Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

ClemenGold-en-makrielslaai

Jul 12, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

ClemenGold-en-makrielslaai met ClemenGold-slaaisous en Cecilia’s Farm Nut & Seed Sprinkle

Springmielies (resep uit Cooking from the heart)

Cecilia’s Farm Mango Flat Bars

Een van die lekkerste winterslaaie in ’n lang tyd – dis op hierdie week se #Kosblik-spyskaart. Gelukkig hoef ‘n slaai nie net uit slaaiblare, tamatie, komkommer te bestaan nie. As jy die regte bestanddele kies, het die winter ’n wonderlike verskeidenheid om van te kies. Wat dit vir my so opwindend maak, is dat ’n seisoen se ‘eie’ bestanddele mekaar dikwels so goed aanvul. Dink nou maar net aan die geurkombinasie van avokado en sitrus – baie bekend en altyd ’n wenner.

Die ander lekkerte van so ’n slaai, is dat dit ’n maklike manier is om seker te maak dat jy steeds vars (en rou) bestanddele deel maak van jou winter-etes.

Hierdie tyd van die jaar is ’n mens soms baie meer lus vir warm groente en dan bly die rou items so bietjie vergete, maar dis ook belangrik om genoeg vars goed te eet. Dis ’n goeie manier om seker te maak dat jy genoeg vitamiene, minerale en ander voedingselemente eet, juis om jou immuniteitstelsel gesond te hou deur die winter.

’n Gebalanseerde ete (en kosblik) behoort altyd ’n goeie bron van proteïen, ‘n verskeidenheid vars bestanddele, gesonde olie en onverfynde stysel in te sluit. Deur self iets voor te berei, het jy ook beheer oor die hoeveelheid sout, suiker en ander onnatuurlike geurmiddels daarin. Daarom is die kombinasie van ’n olierige vis, wat ’n goeie bron van omega 3 olies is, sitrus en avokado regtig ideel. Gerookte makriel is heerlik in die slaai, maar iets soos gerookte forel, geblikte makriel, dalk geelstert wat van ’n braai oorgebly het of selfs ’n blikkie tuna sal lekker wees. ’n Slaai is ook sommer nog lekkerder met ’n bietjie ekstra tekstuur in die vorm van ’n gesonde mengsel sade en neute, soos die Cecilia’s Farm Salad Sprinkle wat ek gebruik het.

Avokado is ryk aan vesel, omega vetsure en heelwat ander voedingselemente. ClemenGold, wat ’n sagte sitrus mandaryn is, is ook propvol voedingswaarde en ’n uitstekende manier om jou deur die winter gesond te hou. Die natuurlike soet smaak van ClemenGold vrugte maak dit perfek in die slaai. Jy hoef dus nie net die vrug op sy eie te eet nie, maar kan die beslis in geregte gebruik. Dit is absoluut heerlik in sout geregte, soos ’n hoender-oondgereg, met lamsvleis en in gebak. Die sap en skil is ewe veelsydig en perfek in die slaaisous vir hierdie slaai. Die ClemenGold-sap se natuurlike soet-suur smaak is ’n uitstekende plaasvervanger vir asyn in ’n slaaisous. Jy kan die sap self uit die vrugte druk, of gebruik die varsuitgedrukte botteltjies sap wat beskikbaar is, want daar is geen preserveermiddels bygevoeg nie. Pak die slaaisous in ’n aparte klein flessie, sodat dit net die ete oorgeskink kan word. Lees meer oor die lekker wintervrugte by http://www.clemengold.com/

Om jou eie slaaisous te maak, is ’n praktiese beginsel van ’n gesonde leefstyl, soos dié waarop die reeks resepteboeke van Cooking from the heart fokus. Dan weet jy dat daar net natuurlike bestanddele gebruik is en kan beheer wat nog deel is van jou gesin se etes. Op dieselfde manier, is tuisgemaakte peuselhappies ’n uitstekende manier om beter keuses te maak. En veral as dit kom by iets soos springmielies. Gekoopte springmielies word dikwels met onnodig baie sout of onnatuurlike geurmiddels gegeur. Wees veral ook bedag op die geurmiddels wat in ’n pakke springmieliepitte gebruik word, wat vinnig in ’n mikrogolf geskiet word.

