Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Tamatiesop en hawermoutkoekies

Jul 11, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Tamatiesop met kekerertjies (resep uit Cooking from the heart)

ClemenGold salsa

Cecilia’s Farm hawermoutkoekies

Hierdie week is daar drie heerlike resepte wat ek graag wil deel. Die sop is ‘n resep uit Cooking from the heart se tweede resepteboek, waarin ons veral gefokus het op idees vir ontbyt, peuselhappies en dan middagetes. Wanneer mense ‘n gesonde leefstyl begin volg, is dit juis soms hierdie etes waar die probleme begin, want sommiges is te haastig om ‘n ordentlike ontbyt tee et, ander weet nie waaraan om te peusel nie of as jy teen middagete agterkom jy is honger en niks ingepak het nie, is die wegneem-opsies by die werk of af in die straat van die kantoor soms die enigste manier om die hongerte te stil.

Die tamatiesop (lekker gesonde koesterkos) is vinnig en maklik om te maak en eintlik baie veelsydig, want jy kan ‘n verskeidenheid van proteïene daarin gebruik om dit vullender te maak. Dit kan ewe maklik ‘n vegetariese ete wees. Die sop is ‘n uitstekende voorbeeld van die tipe resepte wat in die reeks resepteboeke van Cooking from the heart is, want dis met alledaagse bestanddele gemaak, veelsydig, lekker en boonop gesond. Daar is nie onnodig baie sout in nie en die vinnige metode om die groente eers te soteer, gee dit sommer ekstra geur. As jy liewer ‘n blikkie tuna of van gisteraand se vleis of hoender daarby wil roer, is dit ewe lekker. Jy kan ook ‘n groot hoeveelheid van die sop vooraf kook en dit in middagete-porsies vries om dan saam te neem werk toe. Of maak ‘n dubbele resep vir aandete en hou genoeg vir middagetes. Ja, jy het ‘n manier nodig om dit warm te maak, maar as daar nie ‘n kombuis of mikrogolf beskikbaar is nie, kan jy dit in ‘n warm fles, wat jy net vir sop gebruik, saam neem werk toe. Cooking from the heart se hele filosofie is juis om dinge vir jou makliker te maak om ‘n gesonde, gebalanseerde leefstyl te volg. Vir meer resepte en praktiese raad, besoek hul webwerf of Facebook-blad.

In die winter is sop, bredies en ander warm geregte aan die orde van die dag. Soms vergeet ons om dan ook genoeg vars produkte te eet. Of dalk raak jy soos ek ook soms lus vir iets ‘vars’, maar is nie noodwendig lus vir ‘n tipiese slaai nie. Dan is hierdie ClemenGold salsa net die antwoord.

ClemenGold is nou in seisoen – die soet madaryn, wat deel is van die sagte-sitrus familie. Dis heerlik sappig, skil maklik en het amper geen pitte nie. Kyk uit vir die druppelvormige swart plakker met die ClemenGold-handelsmerk daarop om verseker te wees dis net pure kwaliteit. Die vrugte word aan die boom ryp, wat beteken dat die perfekte balans tussen soet en suur verkry is. Juis daarom is die sitrus perfek vir hierdie salsa, want die sap in die vrug dien ook sommer as natuurlike slaaisous en is veral heerlik saam met komkommer en kool. ‘n Lekker manier om genoeg vitamiene en minerale in die wintertyd by jou etes in te sluit en verkoues te beveg. Besoek hul webwerf vir meer inligting oor ClemenGold.

Dis vakansie en vir baie is dit sinoniem met tyd om iets te bak. Alhoewel gebak meestal iets is wat ons in kleiner porsies moet eet, bly dit die gesondste opsie om self te bak, want dan weet jy mos presies wat gebruik word en kan jy dit so gesond as moontlik hou. As jy van hawermoutkoekies hou, moet jy dié resep beslis nie misloo nie. Ons het die resep onlangs spesiaal vir Cecilia’s Farm se fantastiese reeks gedroogde vrugte en neute ontwikkel en was dit nou lekker. As ek myself nie keer nie, sal ek hopeloos te veel van die smullekkertes eet. Die een probleem met koekies, is dikwels die hoeveelheid suiker daarin. Maar ons kon aansienlik minder suiker gebruik, omdat die Cecilia’s Farm droëvrugte ‘n natuurlike soetheid bydra en die koekies ekstra spesiaal maak. Die droëvrugte sit soos klein juwele in die koekies en maak dit, soos die Engelse dit sal beskryf, ekstra ‘chewy’. Die kombinasie van hawermout, kaneel, droëvrugte en amandels is iets wat jou lank gaan by bly. Die wye reeks droëvrugte en neute van Cecilia’s Farm is regtig veelsydig en die beste kwaliteit. Ek is ook gaande oor die mooie verpakking met ‘n pragtige plaastema. Daar is bekende gunstelinge in die reeks en ook gereeld nuwe produkte. Gaan kyk vandag nog na hul aanlyn-winkel EN die spesiale aanbod vir #Kosblik-kykers. Gratis aflewering PLUS 10% afslag – dis nie te versmaaie nie. Besoek dit sommer nou en gebruik die koepon-kode: kosblik2016 vir die aanbod.

