bo-op die groente en skink wyn en tee oor. Geur met sout en peper.

3. Bedek met ’n deksel (of foelie) en rooster vir 3-3½ ure of tot die vleis sag is en maklik van die been gepluis kan word.

4. Haal die vleis van die been af en pluis in kleiner stukkies of sny in skywe vir ‘n maaltyd. Die gepluisde vleis is heerlik, teruggeroer in die groentemengsel in die kastrol. Vries enige orige vleis in porsies om as deel van ‘n kosblik te gebruik.

Wenk

1. Vir die perfekte kooktyd vir ’n baie groot lamsblad, sodat die vleis goed gaar is, maar nie droog nie, werk op sowat 50 minute vir elke 500 g plus ‘n ekstra 50 minute teen 160 °C gaargemaak.

Groente-hutspot

Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele

20 ml (4 t) avokado- of olyfolie

2 uie, grof gekap

2 knoffelhuisies, fyn gedruk

1 klein rooi brandrissie, heel

3 middelslag wortels, gehalveer en in dik diagonale skywe gesny

3 murgpampoentjies, gehalveer en in dik diagonale skywe gesny

20 ml (4 t) matige kerriepoeier

15 ml (1 e) gemaalde komyn

300 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny

1 groot eiervrug, met die skil in blokkies gesny

500 ml (2 k) sterk Rooibostee

5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil

1 x 400 g-blik botterbone, gedreineer

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

125-200 ml klappermelk

10 ml (2 t) suurlemoensap

45 ml (3 e) grofgekapte koljanderblare

ekstra koljanderblare vir garnering

Metode

1. Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol en soteer uie, knoffel, brandrissie, wortels en murgpampoentjies vir ’n paar minute. Voeg kerrie en komyn by en soteer tot aromaties.

2. Voeg botterskorsie en eiervrug by en soteer vir ’n paar minute. Roer tee en suurlemoenskil by. Sit die deksel op en verlaag hitte.

3. Prut 35-40 minute liggies of tot die groente net sag, maar nie pap is nie. Roer die boontjies by en verhit 5 minute saam met die groente.

4. Geur na smaak en roer die res van die bestanddele, behalwe die ekstra koljanderblare, by. Sit op basmati-, bruinrys of koeskoes voor of gebruik as ’n vulsel in roti’s. Garneer met koljanderblare.

5. Pak oorskiet van die hutspot in ‘n kosblik vir ‘n heerlike winters-middagete. Voeg ‘n bietjie vleis, soos lamsblad by vir ‘n meer vullende ete. (Dis natuurlik lekkerder as die persoon dit iewers kan warm maak, maar selfs teen kamertemperatuur sal die hutspot steeds geurig wees.)

Jogurt-en-grondboontjiebotterdoopsous

Resep uit Cooking from the heart 2

Lewer 4 porsies

Bestanddele

45 ml (3 e) grondboontjiebotter

125 ml (½ k) ongegeurde lae-vet jogurt

Pink Lady® appelwiggies en selderystokkies

Metode

1. Plaas grondboontjiebotter in ‘n mengbak en roer tot sag. Roer die jogurt by en meng tot glad.

2. Pak doopsous met appel en seldery as ‘n peuselhappie of soetigheid na die ete.

Wenk

1. Voeg ‘n knippie kaneel of ‘n drupel vanielje-geursel by vir nog geur.

2. Gebruik ‘n grondboontjiebotter van ‘n goeie gehalte en kies een met min suiker en sout.

Pin It on Pinterest

Share This