Die resep van Pharma Dynamics se tweede Cooking from the heart resepteboek is maklik, gebruik min of geen olie en jy kan speel met geur-opsies. Springmielies hoef ook nie net met sout gegeur te word nie. Die geheim is om die geurmiddels oor die warm springmielies te strooi, sodat dit so bietjie daaraan kan vaskleef. Gedroogde kruie of selfs speserye soos paprika of kaneel, of ‘n kombinasie daarvan, is ewe lekker. Wanneer die springmielies gemaak word, moet die kastrol nie te warm wees nie, want dan brand die pitte te maklik voor dit skiet. ‘n Matige hitte gee die beste resultate en onthou om ‘n deksel of omgekeerde sif oor die kastrol te sit. Gaan loer gerus na al die ander wenke, praktiese idees en resepte van die projek op Facebook by hierdie skakel: https://www.facebook.com/CookingFromTheHeartSA/

En dan om die kosblik af te sluit: ‘n baie geurige vrugtestafie uit die reeks droëvrugte en neute van Cecilia’s Farm in die mooie Ceresvallei. Daar is ‘n lekker verskeidenheid geure om van te kies, bv mango, koejawel-peer of appelkoos om maar net van die opsies te noem. Die res van hul reeks handgemaakte produkte is regtig wyd en jy kan verseker wees van die beste gehalte produkte, want kwaliteit is vir hulle baie belangrik. Gaan besoek vandag nog hul aanlynwinkel en gebruik die kodewoord ‘kosblik2016’ om jou bestelling te plaas EN vir die spesiale aanbod van 10% afslag en gratis aflewering te kwalifiseer.

Resepte

ClemenGold-en-makrielslaai

Lewer 4 – 6 porsies

Springmielies

Resep uit Cooking from the heart

Lewer 4 porsies

Bestanddele

Slaaisous

100 ml olyf- of avokado-olie

30 ml (2 e) appel-asyn

2,5 ml (½ t) vars gerasperde ClemenGold-skil

75 ml (5 e) ClemenGold-sap

10 ml (2 t) korrelmosterd

5 ml (1 t) heuning

5 ml (1 t) gekapte vars roosmaryn

sout en peper na smaak

Slaai

3-4 ClemenGolds, gesegmenteer

1 avokado, in skyfies gesny

100 g gepeperde makriel of gerookte forel, gevlok

100 g ricotta of fetakaas, gekrummel

handvol bronkorsblare

‘n handvol Cecilia’s Farm Fruit, Nut & Seed Sprinkle

Bestanddele

5 ml (1 t) sonneblomolie

125 ml (½ k) springmieliepitte

1,2 ml (¼ tsp) sout

10 ml (2 t) gedroogde gemende kruie, origanum, kaneel of paprika

Metode

1. Slaaisous: Meng al die bestanddele saam en geur na smaak.

2. Slaai: Plaas die res van die bestanddele op ’n slaaibord of pak dit in lagies in kosblikke en sit voor met die slaaisous. Onthou om die slaaisous in ’n aparte flessie of bakkie te pak.

Metode

1. Plaas olie in ‘n groot kastrol met ‘n deksel en versprei oor die bodem van die kastrol.

2. Strooi springmieliepitte in ‘n enkellaag op die bodem van die kastrol. Sit die deksel op en verhit oor matige hitte.

3. Die pitte begin so na 4-5 minute spring, maar dan moet jy dit goed dophou. Moenie die deksel afhaal nie, want dan spring die mielies uit. Loer net vinnig of dit nie brand nie, of keer ‘n sif om oor die kastrol, in plaas van ‘n deksel – dan kan jy mooi sien wat binne-in aangaan.

4. Jy sal hoor wanneer die mielies ophou spring. As alles of meeste daarvan gespring het, kan jy die kastrol van die hitte afhaal. (Nie al die pitte spring altyd nie.)

5. Meng die sout en kruie of speserye saam en strooi oor die warm springmielies. Meng deur en sit onmiddelik voor. Moenie die deksel op die kastrol los nie, want dit sal stoom en die springmielies pap maak.

6. Laat afkoel en hou in ‘n lugdigte houer, selfs as jy dit vir ‘n kosblik inpak – gebruik dan ook ‘n lugdigte bakkie of bind dit in ‘n plastieksakkie toe.

Wenke

1. Die slaaisous sal vir ‘n week in die yskas hou en kan ook as marinade vir hoender of vis gebruik word.

2. Vervang makriel met tuna, as die kinders dit sal verkies.

Pin It on Pinterest

Share This