Subscribe to Posts

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Karringmelk-en-kaasmuffins

Jul 4, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Karringmelk-en-kaasmuffins (resep uit Cooking from the heart)

Biltongstokkies

Heel ClemenGold en komkommerrepies

Waterbottel

Cecilia’s Farm Mango Chunks snack pack

Dis vakansietyd, so hierdie week se Kosblik-idee is ewe handig as ete by die werk of vir padkos as jy en jou gesin dalk oppad is iewers heen. Dit is selfs lekker idees vir kinders wat by die huis is en sommer lus het vir iets gesond om aan te smul.

As ‘n gesonde leefstyl nou al deel is van hoe julle as gesin graag eet, is dit maklik om selfs oor naweke of tydens vakansies, gesond te eet, al eet julle dalk meer uit of bederf julle julself van tyd tot tyd met iets spesiaal. Die belangrike ding is om ‘n lekker verskeidenheid van bestanddele te eet en so ver as moontlik ‘n gebalanseerde bord kos te eet. Daar moet dus verkieslik altyd ‘n proteïen, onverfynde stysel, vars bestanddele en ‘n gesonde olie wees.

Die resep vir hierdie week, is ‘n kaasmuffin wat met karringmelk gemaak word. Die karringmelk gee die muffins ‘n heerlike tekstuur en beteken dat daar nie nog olie in die mengsel nodig is nie. Die kruie en kaas maak dit lekker geurig, wat beteken dat dit ewe lekker as deel van ‘n maaltyd of vir ‘n peuselhappie geniet kan word.

Gebalanseerde maaltye, in matige porsies en met ‘n goeie verskeidenheid van bestanddele, bly een van die beginsels wat in Pharma Dynamics se reeks resepteboekies, Cooking from the heart, prakties toegepas word. Dié projek probeer regtig mense help om gesond te eet en dit ‘n leefstyl te maak. Word deel van hul Facebook-gemeenskap en kry elke dag praktiese idees, wenke en resepte om jou daarmee te help

Onthou ook dat gesonde tuisgebak die beste manier is om te weet wat in jou gesin se etes is. Die muffins is iets waarmee die kinders ook kan help en ‘n uitstekende manier om hulle geinteresseerd te kry in gesonde kos. As jy wel iets koop wat vooraf berei is, kom in die goeie gewoonte om die etikette te lees.

Sitrus en winter is sinoniem en as jy al ‘n ClemenGold mandaryn geëet het, dan sien jy beslis uit na hierdie jaar se seisoen. Die helderoranje vrugte is deel van die sagte-sitrus familie, sappig en soet en ‘n gesonde vrug om sommer winterverkoues weg te hou. Dit skil baie maklik en het gewoonlik redelik min pitte, wat dit nog lekkerder maak om in te pak en iewers te eet. Lees meer oor ClemenGold op hul webwerf.

Een van my gunsteling-produkte om aan te peusel, is Cecilia’s Farm se reeks topgehalte droëvrugte en neute. Daar is ‘n wye verskeidenheid om uit te kies en jy kan verseker wees van die beste kwaliteit. Die mooie verpakking is al genoeg om my opgewonde en lus te maak. Dis beslis beter om aan te knibbel as ‘n sjokolade. Saam met dié week se kosblik kan jy smul aan gedroogde mango-stukkies of ‘n mengsel van mango en appelkose is ewe lekker. Maar gaan loer gerus op hul aanlynwinkel na alles wat beskikbaar is en onthou om die kodewoord kosblik2016 te gebruik vir jou spesiale afslag.

Resepte

Karringmelk-en-kaasmuffins

Resep uit Cooking from the heart

Lewer 12 muffins

Bestanddele

750 ml (3 k) koekmeel

60 ml (¼ k) semels

15 ml (1 e) bakpoeier

500 ml (2 k) karringmelk

30 ml (2 e) water

1 eier, geklits

15 ml (1 e) gedroogde gemengde kruie of gekapte vars pietersielie

2,5 ml (½ t) sout

125 ml (½ k) gerasperde Cheddarkaas

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n muffinpannetjie liggies met olie.

2. Meng al die droë bestanddele saam in ‘n groot mengbak. Maak ‘n holte in die middel en roer die eier, water en karringmelk met die kruie, sout en helfte van die kaas by.

3. Roer net tot ‘n sagte beslag vorm. Skep beslag in die muffinpannetjie en sprinkel die res van die kaas bo-oor.

4. Bak 20-25 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom. Laat op ‘n afkoelrakkie afkoel.

Wenke

1. Maak ‘n groot brood met dieselfde mengsel. Skep beslag in ‘n 1,5 liter-broodpan en bak 30-45 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom.

2. Voeg enige kruie of geurmiddel van jou keuse by die mengsel. Gekapte uie, vars tiemie, paprika of cayenne peper is heerlik.

Pin It on Pinterest

Share This