Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Botterskorsieslaai

Aug 8, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Botterskorsie-en-kekerertjieslaai (resep uit Cooking from the heart)
met oorskiet lamsblad (elemente in aparte bakkies vir kinders)|
Heel Pink Lady® appel

As dit vir jou soos ‘n reuse taak klink om gebalanseerde en gesonde kosblikke (en etes) vir jou gesin te maak, is jy nou op die regte plek. Hier is hope praktiese idees, wenke en resepte om jou lewe makliker én gesonder te maak.

Die beginpunt vir enige gesonde ete is om seker te maak dat daar iets uit elke belangrike voedselgroep op jou bord of dan deur jou dag se etes ingesluit word. ‘n Proteïen, gebruik verkieslik ‘n verskeidenheid van proteïene deur die loop van die dag en week, bv vis, hoender, peule en verskillende rooivleis. ’n Opsie wat nie te veel vet bevat nie, is ook ‘n goeie keuse. Dan ’n stysel wat so natuurlik en onverfynd as moontlik is, bly die beste. Hierdie keuses het gewoonlik ook ’n beter veselinhoud. Beperk bv ‘wit stysels’ soos witrys, pasta, pap en witbrood en gebruik liewer meer botterskorsie, patat, bruinrys en volgraanbrood. Vars groente en vrugte behoort die grootste deel van jou bord vol te maak en as dit by kosblik-pak kom, maak dit dinge sommer makliker. Daar is in elke seisoen ’n wye verskeidenheid vars goed om uit te kies – ’n maklike manier om seker te maak jy maak goeie keuses: hou jou bord (en kosblik) kleurvol en mik vir 5 items per dag, waarvan ten minste 2 rou is. Hierdie is ook die basis waarop die reeks Cooking from the heart resepteboeke, van Pharma Dynamics ontwikkel is. Onthou dat jy ook hul Facebook-blad kan volg vir gereelde planne om gesond eet ‘n leefstyl te maak. http://www.facebook.com/CookingFromTheHeartSA/

Selfs met kouer weer in Aug, kan jy maklik bestanddele kombineer om gebalanseerd te eet. Die botterskorsieslaai is heerlike koestergeure. Kekerertjies is ‘n veelsydige peul wat saam met die botterskorsie as bron van stysel in die slaai gebruik word. Beplan sommer om die botterskorsie en kekerertjies die vorige aand as stysel vir aandete te maak en sorg dat daar genoeg is vir die kosblikke ook.

Om dit dan te rek tot ‘n gebalanseerde maaltyd, is murgsagte lamsvleis ideaal saam met die geure van die botterskorsieslaai. Skaapvleis SA het ‘n lekker verskeidenheid inligting en resepte op hul webwerf, www.cookingwithlamb.co.za as jy nog daaroor wil lees. ’n Skaapblad (party mense verwys daarna as ’n lamskouer, van die Engelse shoulder of lamb, is ‘n snit wat eintlik so maklik is om gaar te maak en as dit soos in die resep hier onder, lank en stadig gaargemaak word, is dit heerlik sappgig en so geurig soos net Suid-Afrikaanse skaapvleis kan wees. Vra gerus volgende keer die slagter in die supermark vir so ‘n snit – moenie dat die snit jou intimideer nie, dis maklik om reg gaar te maak en wanneer dit gepluis word, kan jy al die oortollige vet makliker verwyder. Maak dit vir ‘n aandete gaar en sit die res in die yskas om juis in kosblikke te gebruik.

‘n Pink Lady® appel vul die ete perfek aan. Die appel kan vir kinders opgesny word, maar in die skil is dit ’n gerieflike en baie maklike vrug om in te pak. As jy gewonder het waarom dié appel so krakerig en sappig is, het dit baie te doen met die manier waarop die kultivar verbou word. Daar word regtig baie moeite gedoen om seker te maak dat die vrugte genoeg son kry, om daardie bekende pienk blos te ontwikkel, maar genoeg koue nagte is weer nodig om die krakerige smaak te gee. Die appels bly ook langer aan die bome om soet genoeg te word, so daar is regtig ’n kuns aan die kweek van Pink Lady® appels. Die vrugte word met die hand gepluk en is die heel lekkerste wanneer hulle, soos nou, in seisoen is. Die balans van die soet-suur smaak is dus perfek saam met skaapvleis vir die week se kosblikke.

Resepte

Lamsblad in die oond

Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele

1 ui, gekap

2 wortels, in blokkies gesny

1 selderystingel, met die blare, gekap

10 takkies elk roosmaryn en tiemie

1,5 kg lamsblad

250 ml (1 k) rooiwyn

250 ml (1 k) sterk Rooibostee

sout en peper na smaak

Metode

1. Voorverhit die oond tot 160 °C. Plaas die groente en kruie in ’n groot kastrol met ‘n deksel wat in die oond gebruik kan word. Of gebruik ‘n groot diep oondbak en foelie as deksel.

2. Plaas die lamsblad bo-op die groente en skink wyn en tee oor. Geur met sout en peper.

3. Bedek met ’n deksel (of foelie) en rooster vir 3-3½ ure of tot die vleis sag is en maklik van die been gepluis kan word.

4. Haal die vleis van die been af en pluis in kleiner stukkies of sny in skywe vir ‘n maaltyd. Die gepluisde vleis is heerlik, teruggeroer in die groentemengsel in die kastrol. Vries enige orige vleis in porsies om as deel van ‘n kosblik te gebruik.

Wenk

1. Vir die perfekte kooktyd vir ’n baie groot lamsblad, sodat die vleis goed gaar is, maar nie droog nie, werk op sowat 50 minute vir elke 500 g plus ‘n ekstra 50 minute teen 160 °C gaargemaak.

Botterskorsie-en-kekerertjieslaai

Resep uit Cooking from the heart 3

Lewer 4 porsies

Bestanddele

5 ml (1 t) gemaalde kojlander

5 ml (1 t) paprika

10 ml (2 t) gedroogde origanum

5 ml (1 t) gemaalde komyn

2,5 ml (½ t) kerriepoeier

45 ml (3 e) avokado- of olyfolie

1,2 ml (¼ tsp) sout

30 ml (2 e) suurlemoensap

45 ml (3 e) water

500 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny

swartpeper na smaak

1 x 410 g blik kekerertjies, gedreineer

4 klein spinasieblare of 2 handevol slaaiblare, grof geskeur

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Plaas speserye, helfte van die olie, sout, suurlemoensap, water en botterskorsie in ‘n groot mengbak en meng goed.

2. Geur met swartpeper en plaas in ‘n oondbak. Rooster vir 30 minute of tot botterskorsie gaar is. Laat afkoel en roer kekerertjies by. (Vir ‘n maaltyd kan die mengsel op die spinasieblare voorgesit word as bygereg.)

3. Plaas botterskorsiemengsel met gepluisde lamsblad met blare in ‘n kosblik. Skink die res van die olie as slaaisous oor die mengsel of pak in ‘n aparte bakkie in die kosblik.

Wenke

1. Voeg ‘n bietjie fetakaas by die slaai, indien verkies.

2. Sprinkel met sonneblom- of pampoensaad vir ekstra krakerigheid in die slaai.

Pin It on Pinterest

Share This