Die koekieresep is ook regtig maklik en iets waarmee die kinders maklik kan help of laat ouer kinders hulself met ‘n bak-aktiwiteit besig hou. Dis moeilik, maar hou maar matigheid voor oë as dit by porsies van die koekies kom – dan hou die baksel ook sommer langer.

Resepte

Tamatiesop met kekerertjies

Resep uit Cooking from the heart

Lewer 6 porsies

Cecilia’s Farm hawermoutkoekies

Die beste ooit

Lewer 25-30 koekies

Bestanddele

10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie

1 ui, fyngekap

2 wortels, in blokkies gesny

10 ml (2 t) fyngerasperde vars gemmer

4 selderystingels met blare, in skyfies gesny

30 ml (2 e) gedroogde gemengde kruie of origanum

2 lourierblare

2 x 410 g-blikke gekapte tamaties

1 x 410 g-blik kekerertjies, gedreineer

1 liter (4 k) water

5 ml (1 t) suiker (opsioneel)

2,5 ml (½ t) sout

suurlemoensap en swartpeper na smaak

Bestanddele

250 ml (1 k) steengemaalde koekmeel

5 ml (1 t) bakpoeier

2,5 ml (½ t) koeksoda

5 ml (1 t) gemaalde kaneel

180 ml (¾ k) bruinsuiker

180 ml (¾ k) botter

1 eier, geklits

10 ml (2 t) vanieljegeursel

500 ml (2 k) gerolde hawermout

60 ml (¼ k) gemaalde amandels

125 ml (½ k) gekapte amandels

150 ml Cecilia’s Farm Turkse appelkose of Colourburst™ nektariens

45 ml (3 e) Cecilia’s Farm rooi bosbessies (Cranberreis) of bloubessies (Blueberries)

Metode

1. Verhit die olie oor matige hitte in ‘n groot kastrol en braai ui, wortels, gemmer en seldery vir ‘n paar minute.

2. Voeg kruie by en braai vir nog ‘n paar minute. Voeg lourierblare, tamaties, kekerertjies, water en suiker (indien gebruik) by en prut oor ‘n lae hitte vir 30 minute of tot die groente gaar is.

3. Voeg die sout by en geur na smaak met suurlemoensap en peper. Sit warm voor met of ‘n handevol neute en die ClemenGold salsa.

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer 2 bakplate met bakpapier uit.

2. Sif meel, bakpoeier, koeksoda en kaneel in ‘n mengbak.

3. Klits die suiker en botter in ‘n aparte mengbak saam tot net glad. Klits die eier en vanielje by.

4. Roer die meelmengsel, hawermout en gemaalde amandels by die bottermengsel tot ‘n sagte deeg vorm.

5. Roer die meelmengsel, hawermout en amandels by die bottermengsel om ‘n sagte deeg te vorm.

6. Voeg die res van die bestanddele deur. Rol deeg in klein balletjies en druk op die bakplate met jou handpalm plat.

7. Bak 15-18 minute of tot goudbruin. Laat op ‘n afkoelrakkie afkoel en hou in ‘n lugdigte houer.

Wenke

1. Sit die sop voor met ‘n lepelvol jogurt, vars kruie soos Italiaanse pietersielie of origanum of skyfies avokado.

2. Roer oorskiet-vleis soos hoenderrepies of gevlokte vis by die sop vir ‘n vullende ete. Of vervang kekerertjies met enige geblikte bone van jou keuse.

Wenk

Voeg enige gedroogde vrugte of neute van die Cecilia’s Farm reeks by die koekiemengsel. Sny groot stukke vrugte in kleiner stukkies en gebruik dieselfde totale hoeveelheid vrugte en neute as in die resep.

ClemenGold salsa

ClemenGold wiggies, komkommer, feta, fyngesnyde kool, pampoensaad – in blokkies gesny en gemeng. Geen slaaisous is nodig nie, want die vrugte se sap is perfek en heerlik geurig daarvoor.

Sit die bestanddele waarvan kinders sal hou in aparte bakkies as jy dit moet inpak en hulle nie die salsa sal geniet nie.

Pin It on Pinterest

Share This