Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Tunabroodjie

Jun 27, 2016 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart

Toebroodjie met tuna, Westfalia Guacamole en slaaibestanddele

Komkommer, plat-ertjies en pere

Carmién tee granola as ’n peuselhappie

‘n Toebroodjie is dikwels die basis van meeste kinders (en grootmense) se kosblikke. Behalwe vir die feit dat dit nogal vervelig kan word, is te veel brood beslis nie ‘n goeie idee nie, veral omdat dit dikwels beteken dat ‘n mens te veel verwerkte stysel en ook te veel koolhidrate eet. Maar ‘n toebroodjie van tyd tot tyd, is ‘n lekker kosblik-ete, want ‘n mens kan wel goeie keuses maak en verskillende gesonde vulsels daarop sit. Die een belangrike ding is dat jy die regte keuse met die brood moet maak. Hoe minder verfyn of verwerk, hoe beter. Witbrood en volkoringbrood se kilojoules kan baie soortgelyk wees, maar die hoeveelheid vesel en ander voedingswaarde daarin kan nogal drasties verskil. So as jy gesonder wil eet, is ‘n sny witbrood dalk net ‘n klomp leë kilojoules wat jou dikwels ook gou weer laat honger voel.

As jy dus wel besluit om soms ‘n toebroodjie in te pak, is hierdie resep van vandag ‘n heerlike opsie. Volgraanbrood of selfs ‘n growwe brood met sade en ekstra vesel kan ‘n heerlike basis wees. Dit wat as vulsel gebruimword, moet verkieslik steeds ‘n gebalanseerde  maaltyd vorm. In hierdie geval is dit tuna met slaaibestanddele en guacamole (avo-smeer).

Westfalia se reeks guacamoles is heerlik om groenterepies en ander vars bestanddele in te doop, maar ook ideaal om in plaas van botter op brood te gebruik. Die omega-olies daaarin maak dit regtig gesond en ‘n belangrike element van ‘n gesonde leefstyl. Verder pas avokado by soveel ander geure, dat dit saam met meeste vars bestanddele en proteïene geniet kan word. Daar is 4 geure in die Westfalia-reeks, Gewoon (ongegeur), Spicy, Sweet-chilli en Biltong. Kies die geur wat die lekkerste saam met jou vulselbestanddele gaan proe.

Hierdie reeks guacamoles vries baie goed, so nou kan jy heeljaar avokado deel maak van jou etes en toebroodjies, want dis net so lekker saam met eier, sop, peule en lensies  of vleisgeregte. Die guacamoles is in meeste supermarkte beskikbaar. Lees meer oor Westfalia se produkte op hul webwerf.

Pharma Dynamics se projek Cooking from the heart, om mense aan te moedig om gesonder te eet en te leef, het al baie mense se lewens verander. Die een faktor wat dit makliker maak, is die praktiese aanslag en maklike gesinsresepte is die reeks van drie resepteboeke. Daar is iets vir elkeen se smaak en die bestanddele is bekostigbaar en maklik om in die hande te kry. Die resepteboekies is gratis beskikbaar op hul webwerf vir enige een om af te laai.

Een van die beginsels wat in Cooking from the heart gevolg word, is om gebalanseerd en gesond te eet. In die tweede boek in die reeks, word daar juis heelwat idees vir middagetes gegee omdat so baie mense iets moet inpak werk of skool toe. Daar is dus ‘n hele paar dinge om as alternatief vir brood in te pak en hoe om goeie keuses te maak. Dit is bv. belangrik om vir middagete verkieslik iets gesond te eet wat jou tot die volgende maaltyd versadig gaan hou, sodat jy so min as moontlik lus word vir tussen-in peusel aan ongesonde goed. Verder is onverfynde stysels iets wat vermy moet word en vars vrugte en/of groente moet ook altyd deel wees van ‘n ete. Kry al hierdie lekker wenke en resepte op www.cookingfromtheheart.co.za of volg hul Facebookblad om gereelde wenke en praktiese idees te kry.

Een van die ander fokuspunte in Cooking from the heart, is dat ons almal soms lus het vir peusel. Dit as sulks is nie verkeerd nie, maar dit bly belangrik om gesonde keuses te maaak as die lus om aan iets te knibbel jou beetpak. Baie mense raak laatmiddag lus vir iets soets en as jy dan ‘n gesonde keuse kan maak, maak jy nie al jou ander pogings om gesond te eet ongedaan nie.

