Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Geroosterde patatskywe

Aug 1, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Lamsworsies met geurige patatskywe en maaskaas-vulsel (resep uit Cooking from the heart)
Pink Lady® appel-en-dadelballetjies

As geure mekaar regtig komplimenteer, is selfs eenvoudige kombinasies partymaal die heel lekkerste. ‘n Bietjie vars gemmer, brandrissie en suurlemoen is ‘n perfekte mengsel van geure met die natuurlike soet smaak van patats. En as jy dit as bygereg vir aandete beplan, maak seker dat jy genoeg het om die volgende dag in ‘n kosblik of twee te kan pak.

Vandag se kosblik is heerlike winter, koesterkosgeure, en steeds gesond – juis ‘n praktiese manier van dink oor ‘n gesonde leefstyl. Die regte keuse van bestanddele is belangrik om die meeste geur in ‘n gereg te verkry en dis heeltemal moontlik om dit met gesonde bestanddele te doen. As jy dan ook die regte gaarmaakmetode gebruik om selfs nog meer geur te gee, is jy op die regte pad. So is patats byvoorbeeld ‘n beter groente as bv aartappels, om seker te maak jou bloedsuikervlakke varieer nie te veel deur die dag nie, wat weer beteken dat jy nie so gou honger gaan voel nie. Hou ook sommer die patat se skil aan, om nog meer voedingswaarde in die maaltyd te hê. Die ander ‘geheime agent’ van die patat-resep hier onder, is die uie wat daarmee saam gerooster en dan by maaskaas ingeroer word. Dit maak die ongelooflikste lekker doopsous.

Al hierdie maniere van dink en beplan as jy kosmaak: vars, natuurlike bestanddele, die regte gaarmaakmetodes om meer geur te gee en gebalanseerde etes, is die hoeksteen van Pharma Dynamics se Cooking from the heart resepteboeke. Alhoewel die boeke nie in die handel beskikbaar is nie, kan jy die resepte en ander praktiese raak op hul webwerf kry.

Die geurige patatskywe is perfek saam met ‘n gebraaide lamsworsie – maak seker dat wanneer jy dit koop, dit regtig lamswors is. Daar moenie soveel ander vleis of bestanddele bygesit word, dat die natuurlike geur van die lamsvleis verlore raak nie. Skaapvleis SA is baie trots op die feit dat die lam- en skaapvleis wat ons in SA kry, so lekker smaak en vol voedingswaarde is – dis te danke aan die feit dat die diere meestal natuurlike weiding vreet, net soos die natuur bedoel is om te funksioneer. Daar is baie interessante inligting oor skaap- en lamsvleis op hul webwerf.

My kinders is dol oor die peuselhappie of soetigheid vir die week se kosblik, wat met Pink Lady® appels gemaak is. Die vrugte se natuurlike soet smaak is perfek vir die happies, want jy sal nie eers weet dat daar geen suiker bygevoeg is nie. Pink Lady® apples is beslis meer as net ‘n vrug om op sy eie te eet en mens kan dit in soet- en soutgeregte gebruik. Gerasperde appel word met rou hawermout, ‘n bietjie dadels, klapper, neute en kaneel gemeng vir ‘n heerlike energiehappie. Dis beslis beter as ‘n koekie of sjokolade vol suiker, en kinders is dol daaroor. Pink Lady® se webwerf en Facebook-blad is ook propvol ander lekker inligting en idees met dié mooi pienk appel wat nou in seisoen is. Besoek http://www.pinklady.co.za/ of https://www.facebook.com/PinkLadyApplesSA

Resepte

Geurige patatskywe en maaskaasdoopsous

Resep uit Cooking from the heart 2

Lewer 6 porsies

Bestanddele

20 ml (4 t) avokado- of olyfolie

60 ml (¼ k) suurlemoensap

30 ml (2 e) water

20 ml (4 t) fyngerasperde vars gemmer

1 klein brandrissie, ontpit en gekap (opsioneel)

1 knoffelhuisie, fyngedruk

2 uie, in wiggies gesny

6-8 (700-900 g) klein patats, in die skil, in skywe gesny

swart peper na smaak

180 ml (¾ k) ongegeurde gladde lae-vet maaskaas

handvol vars koljanderblare

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C.

2. Meng olie, suurlemoensap, water, gemmer, brandrissie en knoffel in ’n groot bak. Voeg uie en patat by en meng tot bedek met die olie-mengsel. Geur met peper.

3. Plaas groente met al die orige oliemengsel in ‘n oondbak. Rooster 30 minute of tot die patats gaar is.

4. Roer die uie met al die pansappe by die maaskaas en sit as ‘n doopsous saam met die patats voor. Garneer met koljanderblare.

Wenk

1. Rooster die patats ook heel. Plaas in ‘n oondbak met die olie-mengsel en uie en rooster 45 minute tot 1 uur of tot sag. Sny oop en sit met die sous en koljanderblare voor.

2. Roer gerasperde suurlemoenskil by die maaskaas vir meer geur.

Pink Lady® appel-en-dadelballetjies

Lewer ongeveer 20-24 balletjies

Bestanddele

25 rou amandels

500 ml (2 k) rou hawermout

125 g dadels, grof gekap

60 ml (¼ k) fyn klapper

5 ml (1 t) gemaalde kaneel

2 Pink Lady® appels, met die skil aan grof gerasper

Metode

1. Meng amandels in ’n voedselverwerker tot grof gemaal. Dit moet sowat 60 ml (¼ k) gemaalde amandels wees.

2. Voeg die hawermout by en meng tot ’n fynerige meel vorm. Voeg die dadels, klapper en kaneel by en meng deur.

3. Skep die gerasperde appels by die mengsel en meng met die voedselverwerker tot di tamper soos koekiedeeg lyk.

4. Rol balletjies van sowat 15 ml (‘n eetlepelvol) van die mengsel.

5. Verpak in ’n lugdigte houer en bêre in die yskas vir nie meer as 3-4 dae nie.

Pin It on Pinterest

Share This