Ek het al baie met Rooibostee gekook, maar die granola wat ons vir hierdie week se kosblik-peuselhappie gemaak het, gaan beslis ‘n gereelde ding in my kombuis word. Dis so maklik om te maak en dis lekker veelsydig ook. Carmién tee het ‘n opwindende reeks teegeure en dis nie net lekker om te drink nie, maar perfek om as geurmiddel in kos te gebruik. Die natuurlike geure kan vir ‘n verskeidenheid geregte gebruik word en die tee bevat geen kaffeïene nie en is vol antioksidante.

Die Vintage Romance Carmien geur is baie spesiaal en as jy die geur vir die granola gebruik, is geen suiker nodig nie, alhoewel die mengsel wel ‘n heerlike soet geur het. Dis ‘n delikate mengsel van Rooibos en blomblare, in die fynste teesakkie. Ek geniet hierdie teewarm as ‘n koesterdrankie en koud, is dit die perfekte ystee met geen suiker in nie. Die granola is ook vinnig om te maak, so berei sommer genoeg om ‘n fles of twee vol te maak. Gebruik dit as peuselhappie, om oor jogurt en vrugte vir ontbyt te eet of selfs as gesonde nagereg oor bessies.

Onthou dat water en ander gesonde opsies om te drink net so ‘n belangrike deel van ‘n gesonde leefstyl is. As jy in die koue maande sukkel om genoeg water te drink, is Carmien se tee perfek. Pak ‘n interessante teesakkie of twee in om by die werk te drink.

Resepte

Slaaibroodjie met tuna en guacamole

Resep aangepas uit Cooking from the heart

Lewer 4 porsies

Carmién tee granola

Lewer 500 ml granola

Bestanddele

1 x 200 g Westfalia gewone Guacamole of Sweet-Chilli geur

8 snye volkoring- of bruinbrood

1 x 170 g blik tuna in water, gedreineer

¼ komkommer, in skyfies gesny

1 tamatie, in skyfies gesny

1 wortel, grof gerasper

handvol slaaiblare

Bestanddele

3 Carmién Vintage Romance teesakkies

125 ml (½ k) kookwater

60 ml (¼ k) Westfalia avokado-olie of olyfolie

10 ml (2 t) gemaalde kaneel

500 ml (2 k) gerolde hawermout

125 ml (½ k) amandels, gekap

60 ml (¼ k) pampoensaad

125 ml (½ k) sonneblomsaad

250 ml (1 k) gedroogde bosbessies of rosyntjies

Metode

1. Smeer die guacamole op 4 snye brood. Skep tuna bo-op en plaas slaaibestanddele bo-op.

2. Sit die orige snye brood bo-op, sny deur en verpak in waspapier om dit vars te hou.

3. As jy nie die broodjie vooraf wil berei nie, kan die bestanddele apart ingepak word en die toebroodjie eers met ete ‘gebou’ word.

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ‘n bakplaat met bakpapier.

2. Plaas teesakkies in ‘n beker en skink kookwater oor. Laat tot baie sterk trek en verwyder teesakkies.

3. Voeg olie en kaneel by die tee en meng goed.

4. Plaas die res van die bestanddele in ‘n groot bak en roer die teemengsel deur tot goed gemeng.

5. Skep in ‘n enkellaag op die bakplaat en bak 15-20 minute of tot goudbruin. Roer ‘n paar keer deur om te verhoed dat dit aan die kante brand of te bruin word.

6. Laat heeltemaal afkoel en bêre in ‘n lugdigte houer tot benodig. Gebruik as peuselhappie in ‘n kosblik of sprinkel oor jogurt vir ontbyt of slaaie vir ‘n interessante tekstuur.

Wenk

1. Gebruik dieselfde bestanddele as ‘n vulsel in ‘n volkoringpita, – wrap of broodrolletjie.

Wenk

Hierdie maklike granola is nie net gesond nie, maar ook regtig veelsydig om te gebruik. Hier word dit as peuselhappie gebruik, maar sit dit voor met vrugte en jogurt vir ontbyt of selfs as gesonde nagereg. Dit is net so lekker as slaai-sprinkel oor ‘n vars slaai of selfs geroosterde groente.

Pin It on Pinterest

Share This